Tuesday 30 April 2013

Die trop wildehonde en die beesvelle


fotobron
Die trop honger wildehonde spoor 'n spul beeshuide, gereed om gelooi te word, wat in die rivier afdryf, op. Dit moes stroomop in ‘n moeilike drif van die transportwa losgekom het. Straks was die drywer só doenig met die osse dat hy dit nie eers opgemerk het nie. Die honde sal egter enige iets vir die velle gee, maar na die hewige reëns dieper die binneland in, maak die diepte en sterk vloei van die rivier dit vir hulle onmoontlik. Toe besluit hulle om die rivier dan maar leeg te suip en só by die velle uit te kom. ‘n Neushoringvoël, eenkant op ‘n tak, hou die gedoente dop en waarsku hulle:  “As julle al daardie water suip, sal julle verseker aan stukke bars en morsdoodvrek neerslaan.” Maar nóg die honde, nóg die honger in die honde se mage het ore; hulle begin daar en dan vervaard om die rivier leeg te wil suip. Dis ook nie lank nie of ‘n een en ‘n elk dryf óf oopgebars óf opgeblaas reguit saam met die beesvelle rivieraf see toe.

Hierdie fabel kla diegene aan wat mal perde roekeloos opsaal.

Monday 29 April 2013

Die hond en sy weerkaatsing


fotobron

Terwyl elkeen op die werf doenig is met bees afslag, gryp die hond in 'n onbewaakte oomblik vir homself 'n groot homp vleis en sit op ‘n draffie daarmee af na ‘n veraf koelteboom waar geeneen hom met die vleis sal sien of kan pla nie. Toe hy met die houtbruggie langs oor die spruitjie stap, merk hy uit die hoek van sy oog die porsie vleis se weerkaatsing in die water op, en dít lyk vir hom skielik veel groter as die homp vleis in sy bek. Hy loer begerig oor die wateroppervlak en laat los sommer summier sy eie stuk vleis terwyl hy in die die water afhap na die groter porsie toe. Toe die weerkaatsing plotseling in die troebelte verdwyn, soek-soek die hond sy eie vleis van vaneffe, maar dit het intussen voete gekry – 'n witborskraai het dit opgeraap en is daarmee weg. Die hond blaas sy mond dikbek op en brom: “Vir wat was ek ook so onnosel gewees! Daar gee ek die bietjie wat had, op vir 'n voorspooksel, 'n illusie, en sit ek nou op die ou einde met net mooi niks nie!”

Die fabel gaan oor gulsige en gierige mense wat meer gryp as wat hulle nodig het en in die proses dikwels alles verloor.

In ander dele van die land vertel ander mense ‘n soortgelyke storie, maar hierdie keer is dit ‘n jakkals wat die vleis in sy bek neersit om 'n groter vis te vang. Toe daag ‘n aasvoël daar op en steel dit vir homself. Soos die hond, bly die jakkals ook toe ook dik- droëbek met niks agter.

Friday 26 April 2013

Die landbouer en die fisant


Die landbouer het met groot sorg vir homself ‘n groterige vangnet geweef. Dié het hy oor ‘n lappie aarde wat hy as saailand voorberei het, geplaas. Al hierdie moeite is ook nie verniet nie – hy slaag sodoende daarin om ‘n hele klompie tarentale wat sy kosbare saad kom los skrop en uitpik, vas te vang. Dié word ‘n smaaklike vleiskossie en wat vir hom en sy gesin te veel is, kan hy onder die res van die plaaslike gemeenskap gaan verkwansel. Tussen al die kwaaddoeners kom hy egter ook af op ‘n fisant wat sy been in die net verstrik en seergemaak het. Die fisant pleit by die landbouer om tog net sy lewe te spaar:  “Laat my, agbare heer en meester, groot asseblief vry. En as my gebreekte been, of my vrou en kinders se gebroke harte, nie die nodige bejammering in jóú ruim hart opwek nie, onthou dan tog net hoe goed ek nie nog my bejaarde ouers en grootouers versorg nie! Neem ook in ag dat ek ‘n edel fisant van onbesproke karakter is en nie een van hierdie verfoeilike pêrelhoenders nie, let maar net op na my slanke bou en sierlike verekleed. Om my vandag hier te wil dood maak, sal as ‘n aanklag teen die ganse mensdom opgeskryf staan. “Ek hoor wat jy sê, Fisant,” kom dit tussen die bestaansboer se lag deur, “maar wat ek sonder ‘n greintjie twyfel vir ‘n seker feit weet, is dat ek jou vaneffe midde die gure geselskap van hierdie spul rowers en buiters, die tarentale, gevang het. Julle is voëls van eenderse vere, man! Dis nooit anders nie! Daarom dan ook hoekom jy vandag saam met hulle gaan sterf en basta met die res.”

