Wednesday 20 March 2013

Die strandlopers en hul skip


‘n Groepie vakansiegangers wat rustig strandlangs stap, roep halt toe hulle hulself, na ‘n stewige stukkie klim en klouter teen ‘n steilerige rotswand op, skielik by ‘n lieflike uitsig oor die see bevind. Van daar bo vang ‘n dobberende stuk dryfhout in die verte die een se oog. Gou is almal onder die wanindruk dat dit ‘n groot skip moet wees wat op die horison oppad hawe toe is. Lank het hulle daar gestaan om die skip se vordering dop te hou, want dit lyk dan toe nou ook of die skip reg op hulle afstuur en nie verby vaar hawe toe nie. Soos wat die wind en die seestrome die dryfhout egter al hoe nader bring, verander hul verwagting ook gaandeweg; dit moet die een of ander kleiner tipe boot wees. Op die ou einde dan eerder ‘n skuit, of self iets nóg kleiner – ‘n vlot miskien. Toe dit so naby is dat ‘n mens sou kon uitswem soheentoe, en die son ook al sterk begin water terk, snap hulle skielik dat dit al die tyd niks anders as ‘n verrotte stuk dryfhout is nie. “Hoe dom van ons,” het die een man insig genoeg om op te merk, “hier koester ons al die tyd hierdie wonderlike verwagting van iets wat op die ou einde blyk om niks te wees nie.”

Dieselfde is waar van mense. Hoe dikwels is ons nie in vervoering oor iemand wat ons nog net van gehoor en gesien het, maar nie ontmoet het nie. Doen die geleentheid hom dan wel voor, en ons leer ken die persoon eers van nader, besef ons dan dat daar van al die wonderlikheid eintlik niks is nie.

Tuesday 19 March 2013

Die hond in die hooi

fotobron
Dit gebeur dikwels dat mense iets wat hulle self nie kan geniet nie, ander mense ook nie gun nie. Selfs al hou dit waaraan hul so verbete klou, vir hulself geen voordeel in nie, laat hulle ander nogtans nie toe om dit te geniet nie. Luister na 'n fabel van een so ‘n geval:  Daar was op ‘n keer hierdie baasspelerige waghond op die plaaswerf wat homself maar al te graag op die hooi in die stal gaan uitstrek het – eintlik ook sommer net van slegtigheid en niks anders nie; suiwer met die doel om daar te gaan lê en slaap. As die beeste dan van die hooi wil vreet, keer hy hulle, trek hy sy liederlike gevreet op ‘n grynsende grimas, wys hy skoon bewend van ingehoue woede sy tande en grom hy ook al te aggressief. Dis dan dat die beeste noodgedwonge maar moet terugval op iets wat hulle veel vroeër geëet het en so tussen die herkou deur opmerk: “Dis darem sommer baie gemeen van jou om ons grasvreters iets wat vir vleisvreters soos jouself van absoluut nul en geen waarde is, te misgun. Julle honde het in jul ganse lewens nog nooit jul kake aan strooi geslaan nie, en tog laat jy óns ook nie daar naby kom nie. Ons sien dikwels ook presies dieselfde gebeur met die afgekoude of –gekookte bene van dié van ons soort, en ook die ander plaasdiere, wat ons vooruit gegaan het – jy sal dit in daardie bek van jou sou vasklou, jouself basies so vasbeslote daaraan vasheg, dat jy geensins hoegenaamd daarvan kan vreet nie. Maar in die proses maak jou vasgeklemde greep dit vir een en elkeen van die ander honde op die werf ook onmoontlik om daaraan te kan kou.”

Die fabel wys dat dit nie maklik is om ander se afgunstigheid te vermy nie; met moeite kan jy soms probeer om aan die slegte gevolge daarvan te ontkom, maar jaloesie geheel en al vryspring, dit kan jy nie.

