Die siek ou leeu, huigelrige hiëna en vindingryke jakkals
Tyd staan vir niemand stil nie, nie eers vir konings nie, en die afgeleefde ou leeu lê sterwend in die bietjie skadu wat ‘n koelteboom hierdie tyd van die jaar nog kan bied. Al die diere van die veld, met die uitsondering nou van die jakkals, het al siekebesoek gebring om oulaas hul hulde te betoon. Hiëna maak van die geleentheid gebruik om Jakkals se naam lelik by sy hoogs iesegrimmige ou koning deur die modder te sleep – jakkals is dan nou kwansuis sús disrespekvol en só oneerbiedig teenoor die bosveld se owerste van owerstes. En terwyl hiëna nog so staan en draketande saai, kom jakkals juis op daardie einste punt daar aan om sý siekbesoek af te lê. Gelukkig vir hom is hy darem nog betyds om so die stertkant van hiëna se storie te hoor, ‘n storie waarin jakkals al hoe swarter gesmeer, en hiëna al hoe blinker gepoets word. Leeu, wat die vertelling al klaar grommend uitgeluister het, gaan buite homself van woede aan die brul toe hy jakkals se kwasstert uit die hoek van sy oog sien kwispel. Maar Jakkals vra dadelik hoogs eerbiedwaardig toestemming om sy afwesigheid tot op datum te mag verduidelik. “Na alles,” wil Jakkals weet, “wié van al die diere wat nou al so orentlik was om besoek af tye kom lê het, het soos ek, dienswillige Jakkals, twéé keer kruis en dwars al om die wêreld gereis om ‘n wonderkuur vir ons koning se siekte te vind? Én een gekry?” Vanselfsprekend wil Leeu dadelik weet wat dié wondermiddel is, en Jakkals verduidelik maar al te graag: “Die sieke moet die bloedwarm huid van ‘n pasafgeslagte gevlekte hiëna om hom gooi en...” Maar voor Jakkals nog verder kon uitwei, was hiëna reeds iets van die verlede en hy merk laggend binnensmonds op: “Jy moenie jou meester slegter laat voel as wat hy reeds voel nie, jy moet hom opbeur en rede gee om beter te voel”
Die storie wys dat ons maklik die slagysters wat ons vir ander stel, aftrap.