Die Boer en die Tarentrale


fotobron
Meer tarentale as wat daar spikkels op ‘n tarentaal se rug is, het jaar na jaar gewoonte daarvan gemaak om die boer se saad wat hy met soveel sorg geplant het, los te skrop en op te pik. Met ‘n skoot of wat donshael die lug ingestuur, het die man darem elke keer so half en half daarin kon slaag om die poelpetaters van sy pas gesaaide lande weg te hou. Maar toe sy geveerde vriendjies eers agterkom dat hy telkens net die lug in skiet, sonder om enige van hulle te dood, het hulle begin om hulle nóg aan hom, nóg aan sy geweer te steur. Dis toe dat die boer maar met sy haelgeweer onder húlle inspring en ‘n hele aantal met een goed gemikte skoot bokveld toe stuur. Die enkele verskrikte oorlewendes wat daar was, het dadelik sy saailand verlaat en hom met ‘n hond vergelyk, ‘n hond wat nie meer tevrede is om net te blaf nie, maar begin byt ook.

En dit ís ook so, blaffende honde byt nie, maar as blaf nie meer help nie, dan móét hulle inspring en byt.

(As woorde niks uitrig nie, moet dade inspring en saampraat.)

Ek sal poelpetater nog terug verander na tarentaal, maar dis vir my net so ‘n mooi woord vir ‘n tarentaal, dat ek nie ander kon as om dit te gebruik nie. Ek het die woord as laerskoolseuntjie gereeld by my beste maatjie se ma gehoor, maar moes eers op universiteit kom voor ek die betekenis van die woord geleer het.

Die boerbokkie, die rooikat en die bekfluitjie


fotobron
Hierdie boerbokkie, sommer nog goed nat agter die ore, dwaal toe wei-wei agter soet grassies aan en is sommer gou 'n hele ent van sy trop af weg. Toe hy hom weer kom kry en opkyk om seker te maak waar hy is,  toe is ‘n uitgevrete rooikat nie van agter in sy spoor nie, maar viervoetvas vlak van voor in die middel van sy pad. Met geen maar geen kans om voet in die wind te slaan nie, is hy sommer gou in die kwylende roofdier se honger kloue en prewel hy bewend:  “Ek weet dat ek op die punt staan om jou aandete te word, oom Rooi. Maar gun my asseblief net die voorreg om my dood met waardigheid in te gaan – speel asseblief vir my ‘n mooi deuntjie op hierdie bekfluitjie sodat ek oulaas ‘n afskeidsriel kan dans.” Eerder uit nuuskierigheid oor hoe die bokkie dan nou blykbaar ‘n riel kan dans, as uit goedgemanierdheid of respek vir ‘n prooi se sterwenswens, stem die rooikat toe in en die bokkie dans ligvoets, maar steeds dat die stof so staan, op die melodie wat uit die bekfluitjie kom. Dié vrolike musiek, want as daar nou een ding is wat die rooikat goed kon doen, dan was dit om mondfluitjie te speel, het natuurlik die aandag van die bokwagters se honde getrek en die hele trop was gou op die toneel om die kat te verjaag. So in sy enigheid en terwyl hy rieme neerlê, dink die rooikat: “Dit het ek nou daarvan om my lyf musikant, in plaas van slagter, te wil hou.”

Deur maar net jou mond oop te maak en met ander in gesprek te tree, selfs by die wat jou nie noodwendig goedgesind is nie, kán jy jouself uit die moeilikheid praat.

