fotobron |
Om proviand vir die
winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye
agter allerhande soorte graankorrels aangeskarrel. ‘n Miskruier wat tyd had om
die mier dag-in en dag-uit dop te hou, het tot die gevolgtrekking gekom dat die
mier ‘n hoogsongelukkige stomme drommel moet wees, juis oor hy die ganske dag
om moes werk en homself nie eers een keer, soos alle ander diere, ‘n oomblik
van rus gegun het nie. Maar aan die miskruier se gevolgtrekking het die mier
hom nie gesteur nie; op die miskruier se snedige opmerkings het hy geen ag
geslaan nie. Kom die winter egter, en die deel van die land se eerste reënbuie
spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier en almal
wat van hom afhanklik is, hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer
om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is: “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self
iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd, terwyl ek besig was, met my die
spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by my te kom bedel
nie!”
Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge
wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in
die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.
Ons het genoegsaam rede om die vorige generasies se entomologiese kennis rondom miskruiers te bevraagteken. Ek wonder egter elke keer verder waarom hierdie weergawe in onguns verval het, maar die een rondom die sprinkaan vas bly staan het.