Tuesday 17 September 2013

Die man, sy boerbok, sy haan en die onverwagte besoeker

fotobron
Net toe hy op die punt was om ‘n eenvoudige maal van ‘n lekseltjie suurpap te geniet, ontvang die man onverwags besoek van ‘n goeie ou vriend wat hy in geen jare gesien het nie. Met die dat dit nou al maande lank broekskeur gaan op die klein lappie aarde waaruit hy ‘n bestaan moet maak, is daar onder die son niks voor  hande waarvan hy ‘n feesmaal kan berei nie. Hy besluit toe maar om die allerlaaste boerbok wat daar nog op sy werf oor is, te slag. Hierdie boerbok is egter nie op haar bek geval nie; sy laat sommer dadelik van haar hoor en smeek by die man om haar nie te slag nie: “Dink tog net bietjie verder as wat jou neus lank is – waar gaan jy miskien vorentoe melk vandaan kry om jou pap mee te eet? Spaar jy my lewe, kan ek nog lank na jou omsien, maar speel jy vandag met my klaar, lei jy volgende week groter gebrek.” So laat los die man toe maar die ou ooi en besluit om eerder sy haan vir die feestafel te slag. Die haan gee een lang, vet benoude kreet van waar hy op ‘n tak sit en sê: “As jy my sou dood maak, hoe sal jy langer weet hoe lank dit nog is na daglig toe – ek is immers die een wat jou smorens laat weet hoe laat dit is. Wie sal jou soggens aan elke nuwe dagtaak herinner, wie sal sorg vir nuwe kuikens op die werf, kry jy eers vir my ‘n hennetjie in die hande?” “Inderdaad,” kom dit van die man, “dis gerieflik om te weet hoe laat dit is, lieflik om die vooruitsig van ‘n hoenderboerdery te hê; desnieteenstaande dit moet my goeie ou vriend steeds iets kry om te eet.”

 

Thursday 12 September 2013

Die mier en die sprinkaan



Die variasie op gister se fabel wat vasgesteek het:
 
Gedurende die wintermaande het ‘n mier oorleef op die graan wat hy gedurende die somermaande vir homself vir later opsy gesit het. ‘n Sprinkaan kom klop toe bakhand aan met die versoek dat die mier van sy kos met hom moet deel. Die mier wil toe weet: “En wat het jy die hele somer lank gedoen – aangesien jy duidelik nie besig was om kos op te gaar vir later se eet nie?” Die sprinkaan antwoord toe:  “Omdat ek so lekker gesing het, het ek nie nog tyd gehad om aan oes ook te dink nie.” Die mier kon maar net vir die sprinkaan se antwoord lag en haar voedselvoorraad nog verder onder die grond gaan wegsteek. “Omdat jy die hele somer soos ‘n sot om gesing het, moet jy nou maar self sien-kom-klaar om die ganske winter op eie beentjie om te dans.”

Hierdie fabel beeld lui, sorgelose mense uit wat hul tyd en energie op beuselagtighede verkwis en sodoende later gebrek lei en op baie uitmis.
 

Tuesday 10 September 2013

Die mier en die miskruier


fotobron

Om proviand vir die winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye agter allerhande soorte graankorrels aangeskarrel. ‘n Miskruier wat tyd had om die mier dag-in en dag-uit dop te hou, het tot die gevolgtrekking gekom dat die mier ‘n hoogsongelukkige stomme drommel moet wees, juis oor hy die ganske dag om moes werk en homself nie eers een keer, soos alle ander diere, ‘n oomblik van rus gegun het nie. Maar aan die miskruier se gevolgtrekking het die mier hom nie gesteur nie; op die miskruier se snedige opmerkings het hy geen ag geslaan nie. Kom die winter egter, en die deel van die land se eerste reënbuie spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier en almal wat van hom afhanklik is, hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is:  “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd, terwyl ek besig was, met my die spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by my te kom bedel nie!”

Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.
 
Ons het genoegsaam rede om die vorige generasies se entomologiese kennis rondom miskruiers te bevraagteken. Ek wonder egter elke keer verder waarom hierdie weergawe in onguns verval het, maar die een rondom die sprinkaan vas bly staan het.
 
