Tuesday, 17 September 2013

Die man, sy boerbok, sy haan en die onverwagte besoeker

fotobron
Net toe hy op die punt was om ‘n eenvoudige maal van ‘n lekseltjie suurpap te geniet, ontvang die man onverwags besoek van ‘n goeie ou vriend wat hy in geen jare gesien het nie. Met die dat dit nou al maande lank broekskeur gaan op die klein lappie aarde waaruit hy ‘n bestaan moet maak, is daar onder die son niks voor  hande waarvan hy ‘n feesmaal kan berei nie. Hy besluit toe maar om die allerlaaste boerbok wat daar nog op sy werf oor is, te slag. Hierdie boerbok is egter nie op haar bek geval nie; sy laat sommer dadelik van haar hoor en smeek by die man om haar nie te slag nie: “Dink tog net bietjie verder as wat jou neus lank is – waar gaan jy miskien vorentoe melk vandaan kry om jou pap mee te eet? Spaar jy my lewe, kan ek nog lank na jou omsien, maar speel jy vandag met my klaar, lei jy volgende week groter gebrek.” So laat los die man toe maar die ou ooi en besluit om eerder sy haan vir die feestafel te slag. Die haan gee een lang, vet benoude kreet van waar hy op ‘n tak sit en sê: “As jy my sou dood maak, hoe sal jy langer weet hoe lank dit nog is na daglig toe – ek is immers die een wat jou smorens laat weet hoe laat dit is. Wie sal jou soggens aan elke nuwe dagtaak herinner, wie sal sorg vir nuwe kuikens op die werf, kry jy eers vir my ‘n hennetjie in die hande?” “Inderdaad,” kom dit van die man, “dis gerieflik om te weet hoe laat dit is, lieflik om die vooruitsig van ‘n hoenderboerdery te hê; desnieteenstaande dit moet my goeie ou vriend steeds iets kry om te eet.”

 

Thursday, 12 September 2013

Die mier en die sprinkaan



Die variasie op gister se fabel wat vasgesteek het:
 
Gedurende die wintermaande het ‘n mier oorleef op die graan wat hy gedurende die somermaande vir homself vir later opsy gesit het. ‘n Sprinkaan kom klop toe bakhand aan met die versoek dat die mier van sy kos met hom moet deel. Die mier wil toe weet: “En wat het jy die hele somer lank gedoen – aangesien jy duidelik nie besig was om kos op te gaar vir later se eet nie?” Die sprinkaan antwoord toe:  “Omdat ek so lekker gesing het, het ek nie nog tyd gehad om aan oes ook te dink nie.” Die mier kon maar net vir die sprinkaan se antwoord lag en haar voedselvoorraad nog verder onder die grond gaan wegsteek. “Omdat jy die hele somer soos ‘n sot om gesing het, moet jy nou maar self sien-kom-klaar om die ganske winter op eie beentjie om te dans.”

Hierdie fabel beeld lui, sorgelose mense uit wat hul tyd en energie op beuselagtighede verkwis en sodoende later gebrek lei en op baie uitmis.
 

Tuesday, 10 September 2013

Die mier en die miskruier


fotobron

Om proviand vir die winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye agter allerhande soorte graankorrels aangeskarrel. ‘n Miskruier wat tyd had om die mier dag-in en dag-uit dop te hou, het tot die gevolgtrekking gekom dat die mier ‘n hoogsongelukkige stomme drommel moet wees, juis oor hy die ganske dag om moes werk en homself nie eers een keer, soos alle ander diere, ‘n oomblik van rus gegun het nie. Maar aan die miskruier se gevolgtrekking het die mier hom nie gesteur nie; op die miskruier se snedige opmerkings het hy geen ag geslaan nie. Kom die winter egter, en die deel van die land se eerste reënbuie spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier en almal wat van hom afhanklik is, hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is:  “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd, terwyl ek besig was, met my die spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by my te kom bedel nie!”

Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.
 
Ons het genoegsaam rede om die vorige generasies se entomologiese kennis rondom miskruiers te bevraagteken. Ek wonder egter elke keer verder waarom hierdie weergawe in onguns verval het, maar die een rondom die sprinkaan vas bly staan het.
 
