Saturday 02 June 2012

Die twee potte


Stormwater het ‘n sandbank teen die rivierwal laat inkalwe en twee potte wat daar gestaan het in die vloedwater meegesleur. Die twee potte was op twee verskillende maniere en van verskillende materiaal gemaak: die een was van gegote brons; die ander van gedraaide klei. Daar was gevolglik ‘n ongemaklike band tussen die twee potte, die een bros en breekbaar, die ander bykans onvernietigbaar, terwyl hulle in die malende waters stroomaf spoed. Die bronspot het plegtig beloof om haar gang en vaart op ‘n veilige afstand van die brose kleipot te hou, sy wou immers nie met haar reisgenoot in ‘n botsing betrokke raak en ‘n gevaar loop om hom te vernietig nie. Tog was die kleipot, juis omdat ‘n swakke geen vertroue in ‘n sterke kan plaas nie, deurgaans bang dat die swaarder pot sy veel ligter raamwerk onherstelbare skade sal berokken. “Al is jou woorde hoe bemoedigend,” sê die kleipot, “kan ek nie my gegronde vrees in die water agter my agterlaat nie. As selfs net die geringste kabbeling of golfie, my in jou, of jy in my, laat vasspoel, is ek, wat ook al die geval mag wees, die enigste slagoffer van die katastrofe.”



Ons tref ‘n soortgelyke beeld in die apokriewe Wysheid van Jesus ben Sirag (‘n Oud-Testamentiese wysheidsgeskrif soortgelyk aan Spreuke wat wel in die Rooms-Katolieke, Russiese en Slawiese Bybels opgeneem is) aan. In hoofstuk 13 lees ons:  “Watter samewerkingsooreenkoms sal die kleipot dan met die ysterpot hê? Want as die een teen die ander sou stamp, is die verbond verbreek.” ('What agreement shall the earthen pot have with the kettle? for if they knock one against the other, it shall be broken.')

Ook in die Joodse Talmoed (Esther Rabbah 7:10) kom die motief van ‘n kleipot breek, ongeag die situasie en wie teen wat stamp, voor:  “Wee die pot, as die pot op klip val, wee ook die pot as die klip op die pot val, wee die pot, watter een van die twee ook al gebeur.”  ('If a pot falls upon a stone, woe to the pot; if a stone falls upon a pot, woe to the pot; either way, woe to the pot')



Die moontlikheid bestaan dat ons fabel wat Avianus in die vyfde eeu na Christus opgeteken het en die talle ander soortgelyke antieke verwysings ‘n gemeenskaplike antieke spreekwoord as vertrekpunt het.



Nog verder oos, uit Indië, het ons in die Panchatantra ‘n gesprek tussen Hiranyaka die rot en Laghupatanaka die kraai rondom die maak van vriende. Weer eens is daar verwysing na ‘n klei- en metaalpot wat in verband met vriendskap teenoor mekaar gestel word: “'Friendship with bad men is like a pot of clay, easy to break but difficult to rejoin. With good men it is like a pot of gold, difficult to break but easy to mend.” Die hele storie kan hier gelees word. Ek beveel dit aan, veral ten opsigte van die lieflike ander metafore rondom ongelyke vriendskap wat hierin aangetref word.



Van die baie illustrasies wat ons van hierdie fabel het, is die volgende een die 1870’s, eweneens uit die Ooste, vir my interessant. Dis duidelik dat die stad in die agtergrond by ‘n illustrasie deur Tenniel geleen is, maar die Sjinese illustreerder maak van die potte, mense.







 Die kleipot word 'n bekende Royal Dalton pot in Arthur Rackham se illustrasie van die fabel. Die gesig wat onder ander omstandighede aggressief sal oorkom, lyk hier maar bra benoud en 'n mens kan dit verstaan:

In die volgende illustrasie hou ek van die "godelike" oorsprong van die vloedwater:




Hier het ons weer so baie van die natuur, dat ek regtig moet soek om die terloopse twee potte op te spoor:


En dan is daar oorvertellers wat die potte uit die stroom gehaal het. En die illustreerders moes hulle dit nadoen:



Ek wonder of die swart kat wie se lewenspaaie die twee potte pas gekruis het, 'n simbool van onheil is wat wag op die vriendskap tussen hierdie twee gesellige potte.

Vir my opvallend rondom die eerste en heel boonste illustrasie, ook die oudste van almal en uit die 1400's, is hoe baie daardie ysterpot lyk soos die pot waarin ek more se potjiekos gaan voorberei.

