Thursday, 14 March 2013

Die visserman en die vissie

fotobron
‘n Visserman wat vir daaglikse brood van sy net se vangs afhanklik was, sit na ‘n volle dag ter see met slegs in enkele baie klein ou vissie op sy skuit. Dié baie klein ou vissie hyg en spartel om veel meer as net asem, hy snik en snak en spartel om sy lewe gespaar te kry: “Ai, dierbare Oom Visserman, van watter waarde kan ek, ‘n nuttelose stukkie blink strepie in die son, ook nou vir jou wees! Ek het mos duidelik nog lank nie genoeg gegroei om my volle gewig en grootte te kon bereik nie – ek smeek by jou, spaar my lewe en gooi my terug in die see. Dis gelukkig darem ook nie meer só vreeslik lank nie, dan is ek ‘n bielie van vis, uitgeknip vir ‘n koningsmaal. Kom kry my dan weer en geniet my, of die wins wat ek vir jou inbring, ten volle en na behore.” Ons visserman, lankal ook nie meer vandag se kind nie, en met ontelbaar baie dae op die water agter die rug, is dadelik gereed met ‘n antwoord: “Ek sal mos ‘n volslae sot wees as ek vandag my huidige klein en effense sekerheid, ter wille van ‘n veel groter onsekerheid more, prysgee,” en hy plaas die baie klein vissie eenkant agter hom op die bodem van sy skuit.