Thursday 25 April 2013

Die wildehond en die rifrug


fotobron
'n Spekvet en gesonde, uit- en dik gevrete jong rifrugreun se pad kruis toe mos met die van 'n vereensaamde, uitgeteerde wildehond. Laasgenoemde wil dadelik weet waar op deeske aarde die rifrug aan al die kos kom om hom in hierdie swaarkrytye so groot en vet daar uit te laat sien. “Dis wat so wonderlik is van die mens,” kom dit van die hond, “dis die mensekind  en niemand anders nie wat my so goed versorg en ruim voorsien.” “En wat,” vra sy wilde naamgenoot toe hy die merke raaksien, “is daardie lelike krap- of skaafmerke om jou nek?” “O, dit! dis maar net waar die kettings wat my baas by tye om my bind om my na aan hom of tuis te hou, my deurskaaf en –skuur as ek ruk en pluk.” Dis toe dat die wildehond vir die mak hond lag kry en sê: “Hou in daardie geval dan maar jou luukse weelde vir jouself – ek wil daarmee niks te doen hê as ek eers my nek moet stukkend skaaf aan yster om daaraan te kom nie!”

Daar is geen groter rykdom as vryheid nie.



Tuesday 23 April 2013

Die hiëna en sy skaduwee



fotobron
 Teen laatskemer draf die hiëna in ‘n wyduitgestrekte droë rivierloop af. Hy raak in die ondergaande son so uit die hoek van sy een oog bewus van die buitensporige groot skadu wat sy lyf oor die sand gooi. “Hoe is dit moontlik,” wonder hy in die hardloop by homself, “dat iemand so groot en sterk soos ek moet terugstaan vir 'n lawwe ding soos ‘n leeu? Kyk hoe lank is ek! Kyk daardie bene, die dikte van my nek. Dis hoeka omdat Leeu so potsierlike dun nekkie het, dat hy dit diep tussen al daardie maanhare van hom wegsteek. Tog sekerlik ék wat bestem is om koning oor al die diere te wees.” En terwyl hy homself in sy gedagtes so loop en opblaas, selfs groter nog as wat die hoek van die sakkende son reeds doen, en hy gaandeweg al sy waaksaamheid verloor, gryp 'n groot ou leeu hom hier van links iewers op die wal, en verslind hom – maar nie voordat ons hiëna eers tot die hartseer besef kom dat sy ondergang die gevolg van sy eie grootheidswaan is nie, trouens niks anders as selfbedrog wat tot sy dood lei nie.

Monday 22 April 2013

Die Varkie, die Skaap en die Bok


fotobron

‘n Speenvarkie is saam met ‘n skaap en bok in ‘n klein klipkraaltjie na aan die huis aangehou. Op ‘n mooi dag toe die boer die varkie optel en haar van oraloor bevoel en bevat, sit die dierasietjie die allervreeslikste keel op en gaan letterlik soos ‘n maer vark te kere. “Wat is dit tog nou met jou?” wil die bok weet, “die boer hanteer my en Skaap gereeld...” “En ons gaan nie een so vreeslik te kere nie,” voeg Skaap by. “Maklik vir julle twee om te praat,” kom dit van die varkie, “maar onthou, aan julle vat hy net ter wille van melk of wol; vat hy aan my, vat hy om te voel hoe lank dit nog is voor hy my kan slag.”

'n Ander variasie dateer uit klassieke tye:

Die boer het 'n sog, 'n bokooi en 'n skaapram op sy wa gelaai en met hulle afgesit dorp toe. Terwyl die donkie hulle trek, het die skaap en die bok gou hul lê gekry en rustig geraak. Hul chauffeur is egter gepla deur die sog wat letterlik soos 'n maer vark te kere gegaan het. Die donkie vra toe waarom op deeske aarde die sog nie kan stilbly soos die ander twee nie, maar die sog antwoord:  “Die bokooi word aangery ter wille van haar melk, die skaap in belang van sy wol. En ek ry saam om net een rede wat vir my die verskil tussen lewe en dood is.”


Wat maar net weer eens bewys dat elke mens 'n goeie rede vir sy eie optrede het.