 

Friday, 6 September 2013

Die boer, sy hoenders, die jakkals en die hond


fotobron

Daar was ‘n sekere boer wat ‘n aardige hoeveelheid hoenders op hok gehou het. Daar kom toe van tyd tot tyd ‘n jakkals verby wat onder sy pluimvee inspring en afmaai. Die man sit met sy hande in sy hare – hy weet toe nie wat om te doen ten einde die situasie te beredder nie. Ten einde laaste kry hy vir hom ‘n hond in die hoenderhok – maar hierdie hond het met sowel die jakkals as die laaste haan en hen ook, afgereken.

Thursday, 5 September 2013

Die boer en die luiperd



fotobron

Na die besluit  dat daar dadelik korte mette van haar gemaak word, pleit die luiperd by die boer wat haar gevang het: “Spaar tog maar my lewe – ek is immers die skepsel wat met die verpestelike jakkalse en ander kleiner roofdiere wat so lelik verwoesting onder die lammers op jou plaas saai, afreken. “As dit maar in my belang was, dat jy onder die pestilensies afgemaai het,” kom dit van die man, “sou ek jou lewe maar al te graag gespaar het. Maar nou is dit ongelukkig ‘n feit dat jy suiwer jou werk doen om nie net die jakkalse en rooikatte op te kan vreet nie, maar ook elke laaste lammer waarin hulle hul slagtande sou gesink het, was hulle nog in die lewe. So moenie op dankbaarheid van my kant reken vir die sogenaamde gunsies waarop jy my trakteer nie!” En toe is dit die einde, nie net van die boer se woorde nie, maar ook van die luiperd.

Jy sal jouself maklik in hierdie storie herken, as jy een van die mense is wat jou eie belange dien terwyl jy ewe skynheilig aan die ander voorgee dat dit alles eintlik in hulle belang is.

Tuesday, 3 September 2013

Die leeu en die blouapie


fotobron

‘n Woedeuitbarsting, grensend aan waansin, neem van die Leeu besit. ‘n Blouapie wat die hele gedoente op veilige afstand en hoogte vanuit ‘n reuse koorsboom gadeslaan, sê vir homself: “O, gedoriewaar, die gort is nou propperlies gaar! Noudat sy majesteit eers só goed opgeklits is, sal g’n niks en niemand hom meer kan keer nie – en hy was hoeka al meer van 'n kalant as waarteen ons opgewasse kon wees, en dit lank nog voor hy van sy trollie afgeklim het.”

Monday, 2 September 2013

Koning Leeu en onderdaan Bobbejaan

fotobron

Nadat Leeu homself as die koning van die diereryk aangestel het, wou hy vir homself naam maak as ‘n billike en regverdige heerser.  Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en geregtigheid tot op die laaste letter te laat geskied, sy dieet aansienlik aangepas het en sy lyf die van ‘n wafferse herbivoor begin hou het. Natuurlik kon hy nie die roofdier wat deur sy are vloei, afsterf nie. Hy het toe bloot begin om die een na die ander dier in te roep vir ‘n geheime ontmoeting met hul kroon. By hom aangekom, blaas hy dan sy walglike stink asem in hul gesigte sodat elk ‘n oordeel kan fel:  stink die koning se asem, of stink die koning se asem nie. Van daar af is dit eenvoudig:  sê jy die koning se asem stink, word jy opgevreet; sê jy dit stink nié, lieg jy en word jy óók opgevreet. Nadat hy op hierdie manier sommer gou met ‘n hele paar van sy onderdane afgereken het, het hy hom tot Bobbejaan gewend om na die huidige gesteldheid van sy halitose te verneem. Bobbejaan is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en meld summier dat die kroon se bek die eksotiese geur van kosbare kaneel adem, so asof sy palatum ‘n altaar vir die gode is. Na dié groot omhaal van soete woorde voel Leeu toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net so vir sommer bokveld toe te stuur. Hy kom gevolglik met ‘n nuwe strategie vorendag: hy maak kwansuis of hy vreeslik siek is en die hele span koninklike dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die lastige naarheid op hul heer en meester se maag voor. “Konings mag dan seker maar eet wat hulle wil,” kom dit berekend van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan bobbejaan vleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie, toe is dit klaar met kees, hy word net daar en dan om die lewe gebring om die koning op die pad van ‘n spoedige herstel te plaas.”

