Die trop honger wildehonde spoor 'n spul beeshuide, gereed om gelooi te word, wat in die rivier afdryf, op. Dit moes stroomop in ‘n moeilike drif van die transportwa losgekom het. Straks was die drywer só doenig met die osse dat hy dit nie eers opgemerk het nie. Die honde sal egter enige iets vir die velle gee, maar na die hewige reëns dieper die binneland in, maak die diepte en sterk vloei van die rivier dit vir hulle onmoontlik. Toe besluit hulle om die rivier dan maar leeg te suip en só by die velle uit te kom. ‘n Neushoringvoël, eenkant op ‘n tak, hou die gedoente dop en waarsku hulle: “As julle al daardie water suip, sal julle verseker aan stukke bars en morsdoodvrek neerslaan.” Maar nóg die honde, nóg die honger in die honde se mage het ore; hulle begin daar en dan vervaard om die rivier leeg te wil suip. Dis ook nie lank nie of ‘n een en ‘n elk dryf óf oopgebars óf opgeblaas reguit saam met die beesvelle rivieraf see toe.
Hierdie fabel kla diegene aan wat mal perde roekeloos opsaal.