Monday 18 March 2013

Die bok met die blinde oog

Iewers langs die  rotsagtige kuslyn van ons land het ‘n bok wat in haar een oog blind was, die gewoonte  in belang van haar eie veiligheid aangeleer om so na as moontlik aan die hoë kranse, met die see aan haar blinde kant, te wei. So het die oog wat nog kon sien, binneland toe gekyk en sou sy die eerste tekens van ‘n naderende jagter uit daardie rigting vroegtydig op ‘n afstand kon bespeur. Sy het die blinde oog doelbewus  seekant toe gedraai terwyl sy wei, juis omdat sy geen wesenlike gevaar van daardie kant te wagte was nie. ‘n Spul mans wat op 'n dag daar verby geseil gekom het, het haar  egterbo op die lysie van die krans gewaar en geskiet. Die stomme bok het sterwend  haar lot bekla, sy was immers bang vir moontlike gevaar uit die binneland, 'n gevaar wat nie bestaan of realiseer het nie; aan die anderkant had sy die wêreld se gemoedsrus rondom dit wat toe juis haar dood beteken het.

Dit wat ons reken ons sal kan help, berokken dikwels eerder skade, terwyl dit waarop ons reken vir skade, ons eerder van hulp voorsien.

Friday 15 March 2013

Die plaasarbeider en Noodlot

fotobron

‘n Plaasarbeider, moeg en uitgeput van ‘n lang oggendskof se harde werk – hulle span grensdraad lynreg oor ‘n berg – strek homself oor die etensuur naby die kruin op ‘n hoë en gevaarlike rots uit. Hy val net daar, en‘n mens sou dit na die tyd kon beskryf as op die rand van ‘n gevaarlike afgrond, aan die slaap. Net voordat hy in salige diep slaap wegsink, kom Noodlot daar verby en wek hom met hierdie woorde: “A-nee-a, Boetman, dit kan mos nie! Ek smeek jou, ek beveel jou: word wakker! Rol jy vandag in jou slaap oor hierdie rand hier, en kom iets oor, dan is ék weer die een wat vir moet pa staan en heel onskuldig met al die blaam omgesaal word. Ek weet nie wat dit nou se dae met julle mense is nie, maar met elke terugslag is dit mos keer na keer, na keer, ek wat bygesleep word; dít terwyl dit  bykans sonder uitsondering julle eie onnoselheid is wat oorsaak van die terugslag is.”

Ons is nie die oggend waarvan ons fabel vertel met ‘n kamera op berg toe nie – maar dis ‘n ou laai van hom. Die foto hier bo, ‘n dag of wat vroeër geneem, getuig hopelik daarvan.

Thursday 14 March 2013

Die visserman en die vissie

fotobron
‘n Visserman wat vir daaglikse brood van sy net se vangs afhanklik was, sit na ‘n volle dag ter see met slegs in enkele baie klein ou vissie op sy skuit. Dié baie klein ou vissie hyg en spartel om veel meer as net asem, hy snik en snak en spartel om sy lewe gespaar te kry: “Ai, dierbare Oom Visserman, van watter waarde kan ek, ‘n nuttelose stukkie blink strepie in die son, ook nou vir jou wees! Ek het mos duidelik nog lank nie genoeg gegroei om my volle gewig en grootte te kon bereik nie – ek smeek by jou, spaar my lewe en gooi my terug in die see. Dis gelukkig darem ook nie meer só vreeslik lank nie, dan is ek ‘n bielie van vis, uitgeknip vir ‘n koningsmaal. Kom kry my dan weer en geniet my, of die wins wat ek vir jou inbring, ten volle en na behore.” Ons visserman, lankal ook nie meer vandag se kind nie, en met ontelbaar baie dae op die water agter die rug, is dadelik gereed met ‘n antwoord: “Ek sal mos ‘n volslae sot wees as ek vandag my huidige klein en effense sekerheid, ter wille van ‘n veel groter onsekerheid more, prysgee,” en hy plaas die baie klein vissie eenkant agter hom op die bodem van sy skuit.