Of jy nou jou mond dig gesluit hou, en of jy jou bek rek – dis om het ewe, jou gat sal jy sien, so seker as wat jy nou hierdie woorde lees of hoor.

Friday, 30 August 2013

Die paddas en die vegtende bulle



Dis die laagste van die laagstes wat die meeste daaronder lei as die grote en hogere kokkedore eers die dag onder mekaar inklim en lelik koppe stamp.

‘n Padda het van oor ‘n groot afstand, met slegs haar oë wat net-net bo die wateroppervlakte van die poel waarin sy bly, uitsteek, die verbete stryd tussen twee vegtende bulle dopgehou. “O, nee,” roep sy uit, “berge val op my, heuwels bedek my en aarde sluk my in – die onheil is op ons!” ‘n Ander padda wil toe weet waar op deeske aarde sy aan die kamstige onheil kom, inaggenome veral die feit dat die twee befoeterde bulle in ‘n leierskapstryd binne hul eie trop, en boonop baie ver van die paddas se poel af, gewikkel was. Die bykans geknakte padda verduidelik toe:  “Hoewel hulle dáár bly en ons hiér, en hoewel hulle beeste en ons paddas is, weet ek nou al voor my heilige siel dat die verloorder onder daardie twee uit die grasveld verdryf gaan word en hier by ons in die moeras sy wonde gaan kom lek. En wie is dit wat dán onder sy hoewe vertrap gaan word? En dís hoekom hulle bakleiery, op ‘n afstand daar ver, vir ons hier, ‘n saak van lewe en dood is."

Wednesday, 28 August 2013

Die ou man, die donkie en die stel saalsakke



Behalwe dat die een wat Klaas as “Baas” moet aanspreek, ‘n ander gesig gekry het, hou ‘n regeringsverandering vir geen Klaas ‘n enkele ander verandering in nie.

‘n Ou man is met sy donkie die dorpie uit en die vlaktes in. Met die eerste tekens dat ‘n vyandelike opmars inderdaad meer as net gerugte is, skrik die ou man hom uit sy geloof uit. Hy spoor die donkie aan om so vinnig as wat sy bene hom toelaat, weg te hardloop sodat hulle nie per dalkies in die verkeerde hande val en gevange geneem word nie. “En sê net bietjie vir my,” wil die donkie toe heel koppig weet, “ dink jy miskien vir een oomblik ‘n nuwe veroweraar gaan my nou skielik met twee of meer stelle saalsakke in plaas van een kan opsaal?” Die ou man antwoord natuurlik ontkennend, waarop die donkie afhaak:  “So watter verskil gaan dit nou aan my maak wie my meester is – ek sal altyd ‘n sware stel saalsakke moet dra, ongeag die naam of die gesig van my baas.”

Friday, 23 August 2013

Die esel en sy meesters


fotobron

Daar was hierdie esel wat deur ‘n bestaansboer op sy lappie grond aangehou is.  Omdat hierdie boer die esel sekere tye van die jaar baie hard laat werk het, en dit met min kos die kere sodat dit swaar gegaan het, het die dier hom hemelwaarts gewend en gesmeek om asseblieftog net van ‘n ander meester voorsien te word. So beland die esel toe nie lank daarna nie in die hande van ‘n rondreisende handelaar – maar hierdie toedrag van sake was vir die esel nog minder aanvaarbaar. Nou moes hy nóg groter en swaarder vragte as van te vore dra, en dit oor veel verder en gevaarliker paaie as voorheen, daarby. Weer wend hy hom tot waar sy hulp vandaan kom. Weer word daar ag geslaan en bevind die esel hom ‘n enkele saketransaksie verder in diens van nog ‘n nuwe heer en meester, hierdie keer ‘n leerlooier van nering. Maar o, liewe aarde, toe die stomme donkie eers sien waarmee hierdie nuwe baas van hom sy brood en botter verdien, roep hy uit: “O, wee, ek sou, tot die dood toe oorwerk en tot sterwens toe uitgehonger, beter daaraan toe gewees het, uitgelewer in die kloue van enige een van my vorige meesters! Hier waar ek myself nou bevind, gaan hulle my nog lewendig afslag ook as ek die dag eers dood is, en ek gaan beslis geen ordentlike begrafnis hê nie!”

