Friday 13 January 2012

Die koning en sy ape





Met die dat ape nie net sulke slim diere is nie, maar ook nabootsers van die mens en sy streke, gebeur dit toe dat hierdie koning se dieretemmers dit destyds regkry om ‘n spul van die goed te laat dans. En nie hóé nie – nes regte mense in ryklik geborduurde klere, met goue ringe aan hul vingers, tulbande op hul koppe en selfs maskers van mans en vrouens oor hul oë. Onder dawerende applous het dié geselskap ape gereeld groot vermaak aan die koning en sy gaste verskaf. Dis nou tot op die dag dat een van die gaste, platjie wat hy was, ‘n handvol neute uit sy mantel se sak kry en dít tussen die ape ingooi. En was dit nou vir jou ‘n konsternasie – die ape vergeet toe skoon van die danspassies, hulle vergeet skoon om hulle soos mense te gedra, word weer sommer net ape en begin verwoed teen mekaar meeding om kloue en kake op die neute te lê, skeur mekaar se klere en byt die een die ander se maskers en dinge aan flarde. En so eindig die hele spektakel toe in ‘n nog groter spektakel waaroor jare later steeds gesels, en mense aan herinner, word.

Saturday 7 January 2012

Die vlooi en die man




So gebeur dit toe dat ‘n vlooitjie homself eendag tuis maak op ‘n man se voet. Dadelik roep die man tot die gode om hom by te staan teen die bedreiging op sy toon, maar niks gebeur nie. Toe die vlooi uiteindelik sonder enige ingryping van die gode en totaal ongedeerd af en verder hop, kla die man: “As ek nie op hulp van die gode kan reken teen ‘n nietige vyand soos 'n vlooitjie nie, watse hulp kan ek te wagte wees teen veel groter en gevaarliker vyande.” 

Die storie wou die ou Grieke leer om nie hulp van die gode te vra as hulle hulself net so goed kon help nie, 'n mens vra net om hulp die kere wat jy dit regtig nodig het.

In 'n ander klassieke teks gaan dit hier om ‘n Griekse atleet wat die god Herkules se hulp in gebed roep, nie teen 'n vlooi nie, maar om oorwinning in die wedstryd, met dan die versugting aan die einde dat Herkules wat hom nie eers bystaan teen opponente op die sportveld nie, hom beslis nie sal bystaan teen een van sy sterker vyande nie.


So het ons dan ook later vertellings gekry waar dit wel 'n atleet of stoeier is wat deur 'n vlooi konfronteer word, en dat die atleet kla omdat Herkules hom nie teen die vlooi wil bystaan nie, en wonder welke bystand hy teen veel sterker opponente op die sportveld te wagte kan wees.

Die oorsprong van die fabel lê in ‘n spreekwoord van die tyd wat daarteen gewaarsku het om nie die gode ter wille van ‘n vlooi aan te roep nie.

Hier, so wil dit voorkom, sit ons met 'n Renaissance-interpretasie van 'n marathonatleet wat in die wedstryd deur die vlooi lastig geval word.