Wednesday 13 March 2013

Die smous en die donkie

fotobron
‘n Smous is met sy donkie af soutpanne toe om sout te raap. Op pad terug en net mooi in die middel van so ‘n effense driffie langs die pad, trap die donkie skielik skeef en beland, kaplaks, sout en al, in die water. Toe sy baas hom eers weer veilig daar op en uit het, voel die donkie dadelik dat sy vrag nou aansienlik ligter is. Dis ook vir die man duidelik dat sy vrag sout in die water op moes gelos het; hy draai terug om dit wat hy sopas verloor het, eers weer te gaan herwin. Dié slag raap hy veiligheidshawe meer as ronde een en dis dan ook met ‘n aansienlike swaarder vrag dat hy en vaaljas ‘n rukkie later weer die langpad terug aanpak. By dieselfde driffie aangekom, struikel die donkie, wat duidelik geen esel is nie, kwansuis weer en staan hy ‘n wyle later eens weer met ‘n aanvoelbare ligter vrag uit die water op. Dis vir die smous amper of die gebalk wat hom begroet nou skielik soorts van triomfantelik is, so asof die donkie bly is hy het gekry wat hy verlang het. Weer draai hulle om, nie panne toe nie, maar verby see se kant toe, hawe toe; nie om verlore sout aan te vul nie maar om iets heel anders te loop aankoop. Ja, ons smous, wat gemenespel van die donkie se kant vermoed, maak aankoop van ‘n enorme groot bondel seespons. Al is die vrag nie naastenby so swaar soos die vorige twee vragte sout nie, is dit natuurlik ‘n stuk of vyftien keer groter en lomper as vaneffe. Hulle val in dieselfde pad terug, verby die panne, en kom by dieselfde driffie, en ook presies dieselfde klip in die middel van die driffie, waar die donkie dan nou so waar as wraggies weer ‘n keer kamstig sy poot swik, struikel, en met die grote vrag spons en al, op sy sy, in die water beland. Die stomme donkie versuip amper in die proses en toe die smous hom uiteindelik eers weer op en uit die water het, is daardie vrag van hom niks, nie ‘n dooie ons, ligter nie, maar het die slim sy baas gevang en die toertjie mooitjies geboemerang – die vrag is tien keer swaarder van al die water wat die spons met die val in die water absorbeer het. Gelukkig, en dis wat so mooi is van hierdie storie, het die donkie nooit ooit weer by daardie driffie langs die pad – trouens by geen enige ander driffie hoegenaamd langs watter pad ook al nie – geval, of gestruikel, of so veel as selfs net ‘n voet skeef neergesit, nie.


fotobron


Tuesday 12 March 2013

Die arend en die valkie


fotobron

“En vir wat lyk jy so hartseer,” vra die mannetjievalk toe hy langs ‘n hoogs bedroefde arendwyfie op ‘n tak neerstryk. “Ek soek nou al hoe lank,” sê sy, “vir my ‘n ordentlike man wat na behore na my sal kan omsien, maar só ‘n man kon ek in my dag des levens tot nou toe nog nie opgespoor kry nie.” “Nou maar waarom neem jy mý nie as dienswillige eggenoot en dienaar nie,” stel die astrante klein valkie voor, “ek is immers baie sterker as jy of enige ander een  van jou soort.” “Wil jy vir my sê dat jy genoeg van ‘n jagter is om ons tweetjies van kos te voorsien?” vra die arend. “Wel, met hierdie kale twee kloue van my,” spog die valkie, “het ek al telkemale in koelen bloed ‘n volgroeide volstruis platgetrek en valkalleen met my vonds aangevlieg blyplek toe.” Hiérdie woorde het die desperate arend summier oorgehaal om die valkie as lewensmaat te neem. Pas terug van die wittebrood herinner sy haar eggenoot aan sy belofte om vir haar ‘n volstruis te bring; hy klief toe manhaftig die blou lug in en swiep daar weg. Dis egter met die flouste verskoning vir 'n muis, so ‘n effense vaal ou veldmuisie, dat hy twee dae later daar uitgeput daar aankom – die stomme dingetjie wat hy krampagtig maar trots in sy twee kloutjies vasgeklem, stink glads al aan die ontbinding. Dit stank is trouens so erg dat dit dadelik duidelik is dat die valkie hom in sy ganse leeftyd nie kon gevang het nie – die stukkie  gedoente moes dae lank morsdood in die veld gelê het voor die valkie per hoogste toeval gelukkig genoeg was om hom op te kon gepik het. “Is dít,” vra sy ontevrede vrou, “jou interpretasie van die huweliksbelofte wat jy destyds so vol bravade aan my gemaak het?” Die valkie se enigste, en ongelukkig ook baie eerlike, antwoord is: “Om ‘n dame wat so edel is soos jy se guns te kon wen, en boonop jou koninklike hand in ‘n huwelik te verseker, sou ek jou enige iets belowe het, selfs al het ek maar al te goed geweet dat daar nooit iets van sal kom nie.”