Die storie wys maar net dat ons ons vorige base die meeste mis, sodra ons die nuwes beter en van nader leer ken het.

Thursday, 22 August 2013

Die Wildedonkie en die pakdonkie


fotobron
‘n Wildedonkie sien die pakdonkie waar hy rustig in sy kampie staan en kou aan die allerlieflikste graskos wat in ‘n trog vir hom voorgesit word. Hy staan grootoog nader en komplimenteer die pakdonkie op sy voortreflike toestand en sigbare goeie gesondheid. Maar nie lank daarna nie sien die wildedonkie weer die pakdonkie – hierdie keer nie in die son aan die peusel nie, maar met ‘n sware vrag op sy rug, gebukkend ook onder die sweepslae van sy aandrywer aan die voortsukkel mark toe. Dis toe dat die wildedonkie tot die volgende slotsom kom:  “Daar is nie ‘n manier dat ek óf jou gunstige omstandighede of jou tiptop kondisie verder gaan bewonder nie, veral nie nadat ek nou die prys gesien het wat jy moet betaal om so voortvarend daar uit te sien nie.

Tuesday, 20 August 2013

Die pakdonkie en die wildedonkie



‘n Wildedonkie sien ‘n pakdonkie gebukkend onder sware vrag voortstu en begin summier die spot met hom dryf: “Hoe gelukkig is ek nie – ek kon myself lankal by jou en jou soort aangesluit het, myself uitverkoop het om verkneg te word, maar hier is ek, is vry van gevangeskap. Ek hoef my nie aan ‘n ander af te sloof vir oorlewing nie – ek het die oopte van die grasvlaktes en die vryheid van die golwende groen heuwels. Jy, aan die ander kant, is op iemand anders aangewese, selfs om jou te voer; dit terwyl jy boonop uitgelewer is aan slawerny en sweepslae wat daglank op jou reën.” Op hierdie punt sluit ‘n leeu ongemerk op die toneel aan. Maar, met die pakdonkie se eienaar wat gewapen vlak langs hom staan, het hy niks aan hom gedoen nie. Die wildedonkie, op sy beurt, het vingeralleen gestaan toe die pakdonkie en sy drywer langs ‘n draai in die stofpad verdwyn – hy is aangeval, is korte mette van gemaak en moes in die stof byt alvorens hy ‘n koningsmaal geword en verorber is.

Monday, 19 August 2013

Pou stel homself beskikbaar as koning


fotobron
 

Op ‘n massasaamtrek van ‘n groot spul geveerde vriende is eendag lank en gewigtig vergadering gehou en hewig gedebatteer oor wie onder hulle dan nou die beste leier sou uitmaak. Hier teen die einde se kant is ‘n spoggerige pou toe van mening dat hy die beste uitgeknip is vir die rol van die koning:  “Ek is eerstens nie net in die fleur van my lewe nie, ek is op die koop toe daarby nog uitermate pragtig ook.” Terwyl die ander voëls heel inskiklik is met Pou se voorstel, kom daar van iewers uit die bondel tussen hulle ‘n raaf te voorskyn wat pou se bordjies lelik verhang: “En sê my bietjie, neef pou, as jy sou koning word, wat gaan gebeur as ‘n arend ons sou aanval? Is jy miskien sterk genoeg om sy aanval af te weer?”

Die fabel wys maar net dat leierskap niks uit te waai het met hoe spoggerig of swierig jy lyk of is nie, maar suiwer bedoel is vir diegene met uitstaande fisiese en geestelike eienskappe en trekke.

 