 

Friday 19 April 2013

Die koedoe en die jong maroelaboom


fotobron

Dit was maroelatyd en die bome het swaar gedra aan hul blare én kenmerkende bolronde vruggies. 'n Koedoe wat daar verby gekom het, het aan die nuwe seisoen se vars groei en jong blare begin knibbel. Verontwaardig vra die een jong maroelaboompie:  “Vir wat verrinneweer jy my so sonder enige rede? Is daar nie genoeg ander sappige groen goed vir jou om van te leef nie? Gelukkig is vergelding nie ver in die toekoms nie – die jagseisoen is om die draai en kort voor lank sal jou boude en blaaie as Sondagmiddagmaal voorgesit word, dan sal die jellie van my vruggies die soetigheid verskaf om die gereg af te rond.

Wat jy saai sal jy maai. Wat jy aan ander doen, sal ook met jou gebeur.

Thursday 18 April 2013

Die donkie en die skoothond


 
Die boer het ‘n donkie in die veekampie direk langs die plaaswerf aangehou. Ou langoor sien hoe sy baas se skoothondjie aldag en heeldag al op en oor die man is. As hy nie in sy hande is nie, is hy op sy skoot, en partykeer glads pens en pootjies sommer op sy bors. Intussen geniet die klein keffer ook net die allerbeste kos, reguit van die baas se eie tafel af. Dis nou benewens al die bederfies waarmee al wat huis en kombuisbediende is, sy gevreet deur die loop van die dag volstop. Die donkie vertel homself toe:  “As my meester en sy bediendes so gek is oor 'n verskoninkie vir 'n hond soos daardie een, hoeveel te meer sal hulle nie wees as ek my soos een gedra nie. Ek is immers na alles veel beter as enige hond, intelligenter, talentvoller, en, o, so veelsydig! Fonteinwater wat spesiaal in die yskas koel gemaak is en net die beste snitte en geurigste porsies sal vir my voorgesit word; ek is immers in alle opsigte die hond se meerdere. Dit het lankal hoogtyd geword dat ek die respek wat my toekom, begin afdwing,” maak hy homself wys. Met dié laat los hy 'n harde, opgeruie hiéé-hô, en sit al balkende op 'n hondegaloppie af na sy meester toe. Hy spring orent en slaan sy twee voorpote oor die niksvermoedende man se skouers, met sy stink asem in die man se verbaasde gesig begin hy hom met sy groot grys tong al op die wang en in die nek te lek – dit, terwyl sy hoewe van die man se skouers begin gly en dit sy klere aan flarde skeur. Gelukkig, vir die stomme plaasboer, begin hy ingee onder die donkie se gewig en kom die eerste plaasarbeiders, in antwoord op sy gille en krete, ook met stokke en pikke en grawe en byle aangehardloop. Tesame met die klippe, kluite en klonte wat hardop saamgesels, is dit ook nie lank nie of die arme donkie sien sy ma vir 'n eendvoël aan. Hulle is toe met hom, kwalik nog in die lewe, af stalle toe waar hy lank, baie lank, opgesluit gehou is.

Dit kom nou daarvan as niets iets wil wees! Ondergeskiktes wat dit nie waardig is nie, moenie wederregtelik probeer om die posisie van hul meerderes oor te neem nie.

Wednesday 17 April 2013

Perdeby en slang



fotobron
 Die perdeby kry toe mooitjies sy sit op die slang se kop en klim vir 'n vale met sy angel onder hom in. Die slang, sommer gou-gou tot die dood toe gaar gesteek en lankal nie meer daartoe in staat om sy aanvaller af te skud nie, sien 'n aankomende wa padlangs kom. Hy wriemel, want seil kan jy dit nie juis meer noem nie, die pad in. Hier kry hy sy kop, stekende perdeby en al, onder die aankomende wiele in met hierdie laaste woorde:  “My enigste troos is dat ek my dood ten minste nie alleen ingaan nie, dis sy aan sy met my vyand en vernietiger dat ek dit doen.”

