Die hond in die hooi
Dit gebeur dikwels dat mense iets wat hulle self nie kan geniet nie, ander mense ook nie gun nie. Selfs al hou dit waaraan hul so verbete klou, vir hulself geen voordeel in nie, laat hulle ander nogtans nie toe om dit te geniet nie. Luister na 'n fabel van een so ‘n geval: Daar was op ‘n keer hierdie baasspelerige waghond op die plaaswerf wat homself maar al te graag op die hooi in die stal gaan uitstrek het – eintlik ook sommer net van slegtigheid en niks anders nie; suiwer met die doel om daar te gaan lê en slaap. As die beeste dan van die hooi wil vreet, keer hy hulle, trek hy sy liederlike gevreet op ‘n grynsende grimas, wys hy skoon bewend van ingehoue woede sy tande en grom hy ook al te aggressief. Dis dan dat die beeste noodgedwonge maar moet terugval op iets wat hulle veel vroeër geëet het en so tussen die herkou deur opmerk: “Dis darem sommer baie gemeen van jou om ons grasvreters iets wat vir vleisvreters soos jouself van absoluut nul en geen waarde is, te misgun. Julle honde het in jul ganse lewens nog nooit jul kake aan strooi geslaan nie, en tog laat jy óns ook nie daar naby kom nie. Ons sien dikwels ook presies dieselfde gebeur met die afgekoude of –gekookte bene van dié van ons soort, en ook die ander plaasdiere, wat ons vooruit gegaan het – jy sal dit in daardie bek van jou sou vasklou, jouself basies so vasbeslote daaraan vasheg, dat jy geensins hoegenaamd daarvan kan vreet nie. Maar in die proses maak jou vasgeklemde greep dit vir een en elkeen van die ander honde op die werf ook onmoontlik om daaraan te kan kou.”
Die fabel wys dat dit nie maklik is om ander se afgunstigheid te vermy nie; met moeite kan jy soms probeer om aan die slegte gevolge daarvan te ontkom, maar jaloesie geheel en al vryspring, dit kan jy nie.