Monday 11 March 2013

Die padda en die muis


fotobron


Die vaalveldmuisie vra die padda om hom tog net oor die rivierstroom te help. Die stroom lyk nou skielik vir hom veel sterker as toe hy ‘n dag of wat gelede daar verby gekom het. Hulle bind toe die muis se voorpoot met 'n stuk groen soetveldgras aan die padda se agterpoot vas, en hop-spring sukkel-sukkel af waterkant toe. Daar gekom, duik padda  toe weg, die muisie agterna. Maar skaars het hulle net mooi in die middel van die stroom aangekom of hierdie padda openbaar homself om ‘n opperste verraaier te wees – hy duik onverwags die dieptes in, bodem toe, met die stomme muis spartelend agterna. Gelukkig versuip die arme diertjie sommer gou en dobber sy lewelose lyfie kortvoorlank opgeblaas op die wateroppervlak rond. Padda sit nou daarmee af oorkantse wal toe om daarvan ‘n lieflike middagete te maak. Die grys lyfie wat nie saam met die stroom afdryf nie, maar eerder lyk of dit die stroom sonder enige swem- of skopbewegings kruis, vang ‘n valk se skerp oog. Hy swiep nuuskierig af en sien dis niks anders nie as ‘n vinnige happie wat gereed wag om opgeraap te word. Maar ook nie net een nie – sommer twee! Toe hy die dooie muis gryp, is die padda, steeds met die grasspriet daaraan vas, natuurlik saam die lug in opgesleep. En so is die verraderlike padda wat teen die muis gedraai het, ook gedood en opgevreet.

Wie onheil saai, sal onheil maai.

Hierdie is een van die sowat 13 fabels wat Martin Luther in sy leeftyd vertaal het. Hy het groot waarde aan fabels geheg en wou 'n boek uitgee met sy oorvertellings in. Hy het egter slegs by 13 uitgekom en dit is eers na sy dood publiseer.

Ek moet vandag saalopening waarneem en gebruik hierdie as vertrekpunt.

Friday 8 March 2013

Die bome se geskenk


Toe die man klaar het met die byl se lem wat hy sopas gesmee het, stap hy die bos in en vra die bome om hom ‘n hef van die sterkste hout denkbaar te gee. Na ‘n rukkie se gesprekvoering besluit die bome onderling dat hout van die Wilde Olyf die beste vir die takie sal wees. Met die lem eers mooi plek, die hef stewig in sy hand se vat, begin hy, sonder om ‘n oomblik te huiwer, om met die einste byl wat hulle nou net help voltooi het, onder al wat ander boom in die bos is, se takke en stamme in te klim. Die mens neem vir hom net wat hy wil, soveel hy wil, wanneer hy wil. Ek verbeel my dit was ‘n Bosvlier, maar dit kon een van die ander ook gewees het, wat toe teenoor sy buurman opmerk: “Dis ons verdiende loon, dis ons wat ons vyand so ewe die hef in die hand gegee het, toe hy daarom gevra het.”

Ja, jy moet twee keer dink voor jy iets vir jou vyand gee.


