Saturday 2 March 2013

Die jagter en die visser se paaie kruis


fotobron

Die jagter was bergaf op pad huis toe na sy jag terwyl die visser, van die ander kant af, weer bergop was met sy dag se vangs. Toe die twee se paaie kruis, lyk die visser se blink vissies skielik vir die jagter soveel aantrekliker as sy eie ou vaal en verlepte stukkie vleis; dit nogal op dieselfde oomblik dat die visserman net so skielik meer as bereid is om sy viskos uit die water te ruil vir ‘n sappige porsie vleiskos van die bos. Net daar en dan word 'n ruiltransaksie beklink en van hier af aan het hulle elkeen, elke dag, hul onderskeie suksesse ter land en ter see, uitgeruil om sodoende 'n meer aptytlike maaltyd tuis te kan geniet. Op die ou einde kry hulle egter die volgende advies: “Pasop, te veel van 'n goeie ding is lateraan ook nie meer 'n goeie ding nie, dit wat nou nog buitengewoon is, word kort voor lank die nuwe doodgewone, en dan verlang julle weer elkeen op sy beurt terug na presies dit wat julle oorspronklik so geniet het maar toe met soveel oorgawe van afgesien het.”