Die arend, die skilpad en die kraai

fotobron

Die visarend het rivierlangs gevlieg om vis te vang. Dis egter met ‘n skilpad waarmee sy  ‘n rukkie later op die oewer worstel. Haar porsie vleiskos het homself netjies in sy dop teruggetrek en al die sukkel en stoei ten spyt, is dit verniet of sy met óf haar kake óf haar kloue daarby kan uitkom.  Sy is op die punt om haar vangs eenkant te gooi, toe ‘n kraai op haar afstap en sê: “Maar dis mos koningskos daardie, Vriendin – jy kan dit onder geen omstandighede sommer net so weggooi nie!” “Hierdie maaltyd is helaas so verpak,” kom dit van die arend, “dat dit ‘n onbegonne taak is om daarby uit te kom, ek kry net mooi niks daarteen uitgerig nie.” Die sluwe kraai wat natuurlik slaggereed en met ‘n antwoord bewapen daar aangekom het, trek dadelik los met:  “As jy sou beloof om die vangs met my te deel, sal ek jou so gou soos nou wys hoe om lag-lag daarby uit te kom.” “Nou vertel my dadelik,” antwoord die arend onmiddellik en opnuut begeester, “dan sit ons tweetjies sommer saam vir die feesmaal aan.” Die uitgeslape skelm kom toe met ‘n oplossing vorendag:  “Wat jy moet doen,  is om hoog in die lug in daarmee op te vlieg. Laat los dan ons  vangs ver bo ‘n spul rotse – die harde dop sal met ‘n slag teen die rotse oopbreek, jy sal by die sagte vleis kan uitkom en jou honger bevredig.” Die arend het natuurlik ingestem en die skilpad getrou aan kraai se voorstel hoog bo ‘n spul rotse uit haar kloue laat los. Die kraai, wat onder bly wag het, het die skilpad, die oomblik toe dié homself teen die rotse te pletter spat, gegryp, opgevreet en so die arend lelik uitoorlê.

Die storie agter die storie:  Op soortgelyke wyse kan sluwe skelms die niksvermoedendes om die bos lei en met hul slinkse planne uitrig wat die stomme niksvermoedendes met harde werk en brute krag nie eers reg kan kry nie.

Thursday, 15 August 2013

Die jakkals en die arend

FOTOBRON
‘n Witkruisarend en Jakkals het op ‘n tyd dik tjomme geword. Hierdie vreemde vriendskap het ongelukkig ook maar net gehou tot die arend een mooi dag onder die jakkals se welpies ingevaar het om sy eie honger te stil. Met die dat die jakkals onder die son net mooi niks soortgelyks aan die arend kon aanrig nie, het sy maar net deurentyd gesmeek en gebid dat die wiel sal draai en reg en geregtigheid op die ou einde en korrekte tyd sal geskied. En toe, op ‘n dag, lank daarna, peil die arend uit die bloute op ‘n braaivleisvuur, vir ‘n oomblik onbewaak gelaat, af en kom weg met ‘n lywige porsie boerewors tussen haar kloue. Sy sit reguit af na haar nes vol kuikens, nie te ver van waar sy die kampeerders so onverhoeds beroof het nie . Daar, by die honger bekkies aangekom, was die worsvleis egter nog hopeloos te warm vir die swakke arendkuikens – die oomblik toe hulle dit gulsig wegsluk, het hulle die een na die ander omgedop en summier gevrek.

Hierdie fabel wys dat die swak en nietige slagoffers, wat op hul eie niks teen magtige booswigte uitgerig kan kry nie, se smeekgebede dikwels langs vreemde omweë wel bewaarheid word

Monday, 12 August 2013

Die miere en die varke

fotobron
‘n Fabel teen die ydel opgaar en bymekaar maak van materiële besittings.
Miere gaar vir hulself ‘n groot hoop graan op om gedurende die winter van te kan leef, maar op ‘n sekere punt kom die varke, krap alles deurmekaar en vreet die kos alles self op.
Dieselfde ding gebeur baie met mense:  Hulle gaar gereeld en op groot skaal op, maar dan kom die diewe, die belastinggaarders, selfs bloedfamilielede – en alles is daarmee heen; so nie, gebeur dit dikwels dat al die rykdom aan vreemdelinge nagelaat word.

Ek plaas doelbewus 'n foto van 'n mier en 'n sprinkaan. Hierdie fabel, wat uit die Middeleeue dateer, is duidelik 'n teenpool vir die alombekende een rondom die mier en die sprinkaan. Hier word die mier se spaarsug egter afgeskiet in plaas van opgehemel.