Thursday 7 March 2013

Die bokwagter en sy bokke


Dit het sonder enige vooraf aankondiging sommer net skielik sterk en swaar begin kapok. Ook nie lank nie, of die hele kudde was pikspierwit oortrek van die sneeu. Gelukkig ken die veewagter die landskap soos die palm van sy hand en dryf hy sy bokke kort voor lank in ‘n nabygeleë grot in. Hy was onder die indruk dat dit onbeset sou wees; groot was sy verbasing daarom toe hy op 'n hele trop wilde bokke, wat hom en sy kudde voorgespring het, daar aantref. Hierdie geharde bende was nie alleen meer bokke sterk as sy eie trop nie; maar al die swaarkry en wind van voor gewoond, was elkeen alkante toe ‘n goeie hand of wat groter, ook opsigtelik sterker gespierd daarby. Die gevolg is dat die veewagter, terwyl sy eie kudde honger lei, toe eerder die bietjie wat daar was en as voer deur sou kon gaan, aan die wilde bokke afstaan om húlle te versterk. Toe die gure weer weldra weer opklaar, kom hy egter met ‘n skok agter dat ‘n een en ‘n elk van sy eie bokke intussen afgevrek het, dit terwyl die skerminkels waarna hy so mooi omgesien het, op hul beurt reeds vort is en op 'n deel van die berg waar nog geen dier die betrokke seisoen gevreet of vertrap het nie, rustig aan die wei is. Van sy drome oor 'n groter kudde het net mooi niks gekom nie en is die belaglike gierigaard toe verleë sonder 'n enkele nuwe bok huis toe, maar meer as dit nog – hy had ook nie eens meer selfs net een van die oorspronklike kudde waarmee hy die seisoen afgeskop het, oor om agter sy naam te kan skryf nie.

Wednesday 6 March 2013

Die bome kla


Die stink – en geelhoutbome van die bos mor en kla deur die bank vir ‘n vale:  “Ons dra van alle bome hier die swaarste aan ons lewenslas; van almal is dit ons onder wie die swaarste met die kap van die byl, die trek van die saag, ingeklim word.” “Maar julle het mos net julleself te bedank vir hierdie toedrag van sake,” kom die antwoord, “as julle nie sulke goeie hout opgelewer het nie, as julle nie so diensbaar was nie, sou die mens mos nie so geneë gewees het om die byl teen jul stamme te lig nie.”

Sunday 3 March 2013

Die oorlog tussen die dwergmuishonde en die muise

fotobron
Die muise en die dwergmuishonde was jare reeds in ‘n ononderbroke baie bloedige oorlog gewikkel. Na elke veldslag, hoe lank nie nou al nie, was dit die dwergmuishonde wat telkens as oorwinnaars uit die stryd getree het. Die muise het hul herhaalde nederlae begin toegeskryf aan die feit dat hul leermag geen offisiere of iets wat as leiers of aanvoerders kon deurgaan, gehad het nie; hulle was voor die voet, om dit dan nou in soveel woorde uit te spel, niks anders as ‘n bondel ongeordende en ewe ongedissiplineerde voetsoldate, een en elkeen van hulle nie. Gevolglik is ‘n klompie onder hierdie mop, party op grond van hogere herkoms, ander gedagtig eerder aan die militêre dapperheid wat hulle al in ‘n stadium aan die dag gelê het, as soorts van leiers gekies om die strydmag, wat hulle ook ewe mooitjies in iets soos pelotons, kompanies en bataljons ingedeel het, op die slagveld aan te voer. Met dié orderreëlings, struktuur en algemene dissipline veilig in plek, is oorlog, met ‘n groot fanfare, opnuut teen die dwergmuishonde verklaar. Die nuutverkose generaals, en hierdie aanspreekvorm was vir die muise tog so mooi en vernaam,  het, ten einde meer sigbaar onder hul eie manskappe te wees, indrukwekkende kentekens van strooi en allerhande vere om hul nekke gebind; party had selfs ringe met spierwit kameeldoringboomdorings daarby ingewerk om die hals. Die groot slag had die betrokke dag skaars afgeskop of die muise word totaal en al deur die strydvaardiger dwergmuishonde oorweldig en moet hulle in aller yl na hul gate skarrel. Die generaals, met hul indrukwekkende halssnoere en ampskettings, het elkeen voor die voet gesukkel om met hierdie vreeslike gedoentes by hul gate ingewriemel te kom, hulle is die leste een deur die dwergmuishonde gevange geneem, ter dood veroordeel, en om die waarheid te sê, weldra opgevreet.