 

Friday 6 September 2013

Die boer, sy hoenders, die jakkals en die hond


fotobron

Daar was ‘n sekere boer wat ‘n aardige hoeveelheid hoenders op hok gehou het. Daar kom toe van tyd tot tyd ‘n jakkals verby wat onder sy pluimvee inspring en afmaai. Die man sit met sy hande in sy hare – hy weet toe nie wat om te doen ten einde die situasie te beredder nie. Ten einde laaste kry hy vir hom ‘n hond in die hoenderhok – maar hierdie hond het met sowel die jakkals as die laaste haan en hen ook, afgereken.

Thursday 5 September 2013

Die boer en die luiperd



fotobron

Na die besluit  dat daar dadelik korte mette van haar gemaak word, pleit die luiperd by die boer wat haar gevang het: “Spaar tog maar my lewe – ek is immers die skepsel wat met die verpestelike jakkalse en ander kleiner roofdiere wat so lelik verwoesting onder die lammers op jou plaas saai, afreken. “As dit maar in my belang was, dat jy onder die pestilensies afgemaai het,” kom dit van die man, “sou ek jou lewe maar al te graag gespaar het. Maar nou is dit ongelukkig ‘n feit dat jy suiwer jou werk doen om nie net die jakkalse en rooikatte op te kan vreet nie, maar ook elke laaste lammer waarin hulle hul slagtande sou gesink het, was hulle nog in die lewe. So moenie op dankbaarheid van my kant reken vir die sogenaamde gunsies waarop jy my trakteer nie!” En toe is dit die einde, nie net van die boer se woorde nie, maar ook van die luiperd.

Jy sal jouself maklik in hierdie storie herken, as jy een van die mense is wat jou eie belange dien terwyl jy ewe skynheilig aan die ander voorgee dat dit alles eintlik in hulle belang is.

Tuesday 3 September 2013

Die leeu en die blouapie


fotobron

‘n Woedeuitbarsting, grensend aan waansin, neem van die Leeu besit. ‘n Blouapie wat die hele gedoente op veilige afstand en hoogte vanuit ‘n reuse koorsboom gadeslaan, sê vir homself: “O, gedoriewaar, die gort is nou propperlies gaar! Noudat sy majesteit eers só goed opgeklits is, sal g’n niks en niemand hom meer kan keer nie – en hy was hoeka al meer van 'n kalant as waarteen ons opgewasse kon wees, en dit lank nog voor hy van sy trollie afgeklim het.”

Monday 2 September 2013

Koning Leeu en onderdaan Bobbejaan

fotobron

Nadat Leeu homself as die koning van die diereryk aangestel het, wou hy vir homself naam maak as ‘n billike en regverdige heerser.  Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en geregtigheid tot op die laaste letter te laat geskied, sy dieet aansienlik aangepas het en sy lyf die van ‘n wafferse herbivoor begin hou het. Natuurlik kon hy nie die roofdier wat deur sy are vloei, afsterf nie. Hy het toe bloot begin om die een na die ander dier in te roep vir ‘n geheime ontmoeting met hul kroon. By hom aangekom, blaas hy dan sy walglike stink asem in hul gesigte sodat elk ‘n oordeel kan fel:  stink die koning se asem, of stink die koning se asem nie. Van daar af is dit eenvoudig:  sê jy die koning se asem stink, word jy opgevreet; sê jy dit stink nié, lieg jy en word jy óók opgevreet. Nadat hy op hierdie manier sommer gou met ‘n hele paar van sy onderdane afgereken het, het hy hom tot Bobbejaan gewend om na die huidige gesteldheid van sy halitose te verneem. Bobbejaan is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en meld summier dat die kroon se bek die eksotiese geur van kosbare kaneel adem, so asof sy palatum ‘n altaar vir die gode is. Na dié groot omhaal van soete woorde voel Leeu toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net so vir sommer bokveld toe te stuur. Hy kom gevolglik met ‘n nuwe strategie vorendag: hy maak kwansuis of hy vreeslik siek is en die hele span koninklike dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die lastige naarheid op hul heer en meester se maag voor. “Konings mag dan seker maar eet wat hulle wil,” kom dit berekend van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan bobbejaan vleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie, toe is dit klaar met kees, hy word net daar en dan om die lewe gebring om die koning op die pad van ‘n spoedige herstel te plaas.”

Of jy nou jou mond dig gesluit hou, en of jy jou bek rek – dis om het ewe, jou gat sal jy sien, so seker as wat jy nou hierdie woorde lees of hoor.