Monday 15 April 2013

Die Wa en die Osse



‘n Span van sestien osse het met ‘n swaar gelaaide transportwa vanaf ‘n veraf hawe vertrek. Die hele wa, sy wiele, disselboom, naaf en as, noem maar op, al wat greintjie hout aan dié wa was, het soos wat die osse met die sware vrag gevorder het, al die pad vreeslik gekreun en gekraak, met die geringste opdraande gesteun en elke entjie af gesug. Dit was laterhand nie eers meer ‘n aardigheid nie en kort voor lank kon niemand in die span dit nog ‘n enkele myl verder uitstaan of verdra nie.. “Ag, ekskuus tog, Wa, vanwaar al die geraas?” trek die een hotvoor ongeduldig los en kyk gesteurd om. “Vir wat kef en kyf jy al die pad so vreeslik! Dis ons osse wat al die werk doen, nie jy nie, en as daar iemand is wat rede het om te kla, dan is dit ons.”

Dit is mos nou maar eenmaal hoe dit is – diegene wat die minste rede het om te kla, kla die graagste en die meeste.

Saturday 13 April 2013

Die siek ou leeu, huigelrige hiëna en vindingryke jakkals




Tyd staan vir niemand stil nie, nie eers vir konings nie, en die afgeleefde ou leeu lê sterwend in die bietjie skadu wat ‘n koelteboom hierdie tyd van die jaar nog kan bied. Al die diere van die veld, met die uitsondering nou van die jakkals, het al siekebesoek gebring om oulaas hul hulde te betoon. Hiëna maak van die geleentheid gebruik om Jakkals se naam lelik by sy hoogs iesegrimmige ou koning deur die modder te sleep – jakkals is dan nou kwansuis sús disrespekvol en só oneerbiedig teenoor die bosveld se owerste van owerstes. En terwyl hiëna nog so staan en draketande saai, kom jakkals juis op daardie einste punt daar aan om sý siekbesoek af te lê. Gelukkig vir hom is hy darem nog betyds om so die stertkant van hiëna se storie te hoor, ‘n storie waarin jakkals al hoe swarter gesmeer, en hiëna al hoe blinker gepoets word. Leeu, wat die vertelling al klaar grommend uitgeluister het, gaan buite homself van woede aan die brul toe hy jakkals se kwasstert uit die hoek van sy oog sien kwispel. Maar Jakkals vra dadelik hoogs eerbiedwaardig toestemming om sy afwesigheid tot op datum te mag verduidelik. “Na alles,” wil Jakkals weet, “wié van al die diere wat nou al so orentlik was om besoek af tye kom lê het, het soos ek, dienswillige Jakkals, twéé keer kruis en dwars al om die wêreld gereis om ‘n wonderkuur vir ons koning se siekte te vind? Én een gekry?” Vanselfsprekend wil Leeu dadelik weet wat dié wondermiddel is, en Jakkals verduidelik maar al te graag: “Die sieke moet die bloedwarm huid van ‘n pasafgeslagte gevlekte hiëna om hom gooi en...” Maar voor Jakkals nog verder kon uitwei, was hiëna reeds iets van die verlede en hy merk laggend binnensmonds op:  “Jy moenie jou meester slegter laat voel as wat hy reeds voel nie, jy moet hom opbeur en rede gee om beter te voel”

Die storie wys dat ons maklik die slagysters wat ons vir ander stel, aftrap.

Thursday 11 April 2013

Die bokwagter en sy hans hiëna

 

Die bokwagter het toe sommer vir die aardigheid hierdie skattige klein hiënawelpie wat hy in die veld teëgekom het, vir homself geneem en hans loop grootmaak. Toe die dingetjie eers bietjie ouer was, het hy hom selfs touwysgemaak hoe om lammers onder die ander se troppe te gaan vang. Nadat die uitgevrete hiëna, nou ook al lankal sommer ‘n hele paar hande hoog, hierdie kuns egter die dag vervolmaak het, noem hy aan die bokwagter:  “Noudat jy my mooi geleer het hoe om te steel, pas tog net op dat baie van jou eie bokke nie ook op soortgelyke wyse verdwyn nie.

En dit is nou maar een maal hoe dit is met ingebore booswigte is – hulle draai selfs teen hul eie leermeesters sodra hulle die fynere kunsies van steel en lieg en bedrieg bemeester het.

