Sunday 3 March 2013

Die oorlog tussen die dwergmuishonde en die muise

fotobron
Die muise en die dwergmuishonde was jare reeds in ‘n ononderbroke baie bloedige oorlog gewikkel. Na elke veldslag, hoe lank nie nou al nie, was dit die dwergmuishonde wat telkens as oorwinnaars uit die stryd getree het. Die muise het hul herhaalde nederlae begin toegeskryf aan die feit dat hul leermag geen offisiere of iets wat as leiers of aanvoerders kon deurgaan, gehad het nie; hulle was voor die voet, om dit dan nou in soveel woorde uit te spel, niks anders as ‘n bondel ongeordende en ewe ongedissiplineerde voetsoldate, een en elkeen van hulle nie. Gevolglik is ‘n klompie onder hierdie mop, party op grond van hogere herkoms, ander gedagtig eerder aan die militêre dapperheid wat hulle al in ‘n stadium aan die dag gelê het, as soorts van leiers gekies om die strydmag, wat hulle ook ewe mooitjies in iets soos pelotons, kompanies en bataljons ingedeel het, op die slagveld aan te voer. Met dié orderreëlings, struktuur en algemene dissipline veilig in plek, is oorlog, met ‘n groot fanfare, opnuut teen die dwergmuishonde verklaar. Die nuutverkose generaals, en hierdie aanspreekvorm was vir die muise tog so mooi en vernaam,  het, ten einde meer sigbaar onder hul eie manskappe te wees, indrukwekkende kentekens van strooi en allerhande vere om hul nekke gebind; party had selfs ringe met spierwit kameeldoringboomdorings daarby ingewerk om die hals. Die groot slag had die betrokke dag skaars afgeskop of die muise word totaal en al deur die strydvaardiger dwergmuishonde oorweldig en moet hulle in aller yl na hul gate skarrel. Die generaals, met hul indrukwekkende halssnoere en ampskettings, het elkeen voor die voet gesukkel om met hierdie vreeslike gedoentes by hul gate ingewriemel te kom, hulle is die leste een deur die dwergmuishonde gevange geneem, ter dood veroordeel, en om die waarheid te sê, weldra opgevreet.

Hierdie lieflike tong-in-die-kies fabel het in ons eie tyd vele toespelings en betekenismoontlikhede. Toe dit iewers rondom die geboorte van Jesus van Nasaret uit Siries in Grieks aangeteken is, had dit egter ‘n godsdienstige slotsom wat 2000 jaar later vreemd op die oor val en die fabel se interpretasiemoontlikhede beslis verskraal:  Aanvoerders wat aan hul soldate aanmoediging bied sonder om goddelike bystand vir die komende veldslag af te bid, stuur reguit op 'n groot ramp af.