Hierdie lieflike tong-in-die-kies fabel het in ons eie tyd vele toespelings en betekenismoontlikhede. Toe dit iewers rondom die geboorte van Jesus van Nasaret uit Siries in Grieks aangeteken is, had dit egter ‘n godsdienstige slotsom wat 2000 jaar later vreemd op die oor val en die fabel se interpretasiemoontlikhede beslis verskraal:  Aanvoerders wat aan hul soldate aanmoediging bied sonder om goddelike bystand vir die komende veldslag af te bid, stuur reguit op 'n groot ramp af.

Die aap hou sy lyf visterman

fotobron

'n Visserman was naby die strand aan’t visvang op see. 'n Aap wat hom ruk lank van bo uit ‘n boom dopgehou het, wou hom dit graag nadoen. Terug op vastegrond los die visser sy nette net so op die strand toe hy eenkant toe loop om 'n uiltjie op sy ou plek in die nabygeleë digte struikgewas aan die soom van die sand te gaan knip. Die aap storm uitgelate gat-oor-kop nader en gryp die net in sy twee voorpote vas – nou is dit sy lank afgewagte beurt om vis uit te gaan trek. Maar omdat hy natuurlik hoegenaamd niks van die nette se werking geweet het nie, was dit nie lank nie of hy was totaal en al in die toue en knope, takelwerk en lusse dinge verstrengel. Die volgende oomblik beland hy toe nou ook heel benoud, en lankal moeg gespook, in die see en neem dit hom nie lank om te versuip nie. Die visserman kom kort hierna, toe dit ongelukkig lank reeds ver te laat was, op sy dobberende karkas af, trek dit uit op die strand en sê: “O, jou stomme ellendeling – jou volslae gebrek aan onderskeidingsvermoë, hoogsongesonde oordeel en domonnosel optrede het jou jou lewe gekos.”

Saturday 2 March 2013

Die jagter en die visser se paaie kruis


fotobron

Die jagter was bergaf op pad huis toe na sy jag terwyl die visser, van die ander kant af, weer bergop was met sy dag se vangs. Toe die twee se paaie kruis, lyk die visser se blink vissies skielik vir die jagter soveel aantrekliker as sy eie ou vaal en verlepte stukkie vleis; dit nogal op dieselfde oomblik dat die visserman net so skielik meer as bereid is om sy viskos uit die water te ruil vir ‘n sappige porsie vleiskos van die bos. Net daar en dan word 'n ruiltransaksie beklink en van hier af aan het hulle elkeen, elke dag, hul onderskeie suksesse ter land en ter see, uitgeruil om sodoende 'n meer aptytlike maaltyd tuis te kan geniet. Op die ou einde kry hulle egter die volgende advies: “Pasop, te veel van 'n goeie ding is lateraan ook nie meer 'n goeie ding nie, dit wat nou nog buitengewoon is, word kort voor lank die nuwe doodgewone, en dan verlang julle weer elkeen op sy beurt terug na presies dit wat julle oorspronklik so geniet het maar toe met soveel oorgawe van afgesien het.”