Wednesday 10 April 2013

Jakkals en die aas

Fotobron
Die boer het vir ‘n baie lastige Jakkals wat gereeld ewe astrant onder sy pluimvee afmaai het, ‘n vanghok opgestel. Dié het hy voorberei met die prima sagte vleisies van ‘n lammer wat van sy trop afgedwaal en toe in ‘n skielike fratskoue verkluim het. Natuurlik het die jakkals, nog lank nie so ‘n ou kalant of al noenswaardig lank in die land nie, hom siende blind daarin laat verlei – ‘n man kan immers mos dan darem nou nie dat dit pap reën sonder dat hy daarvan skep nie! Dis mos darem nou wraggies nie aldag dat ‘n aas- en roofdier sy kos as’t ware op ‘n skinkbord aangebied kry nie! Die laaste wat die veld en lug se nabye kleinvolk van hom gehoor het, dis nou nadat die valdeur sekuur in plek en op knip toegeval het, was sy verslae uitroep:  “Wat ‘n dwaas was ek nie! In ruil vir die klein bietjie lekkerte van ‘n ordentlike stukkie vleiskos, waarop ek vir ‘n pasella daarby nie nodig had om self jag op te maak nie, moet ek nou my hele lewe, en die kans wat ek nog op ‘n nageslag ook gestaan het, opoffer!”

Tuesday 9 April 2013

Die Vrek

fotobron
‘n Gierige ou vrek het bykans alles wat hy sy lewe lank aan versamel het, verkoop. Die aardige bedrag geld sit hy toe om in stawe egte goud. Maar wat nou gemaak met die goud? Hy begrawe dit toe maar in ‘n gat in die grond naby ‘n baie hoë sipresboom in sy groot tuin en gaan elke liewe dag van die jaar, drie honderd vyf en sestig uit drie honderd vyf en sestig, uit om net gou seker te maak dat dit nog daar is. Een van sy arbeiders, vermoedelik ‘n tuinier, moes toe seker maar bewus geraak het van die baas se vreemde daaglikse roetine en besluit toe om nadere ondersoek in te gaan stel. Natuurlik, die oomblik toe hy die oubaas se geheim ontdek, toe neem hy al die goud vir homself en verdwyn sonder enige spoor of tyding daarmee. Dis by die leë gat in die grond dat sy buurman die gebroke ou vrek opspoor – hy het hom hoor huil en skree en nader gekom om hom te kry waar hy omtrent die hare uit sy kop kan trek en met bitterlike weeklaag aan die ween gegaan het. Toe hy die hartseer storie uit die gierige ou suinigaard het, is sy raad eenvoudig: “Nou maar kry vir jou ‘n stel klippe, enige ander klippe, solank dit net soveel is as wat jy goudstawe gehad het, en plaas dít in die gat. Vertel jouself dan dis die goud wat daar lê. Die klippe sal in ieder geval vir jou van presies dieselfde waarde as die goud wees, want toe die goud nog daar was, het jy, al kón jy as jy net wóú, nie die minste gebruik daarvan gehad of iets daarmee gedoen nie.”

Monday 8 April 2013

Die hiëna en die reier

fotobron

 
Om hom te verlos van ‘n lastige been wat dwars in sy keel gaan vassteek het, huur die hiëna met die baie krapperige keel ten einde laaste toe maar teen ‘n aardige bedrag die dienste van ‘n reier om haar kop in sy keel af te druk en die stuk been daar uit te pik. Wat sy met groot omsigtigheid, en ewe veel versigtigheid, toe ook doen. Maar toe sy, haar onbenydenswaardige dienste klaar gelewer, aandring op haar beloofde betaling, wys hiëna net grommend sy tande en sê met daardie kenmerkende grynslag van hom: “Het ek jou nie reeds genoeg vergoed deur nie jou simpel dom koppie van jou nek te byt toe dit in my kake was nie. Wees eerder dankbaar dat jy met jou lewe daarvan af gekom het, as om nou so verspot te wil wees om nog boonop op geld ook aan te wil dring.”

Moenie beloning verwag vir diens aan die skelms en booswigte gelewer nie, wees inderdaad eerder dankbaar as jy gelukkig genoeg is om nog heelhuids daarvan te kan ontsnap.