Thursday, 8 August 2013

Die miere en hul stamvader

fotobron


Lank gelede was die insek wat nou se dae as ‘n mier bekend staan, ‘n boer wat aldag en heeldag, van soggens vroeg tot sawens laat, jaarin en jaaruit, vreeslik hard aan die boer was. En tog was hy steeds nie tevrede met die vrug van al sy eie harde handewerk nie – hy het onder sy bure se oeste ook loop steel en heelwat vir homself geneem. Dié man is toe swaar gestraf oor sy gierige gulsigheid: hy en sy ganse nageslag is van gedaante verander in wat ons vandag as ‘n mier ken. Die man het wel uiterlik van aansig verander, maar kon en kan sy eertydse gewoontes na al hierdie jare nog steeds nie afskud nie – daarom dat die mier vandag nog steeds deur die landerye trek en vir homself die vrugte op ander se arbeid pluk, juis sodat hy vir sy eie gebruik op kan gaar.

Hierdie fabel wys ons dat iemand met ‘n slegte karaktereienskap of bose natuur, wel van voorkoms mag verander, maar dat sy optrede ten spyte daarvan altyd steeds dieselfde sal bly.

Die van ons wat in die Christelike tradisie groot gemaak is, vind seker almal hierdie fabel wat die ywerige mier in 'n slegte lig stel, vreemd op die oor.

Wednesday, 7 August 2013

Die man, sy kudde, die wolf en die hond



Toe die dag einde se kant toe staan, kry die man sy skape vir die nag in die kraal. Hy jaag sonder dat hy dit agter kom, ‘n baie ligte wolf saam met die kudde deur die hek. Die man se hond, wat maar al te duidelik sien wat sy baas aanvang, merk dadelik op:  “Hoe op aarde kan jy ernstig wees met die beskerming van jou skape as jy hierdie skepsel saam met die res van ons vir die nag op hok jaag!"

Tuesday, 6 August 2013

Die arend en die pyl

fotobron

‘n Storie met ‘n boogskutter wat wil wys dat dit bitter is om deur jou eie soort tot ‘n val te kom.

Die boogskutter lê aan op die arend en stuur die pyl sekuur uit sy boog. Dit klief ‘n kort oomblik deur die lug en deurboor toe die arend, wat ‘n oomblik nog gegun word om te kyk wat hom getref het. Sterwend sê hy, na hy die vere om die agterkant van die pyl opgemerk het:  “Baie is dit wat tot ‘n val kom deur juis dit wat hulle self ook opgelewer het.”

Dit herinner ook aan ons wat in Afrikaans sê dat iemand sy eie graf grawe, of ook, self ‘n lat vir sy eie gat pluk.

 

Monday, 5 August 2013

Die uil en die ander voëls




Omdat die uil oor wysheid beskik, het sy die ander voëls, die oomblik toe die eerste eikebome begin opskiet, gewaarsku dat hulle geensins die bome moet toelaat om verder te groei nie. Sy het trouens ‘n vergadering van al die voëls byeengeroep en hulle daarop gewys dat sou hulle nie hierdie bome met wortel en tak uitroei nie, die bome iets, wat later as voëlent bekend sou staan, sal oplewer – en dit beloof om iets te wees waarvan die voëls nie weg sal kan vlug nie, iets wat groot dood en verwoesting onder hulle sou saai. Ook later, toe die mens begin om vlas te verbou, die vesel wat later gebruik sou word om vangnette van te knoop, het sy die voëls aangesê om elke enkele saadjie uit te pluk en op te pik aangesien dit ook vir die voëls as ‘n groot bron van vernietiging en uitwissing gaan opeindig. ‘n Derde keer het die uil haar geveerde familie en vriende gewaarsku. Dit was toe sy ‘n man met pyl en boog sien loop het. Sy het hulle daarop gewys dat die mens hulle met hul eie vere gaan oorwin; selfs al is hy sonder vlerke met sy voete aan die aarde gebind, gaan hy geveerde pyle die lug instuur. En elke keer het die voëls geweier om ag te slaan op die uil se waarskuwings. Hulle het haar hanteer soos ‘n swaksinnige een wie se kop haar heeltemal verlaat het. Met verloop van tyd, en tot die voëls se groot skok en verbasing, het dinge natuurlik uitgedraai, presies soos die wyse uil voorspel het. Daarom ook dat die voëls, vandag nog, loop hulle ‘n uil raak, haar met eerbied en ontsag hanteer, so asof sy hul meerdere en kenner op elke gebied is. Maar die uil voorsien hul lank reeds van geen raad meer nie; al wat sy nou doen, is om te kla.