Die veebouer, landbouer en rooikat

fotobron
'n Vlugvoetige rooikat was aan’t wegvlug van 'n veeboer. 'n Landbouer, rustig aan die skoffel in sy ou lappie braakland, het egter gesien waar die dier homself in nouernood in 'n digte struikgewas onsigbaar probeer maak. Die rooikat sê toe vir hom: “Ek smeek jou in die naam van elke voorvader en god wat daar is, ook van ‘n ieder en ‘n elke wat vir ons lief en dierbaar is, om my nie vanmiddag hier te verklap nie! Ek het my in my ganse dag des lewens nog nooit iets anders nie as goed in die geselskap van jou en jou gesaaides gedra. Die landbouer  antwoord:  “Wat jy sê is waar, wees daarom gerus en nie bevrees nie, hou net jou lyf skraal daar waar jy is, jou bewegings skaars, en ontspan.” Met dié daag die skaapboer warm op die spoor van die rooikat, vuurwapen in die hand en ook lankal heel warm om die kraag daar op:  “Haai, jy, mielieboer, is hier nie straks vaneffe 'n ellendige rooikat verby nie?” “Inderdaad,” kom dit van die landbouer, “maar hy het vervaard en teen onaardige spoed voet in die wind geslaan en sy lyf dóérie kant toe klein laat word soos hy gehol het.” Terwyl hy praat swaai hy egter sy kop ewe slinks en wink hy met die oog, anderkant toe, in die rigting van die rooikat se ruigteskuilplek. Die jagter slaan in sy haas egter nie hierop ag nie en verdwyn spoedig uit die oog. Dis toe dat die landbouer hom tot die rooikat wend: “En toe, gaan jy my nie bedank vir die feit dat ek jou geheim, geheim gehou het nie?” Maar die rooikat antwoord bitter: “Wel, ek kan dit nie ontken dat ek jou tong baie dank verskuldig is nie, en daarvoor baie dankie dan ook. Maar wat daardie leuenagtige oë van jou betref, wens ek weliswaar iemand kom en ruk dit uit hul kaste uit en voer hulle vir die kraaie. En mog daardie verraderlike kop van jou wat netnou so lynreg van jou mooi woorde verskil het om ‘n gans ander deuntjie te fluit, sommer spoedig deur die einste skoffel daar in jou hand tot ewige stilte gemoker word.”

Die donkie en sy vername vrag


fotobron
 Omdat dit ‘n groot begrafnis sou wees, is besluit om dit liefs maar eerder op die dorp te hou. Dit was in die dae voor taxi’s en bakkies en ‘n donkie is ingespan om die kis en met die oorskot daar te kry. Orals langs die pad, en veral hoe nader hulle aan die dorp kom, het die mense uit respekte vir die vrag, plek gemaak, eenkant toe gestaan, die koppe laat sak en die mans het stil geword. Die vroue uit die gemeenskap wat geweet het watter groot man dit is wat verby kom, het egter ook luidkeels en skril, soos dit die gebruik is, hul meegevoel getoon. Ons stomme donkie, wat hierdie gedrag glad nie geken het nie, is toe onder die wanindruk dat dit vir hom is wat die al die plek en bohaai gemaak word en hy beginne grootkop kry. Dis ook nie lank nie of hy is skielik so vol eiewaan dat hy verseg om een poot verder voor ‘n ander te sit. Die drywer vererg homself gruwelooslik, klim lelik met die karwats onder hom in en herinner hom luidkeels daaraan dat die wêreld lank nog nie so agteruit gegaan het dat mense voor ‘n domkop donkie sal buig en aan die eerbetoon gaan nie.”

Hierdie fabel kan gebruik word as mense die eer wat ander toekom, verkeerdelik op hulself neem.

Friday 1 March 2013

Tierboskat en Haas se eie unieke hardloop


Tierboskat jaag toe een agtermiddag laat vir Vlakhaas uit haar skuilplek op, maar begin na ‘n kort dog vinnige jaagtog die aftog blaas. ‘n Astrante kraai wat alles van iewers hoog tussen die takke en blare deur gade geslaan het, krys dadelik heel smalend:  “O, aarde, hoe lyk dit my dan nou vandag so al asof die kleiner een van die twee, die enetjie met die korter bene, veel vlugvoetiger is as die ou grote met sy langer slanke bene!”  “Glad nie,” blaas Tierboskat kortaf, “maar dis so duidelik soos daglig dat jy geensins die verskil in ons twee se hardloop opgemerk het nie - ek het bloot maar net agter ‘n ligte ou klein versnaperinkie aangehol, Haas, aan die anderkant, se hele lewe, én ganse nageslag, het van sý hardloop afgehang.”

