Stormwater het ‘n sandbank teen die rivierwal laat inkalwe en twee potte wat daar gestaan het in die vloedwater meegesleur. Die twee potte was op twee verskillende maniere en van verskillende materiaal gemaak: die een was van gegote brons; die ander van gedraaide klei. Daar was gevolglik ‘n ongemaklike band tussen die twee potte, die een bros en breekbaar, die ander bykans onvernietigbaar, terwyl hulle in die malende waters stroomaf spoed. Die bronspot het plegtig beloof om haar gang en vaart op ‘n veilige afstand van die brose kleipot te hou, sy wou immers nie met haar reisgenoot in ‘n botsing betrokke raak en ‘n gevaar loop om hom te vernietig nie. Tog was die kleipot, juis omdat ‘n swakke geen vertroue in ‘n sterke kan plaas nie, deurgaans bang dat die swaarder pot sy veel ligter raamwerk onherstelbare skade sal berokken. “Al is jou woorde hoe bemoedigend,” sê die kleipot, “kan ek nie my gegronde vrees in die water agter my agterlaat nie. As selfs net die geringste kabbeling of golfie, my in jou, of jy in my, laat vasspoel, is ek, wat ook al die geval mag wees, die enigste slagoffer van die katastrofe.”
Ons tref ‘n soortgelyke beeld in die apokriewe Wysheid van Jesus ben Sirag (‘n Oud-Testamentiese wysheidsgeskrif soortgelyk aan Spreuke wat wel in die Rooms-Katolieke, Russiese en Slawiese Bybels opgeneem is) aan. In hoofstuk 13 lees ons: “Watter samewerkingsooreenkoms sal die kleipot dan met die ysterpot hê? Want as die een teen die ander sou stamp, is die verbond verbreek.” ('What agreement shall the earthen pot have with the kettle? for if they knock one against the other, it shall be broken.')
Die moontlikheid bestaan dat ons fabel wat Avianus in die vyfde eeu na Christus opgeteken het en die talle ander soortgelyke antieke verwysings ‘n gemeenskaplike antieke spreekwoord as vertrekpunt het.
Nog verder oos, uit Indië, het ons in die Panchatantra ‘n gesprek tussen Hiranyaka die rot en Laghupatanaka die kraai rondom die maak van vriende. Weer eens is daar verwysing na ‘n klei- en metaalpot wat in verband met vriendskap teenoor mekaar gestel word: “'Friendship with bad men is like a pot of clay, easy to break but difficult to rejoin. With good men it is like a pot of gold, difficult to break but easy to mend.” Die hele storie kan hier gelees word. Ek beveel dit aan, veral ten opsigte van die lieflike ander metafore rondom ongelyke vriendskap wat hierin aangetref word.
Van die baie illustrasies wat ons van hierdie fabel het, is die volgende een die 1870’s, eweneens uit die Ooste, vir my interessant. Dis duidelik dat die stad in die agtergrond by ‘n illustrasie deur Tenniel geleen is, maar die Sjinese illustreerder maak van die potte, mense.
Die kleipot word 'n bekende Royal Dalton pot in Arthur Rackham se illustrasie van die fabel. Die gesig wat onder ander omstandighede aggressief sal oorkom, lyk hier maar bra benoud en 'n mens kan dit verstaan:
In die volgende illustrasie hou ek van die "godelike" oorsprong van die vloedwater:
Hier het ons weer so baie van die natuur, dat ek regtig moet soek om die terloopse twee potte op te spoor:
Vir my opvallend rondom die eerste en heel boonste illustrasie, ook die oudste van almal en uit die 1400's, is hoe baie daardie ysterpot lyk soos die pot waarin ek more se potjiekos gaan voorberei.























