Monday 21 May 2012

Die voëlvanger, die fisant en die haan



Die voëlvanger het, net toe hy op die punt was om ‘n eenvoudige slaaitjie van blare, kruie en pietersielie te geniet, onverwags besoek van ‘n vriend ontvang. Met die dat hy die afgelope tyd geen sukses met die vang van voëls gehad het nie, was die voëlhokke leeg en besluit die man toe maar om die spikkelfisant, wat hy mak gemaak het om die wilde fisante te lok, te slag. Maar hierdie fisant is nie op sy bek geval nie en hy smeek by die man om hom nie te slag nie:  “My liewe vriend, hoe gaan jy in die toekoms jag as dit net jy en jou nette is? Wie gaan namens jou die lugtige groot swerms naderlok? En wie gaan saans serenades vir jou lewer as jy weg dommel droomland toe?” So toe laat los die man maar die fisant en besluit om eerder die haan vir die tafel te slag. Die haan gee ‘n kreet van waar hy op ‘n tak sit en sê:  “As jy my sou dood maak, hoe sal jy langer weet hoe lank dit nog is na daglig toe – ek is immers die een wat jou smorens laat weet hoe laat dit is. Wie sal jou soggens aan elke nuwe dagtaak herinner, wie sal die dou op die voëls se uitgestrekte vlerke vir jou uitwys?” “Inderdaad,” kom dit van die man, “dis gerieflik om te weet hoe laat dit is, desnieteenstaande moet my vriend steeds iets kry om te eet, ongeag hoe laat jy sê dit is.”

Ek kan nie aan ‘n Afrikaanse spreekwoord dink wat hierdie fabel kan saamvat nie. Die naaste wat miskien aan een kom, is:  “Die kalf is in die put” (die werk moet dringend gedoen word al is dit ons op hierdie tydstip nie geoorloof om dit te doen nie, maar eerder veral gesê van iets wat noodwendig op ’n Sondag moet klaar kom).


Is daar iets wat oordra:  as die nood druk, waai reëls en regulasies by die agterdeur uit?


Sunday 13 May 2012

Die ou soldaat, sy wapens en die trompet


Daar was eenkeer ‘n afgematte ou soldaat, ‘n veteraan van vele veldslae, wat beloof het om eendag ‘n vuur te stook en sy eie wapentuig, ook alle wapens wat ‘n sterwende slagoffer oorwonne oorhandig het, en selfs alles wat hy as oorlogsbuit van voortvlugtiges uit die slagveld ontvang het, daarin te verbrand. Met die dat die lewe hom gunstig hanteer en alles vir hom mooi in plek geval het, was hy op die punt om die belofte wat hy gemaak het, tot uitvoer te bring. Hy het begin om al die wapens en elke vorm van oorlogsbuit, een vir een, in die vlamme te gooi. ‘n Trompet het uit die bloute luid protes aangeteken, hy het voet by stuk gehou dat hy onskuldig aan enige misdaad is en onregverdig in die brandende tonge van die vuur oorgelewer word. “Jy kan hoegenaamd nie aanvoer dat ek in enige aanval van watter aard ook al wat ooit teen jou geloods is, gebruik is nie,” kom dit protesterend van die trompet. Al wat ek en die klank wat ek voortbring ooit gedoen het, was om die manskappe op te wek en aan te spoor in hul opmars. Ek sweer, en ek roep die sterre as my getuie, dat ek ook altyd my bes probeer het om so stil en sag as moontlik oor te kom! Desnieteenstaande dit alles het die ou soldaat hom nogtans saam met die res in die vuur gegooi. Terwyl die trompet wriemelend in die bloeiende vlamme tot laaste rus kom, merk die man op:  “Alles wat jy aanvoer, bied my des te meer rede om jou te straf en met pyn en lyding deur hierdie smeltkroes te stuur. Al het jy op jou eie niks uitgerig of bereik nie, is jy niks minder skuldig of wreedaardig nie, jy het ander immers aangespoor om ongekende wreedhede te pleeg.”


Dis geen letterlike vertaling nie, maar basies die storie soos Babrius dit vertel het.

Vroeëre vertalings het geensins noodwendig gepoog om vertalings te wees nie, die storie is oorvertel, aangepas en dikwels van ‘n eietydse boodskap of sedeles voorsien.



Wat met hierdie fabel gebeur het, is amper ongelooflik – die trompet word toe sommer vroeg-vroeg 'n trompetblaser.

Joseph Jacobs vertel byvoorbeeld in 1897:



A Trumpeter during a battle ventured too near the enemy and was captured by them. They were about to proceed to put him to death when he begged them to hear his plea for mercy. "I do not fight," said he, "and indeed carry no weapon; I only blow this trumpet, and surely that cannot harm you; then why should you kill me?"
"You may not fight yourself," said the others, "but you encourage and guide your men to the fight."
Words may be deeds.



Enkele jare voor hom (1867) sien die fabel uit Townsend se pen soos volg daar uit:

A TRUMPETER, bravely leading on the soldiers, was captured by the enemy. He cried out to his captors, 'Pray spare me, and do not take my life without cause or without inquiry. I have not slain a single man of your troop. I have no arms, and carry nothing but this one brass trumpet.' 'That is the very reason for which you should be put to death,' they said; 'for, while you do not fight yourself, your trumpet stirs all the others to battle.'