Die seuns en die paddas

Daar is vir seuntjies van alle ouderdomme darem maar min dinge so lekker soos om genoeg spoelklippers van die regte vorm en grootte bymekaar te kry, dit dan oor die water te gooi en te kyk wie s’n hop die meeste kere of die verste nie. So is ‘n groepie van hulle dan ook een middag heerlik teen die waterkant vir ‘n vale aan’t af show en shine vang. Wat vir die seuntjies jare se pret was, had die paddas, wat al om die ander keer per ongeluk raak gepot is, aan die oorkant in die vlak water natuurlik heel histeries en op hol. Dis toe dat die grootste en oudste onder die paddas dit waag om sy kop bo die watervlak uit te steek en te sê:  “Wil julle kêrels nie asseblief nou maar end kry nie, jong! Julle pret en plesier is vir party van ons outjies hier aan die oorkant niks anders nie as ons amperse sterwensuur!

Die arm man en die dood

fotobron
‘n Brandarm man loop oor die hitte van die dag met ‘n sware drag vuurmaakhout op sy een skouer. In ‘n stadium raak die pad net te ver, die opdraande te steil, die hout hopeloos te swaar en hy doodeenvoudig net tot die dood toe te moeg om nog een enkele keer sy een voet voor die ander neer te sit. Met ‘n diep sug slaat hy in die los grassies en bossies aan die soom van die pad neer en sit sy gedagtes uitasem om in woorde:  “Die Engel van die Here kan my maar kom loop haal, van my sal Hy ten minste darem kan sê dat hy my by my werk gekry het.” Met dié klop Gabriël hom hoeka aan die skouer en wil hy besorg weet:  “Ek hoor jy het my gesoek, is daar dalk iets waarmee ek jou behulpsaam kan wees.” So vloei daar toe mos nou skielik uit die bloute piksplinternuwe lewe in die arme man se moeë bene; hy spring heel flink en begeester op met die woorde: “Ai, maar is ek nie so vreeslik bly om te sien u is hier om my by te staan nie! Ek het eintlik maar net gewonder of u my nie vir ‘n kort oomblik kan help om hierdie stapeltjie hout gou weer op hierdie ou klipkop van my te kry voor ons elkeen maar weer ongesteur sy eie rigting kan inslaan nie.”

So byt ons almal ook maar vas aan die lewe, dit maak nie saak hóé sleg ons daaraan toe is nie.

The doberman, panther and squirrel

fotobron

An old Doberman starts chasing rabbits and before long, discovers that he's lost. Wandering about, he notices a panther heading rapidly in his direction with the intention of having lunch.
The old Doberman thinks, "Oh, oh! I'm in deep sh*t now!"
Noticing some bones on the ground close by, he immediately settles down to chew on the bones with his back to the approaching cat. Just as the panther is about to leap, the old Doberman exclaims loudly,

"Boy, that was one delicious panther! I wonder, if there are any more around here?"
Hearing this, the young panther halts his attack in mid-strike, a look of terror comes over him and he slinks away into the trees.
"Whew!" says the panther, "That was close! That old Doberman nearly had me!"
Meanwhile, a squirrel who had been watching the whole scene from a nearby tree, figures he can put this knowledge to good use and trade it for protection from the panther. So, off he goes.
The squirrel soon catches up with the panther, spills the beans and strikes a deal for himself with the panther.
The young panther is furious at being made a fool of and says, "Here, squirrel, hop on my back and see what's going to happen to that conniving canine!"
Now, the old Doberman sees the panther coming with the squirrel on his back and thinks, "What am I going to do now?" but instead of running, the dog sits down with his back to his attackers, pretending he hasn't seen them yet, and just when they get close enough to hear, the old Doberman says .......
"Where's that squirrel? I sent him off an hour ago to bring me another panther!"
Moral of this story...
Don't mess with the old dogs. Age and skill will always overcome youth and treachery!
Bull S#$t and brilliance only come with age and experience.

Nee, dis nie Esopus nie, nie Klassiek nie, dis 'n verlangse agter-agterkleinneef van my wat dit aanstuur.