Friday 13 January 2012

Die koning en sy ape





Met die dat ape nie net sulke slim diere is nie, maar ook nabootsers van die mens en sy streke, gebeur dit toe dat hierdie koning se dieretemmers dit destyds regkry om ‘n spul van die goed te laat dans. En nie hóé nie – nes regte mense in ryklik geborduurde klere, met goue ringe aan hul vingers, tulbande op hul koppe en selfs maskers van mans en vrouens oor hul oë. Onder dawerende applous het dié geselskap ape gereeld groot vermaak aan die koning en sy gaste verskaf. Dis nou tot op die dag dat een van die gaste, platjie wat hy was, ‘n handvol neute uit sy mantel se sak kry en dít tussen die ape ingooi. En was dit nou vir jou ‘n konsternasie – die ape vergeet toe skoon van die danspassies, hulle vergeet skoon om hulle soos mense te gedra, word weer sommer net ape en begin verwoed teen mekaar meeding om kloue en kake op die neute te lê, skeur mekaar se klere en byt die een die ander se maskers en dinge aan flarde. En so eindig die hele spektakel toe in ‘n nog groter spektakel waaroor jare later steeds gesels, en mense aan herinner, word.