 Dis moontlik dat hulle hulle laat lei het deur Sir Roger L'Estrange se oorvertel van die fabels in 1692:
 


Upon the Rout of an Army there was a Trumpeter made a Prisoner, and as the Soldiers were about to cut his Throat, Gentlemen (says he) Why should you kill a Man that kills No-body? You shall die rather for that, cries the one of the Company, for being so mean a Rascal, as to set other People together by the ears without fighting for your self.

THE MORAL. He that provokes and incites Mischief is the Doer of it. ‘Tis the Man that kills me, the Bullet is only a passive Instrument to serve his End that directs it.

Saturday 12 May 2012

Die arend en die pyl


‘n Storie met ‘n boogskutter wat wil wys dat dit bitter is om deur jou eie soort tot ‘n val te kom.
Die boogskutter lê aan op die arend en stuur die pyl sekuur uit sy boog. Dis klief deur die arend, wat ‘n oomblik nog gegun word om te kyk wat hom getref het. Sterwend sê hy, na hy die vere om die agterkant van die pyl opgemerk het:  “Baie is dit wat tot ‘n val kom deur juis dit wat hulle self ook opgelewer het.”
Dit herinner my ook aan ons wat in Afrikaans sê dat iemand sy eie graf grawe, of ook, ‘n lat vir sy eie gat pluk.
En dan is ons ook geneig om ander dikwels van skietgoed te voorsien wat teen onsself gebruik word.

Hierdie illustrasie uit die De Medici-kinders se Griekse handboek kan vir die eietydse oog verwarrend wees, maar dan moet ons onthou dat daar daardie jare nog nie iets soos strokiesprente was nie; die kunstenaars het dikwels meer as een moment van 'n verhaal in een raampie uitgebeeld.

Wednesday 2 May 2012

Twee fabels rondom 'n donkie en 'n leeu se vel


Ons is almal vertroud met die wolf in skaapsklere en weet dat jy nie soos die kraai met geleende vere moet pronk nie, maar miskien is almal nie bewus van die feit dat ook die donkie goed aan probeer jaag het in die vel van ‘n leeu nie.


Die boere, die donkie en die leeu se vel
Die storie van ‘n donkie, wat ons wil aanspoor om nie na meer te smag as wat ons toekom nie.
Hierdie donkie wou hom as ‘n leeu voordoen. Maar omdat hy aan sy eie natuur en geaardheid onder die son niks kon verander nie, besef hy toe dat hy maar sy drome om verwoesting onder die vrugte van die boere se arbeid te saai, aan die hand van ‘n kostuum sal moet verwesenlik. En dis presies wat hy toe ook onder die dekmantel van ‘n leeuvel gedoen het. ‘n Rukwind het egter opgesteek, korte mette met die vermomming gemaak en die leeu se ware kleure gewys. Die oomblik toe die boere onder wie se oes die leeu so rojaal te kere gegaan het, sien dat dit maar net ‘n donkie is, het hulle opgeruk en hom met stokke doodgeslaan.
Versierings en tooisels, van watter aard ook al, wat nie aan jou behoort nie, kan gevaarlik wees.

Hierdie is ‘n oorvertel van Aphthonius se weergawe van die storie. Ander weergawes wil dit hê dat die gebeure op Cyme, ‘n Aeöliese nedersetting in Klein Asië, afgespeel het. Die inwoners van die dorpie, wat spreekwoordelik in die volksmond as onnosel bestempel is, het nog nooit oog op ‘n leeu gelê gehad nie – hulle is in hul onnoselheid, ten spyte van die donkie se lang ore wat duidelik uitgesteek het, geheel en al deur die donkie in die leeu se vel oortuig. Hierdie anekdote het trouens tot ‘n spreekwoord aanleiding gegee wat ons op meer as een plek in die klassieke tekste raaklees:  “Dis soos met die donkie onder die inwoners van Cyme.”
In ‘n ander weergawe saai die donkie onrus, nie onder die boere nie, maar onder die diere:
Die jakkals, die donkie en die leeu se vel
‘n Donkie het vir homself die vel van ‘n leeu aangetrek en rondegeloop en al die diere ‘n groot skrik op die lyf gejaag. Toe die donkie op ‘n jakkals afkom, het hy haar ook skrik probeer maak, maar lank voor sy die donkie gesien het, het sy hom reeds gehoor. Daarom sê sy dan ook:  “Jy kan daarvan verseker wees dat ek baie bang sou gewees het, as dit nie was dat ek jou gebalk in die verte gehoor het nie.”
Netso is daar sekere liggewig outjies onder ons wat danksy hul voorkoms soos swaargewigte lyk; en dan kom hul ware identiteit na vore, die oomblik wat hulle hul monde oopmaak en iets probeer sê.

Kyk ek so na die illustrasies, is dit opvallend dat niemand 'n histories-korrekte boer wil uitbeeld nie - elkeen se boer isn geklee in die kleredrag van die tyd waarin die boek gedruk word. En dan is dit ook duidelik dat daardie verwysing na die stok, 'n sterk en blywende indruk op die illustreerders moes gemaak het.





Die illustrasies is deur Laura K Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.