Monday 28 May 2012

Socrates en sy vriende



Vriende is alledaags, maar ware vriende so skaars soos hoendertande.
Sokrates het vir homself ‘n baie beskeie huisie gebou. En sal ek tog nie wat wil gee om so bekend soos hy te wees nie! As ek maar net na my dood so opgehemel kan word soos daardie man, sal ek nie omgee om in die openbaar tereggestel te word, soos inderdaad met hom gebeur het nie. Ewenwel, dit nou maar daar gelaat, want een van sy bure vra hom toe mos op ‘n mooi dag waarom hy vir homself so ‘n klein huisie gebou het. “O, maar dis eenvoudig,” sê Sokrates, “dis sodat ek nie so hoef te sukkel om ‘n huis vol ware vriende byeen te bring nie.”

Tuesday 22 May 2012

Die jakkals en die kraai


Die volgende fabel sal vir die meeste van ons baie bekend voorkom. Met verloop van jare is die hele strekking en groot dele van die fabel se inhoud egter verander. Dit het in die klassieke tye geensins gegaan oor vleitaal waarvoor jy nie moet swig nie – dis ‘n Victoriaanse verdraaiing van feite – maar eerder oor die weinig notisie wat jy aan jou opponente se opinie van jou moet steur:


‘n Storie van ‘n jakkals en ‘n kraai wat ons aanspoor om nie enige iemand wat ons net wil bedrieg, te vertrou nie.
Die kraai het van iewers vir hom ‘n wiggie kaas opgepik en sit toe met sy buit af na ‘n tak in ‘n hoë boom. ‘n Jakkals kom toe op hom af en loop al om en om die boom terwyl hy ‘n plan probeer beraam om die kraai daarin ‘n streep te trek. “En wat op deeske aarde het ons hier,” kom dit toe van die jakkals. “O, skone kraai,is dit tog nie jy nie,” deklameer hy, “die elegante estetika van jou gebeente is voorwaar voortreflik, terwyl jou gelaat jou kwalifiseer vir koning van die geveerdes. Had jy tog maar net ‘n stem om daarmee saam te gaan, was jy die voorste van al die gevleueldes.” Jakkals het hierdie dinge natuurlik net kwyt geraak om Kraai in ‘n lokval in te lei. En Kraai trap nie net daarin nie, hy storm sommer in:  hy trek los met die allervreeslikste kras kreet... en daar val die kaas uit sy bek uit. Van die gespog met sy stem, is hy toe sy buit kwyt want Jakkals het die kaas summier gegryp en voet in die wind geslaan met die volgende afskeidswoorde: “O, jou stomme kraai, jy het ‘n voorwaar en inderdaad ‘n stem wat skrik vir niks nie, maar daarmee saam allermins nie enige breins wat daarteen op kan weeg nie.”
Wie hom steur aan die mening van sy vyande sal seerkry.
Dis duidelik dat Kraai nie, soos ek dit leer ken het, sy kaas kwyt is uit val voor vleitaal nie, maar reaksie op kritiek.

Monday 21 May 2012

Die voëlvanger, die fisant en die haan



Die voëlvanger het, net toe hy op die punt was om ‘n eenvoudige slaaitjie van blare, kruie en pietersielie te geniet, onverwags besoek van ‘n vriend ontvang. Met die dat hy die afgelope tyd geen sukses met die vang van voëls gehad het nie, was die voëlhokke leeg en besluit die man toe maar om die spikkelfisant, wat hy mak gemaak het om die wilde fisante te lok, te slag. Maar hierdie fisant is nie op sy bek geval nie en hy smeek by die man om hom nie te slag nie:  “My liewe vriend, hoe gaan jy in die toekoms jag as dit net jy en jou nette is? Wie gaan namens jou die lugtige groot swerms naderlok? En wie gaan saans serenades vir jou lewer as jy weg dommel droomland toe?” So toe laat los die man maar die fisant en besluit om eerder die haan vir die tafel te slag. Die haan gee ‘n kreet van waar hy op ‘n tak sit en sê:  “As jy my sou dood maak, hoe sal jy langer weet hoe lank dit nog is na daglig toe – ek is immers die een wat jou smorens laat weet hoe laat dit is. Wie sal jou soggens aan elke nuwe dagtaak herinner, wie sal die dou op die voëls se uitgestrekte vlerke vir jou uitwys?” “Inderdaad,” kom dit van die man, “dis gerieflik om te weet hoe laat dit is, desnieteenstaande moet my vriend steeds iets kry om te eet, ongeag hoe laat jy sê dit is.”

Ek kan nie aan ‘n Afrikaanse spreekwoord dink wat hierdie fabel kan saamvat nie. Die naaste wat miskien aan een kom, is:  “Die kalf is in die put” (die werk moet dringend gedoen word al is dit ons op hierdie tydstip nie geoorloof om dit te doen nie, maar eerder veral gesê van iets wat noodwendig op ’n Sondag moet klaar kom).


Is daar iets wat oordra:  as die nood druk, waai reëls en regulasies by die agterdeur uit?


Sunday 20 May 2012

Enkele fabels en gedagtes van Odo van Cheriton

In die Afrikaanse volksmond het ‘n spreekwoord omgegaan wat lui: “’n Gebraaide eend vlieg niemand in die mond nie.” Sou dit nie lieflik gewees het, as so iets wel moontlik was nie! Maar slegs maar in die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood en geroosterde eend met lemoenlikeur gegeur, verdien.
My gedagtes het na hierdie spreekwoord gespring, toe ek die volgende fabel van Odo van Cheriton raaklees.
Die aap en die neut
‘n Fabel vir mense wat nie bereid is om bietjie swaarkry te lei om aan iets te kom nie.
Die aap is maar al te lief vir neute, juis omdat neute so smaaklik is, maar proe aap die bitterheid van die buitenste dop, gooi sy die neut weg en verbeur so die smaaklikheid daarbinne.

Die beelde wat Odo gebruik, pas nie altyd vir my by ‘n vrome Vroeë Middeleeuse monnik in ‘n klooster nie.

So is dit die geval in die volgende fabel:

Die hond en die biesies
Teen bose en verkeerde vriende, ook die wat soos hulle is.
Daar was hierdie hond wat sy besigheid op ‘n biesiepol wou doen, maar een van die biesies steek hom toe op sy agterstewe. Die hond spring eenkant toe en begin vervaard op die biesiepol blaf. En al wat die biesiepol te sê het, is:  “Ek verkies dit veel eerder dat jy oor ‘n afstand na my blaf, as wat jy my van naby bevuil en bevark.”
Talle van Odo se fabels is vir my maar flou, hoewel ek wat sal wil gee om die volledige Engelse vertaling van 120 sy fabels te besit – ek sien daar is nog enkele kopieë in ‘n huidige druk beskikbaar. Ek het immers baie waardering vir ‘n diepsinnige en baie toepaslike fabel soos die volgende:
Die Valk en die fisante
Hoe misleidend aardse voorspoed en welvaart kan wees, en so voort.
Op ‘n dag het die valkie opnuut sy snawel, kloue en vlerke takseer. “Inderdaad,” was die slotsom waartoe hy gekom het, “ek is enige dag net so goed toegerus soos die lammervanger en arend. Kyk net my vlerke, my pote en hul kloue! Wat verhinder my om verwoesting onder die fisante te gaan saai.” Die valkie het van ‘n plek geweet waar hy talle fisante op sou kon spoor en dadelik vertrek om sy aanval te loods. Hy het een met sy bek gegryp, een in elke klou geneem en selfs gepoog om met ‘n vierde tussen sy vlerke weg te kom. Natuurlik het dit ‘n gestoei afgegee en elke fisant het ontsnap sodat hy op die ou einde net mooi niks had. Vandaar die sêding: wie gryp, behou niks. En van toe af het die valkie nog nooit weer probeer om voëls te vang nie.
Die kat en die reier
Ons moet almal poog om soos die reier te wees wat met ‘n paling in haar bek oppad was om haar kuikens te gaan voed.
ʼn Kat het hierdie reier met haar prooi opgemerk. Dan weet ons almal ‘n kat het ‘n besonderse voorliefde vir vis, maar hou net mooi niks daarvan om selfs net sy voete nat te kry nie. So toe sê die kat vir die reier: “O, jou skoonste van skone beeldskones, het jy nie mooiste van mooi snawel en fynste van fyn vere nie. Kan dit wees dat jou snawel van binne net so mooi is soos van buite?” Maar, gedagtig aan die vis in haar bek, het die reier net geweier om op die vleitaal te reageer. Dit het die muis- en rottevanger opgeklits en hy het begin om die reier te beledig: “Maar is jy dan doof of net sommer dof en onnosel! Want vir wat antwoord jy my nie! Jy wat partykeer slange moet vreet, slange wat liederlik en vieslik vreeslik giftig is. Ordentlike diere vreet ordentlike goed, maar nie jy nie, jy hou jou op met onrein diere. Dit maak jou die onreinste van onrein diere in die ganske skepping!” Maar die reier het niks gesê nie – sy het aangehou stap met die paling in haar bek.