Tuesday 26 July 2011

Die Vrek


Dan was daar hierdie vrek wat al sy eiendom verkoop het en in die plek daarvan 'n lywige klont goud aangekoop het. Hy gaan begrawe dit toe net buite die stadsmure waar hy die welstand daarvan elke dag gaan inspekteer. 'n Arbeider merk die vrek se gedrag op, kry snuf in die neus en bring inderdaad die kloutjie by die oor uit. Toe die man weer weg is, neem hy die klont goud vir homself. Toe die vrek weer sy inspeksieronde doen en ontdek dat die wegsteekplek dolleeg is, bars hy in trane uit en begin die hare uit sy kop uit trek. 'n Verbyganger kan nie anders as om van die man se ongewone, bykans buitensporige, rou bewus te word nie en vra wat dit is wat skeel. Na hy die storie enduit geluister het, is sy raad: “Jy het nou genoeg gesanik. Staak dit. Kry vir jouself 'n klip en bêre dit waar jy die goud versteek het; vertel jouself dan die goud is steeds daar – dit is immers tog nie asof jy dit gebruik het toe jy dit nog had nie.”



Hierdie storie wys dat dit van nul en gener waarde is om oor iets te beskik wat jy nie ten volle en na behore benut nie.


Latere vertellers het skynbaar 'n ongemaklikheid met die vrek wat van al sy eiendom ontslae raak en plooi die storie om gemaklik in 'n ander tydraamwerk te pas:

‘n Gierige Vrek het bykans alles wat hy sy lewe lank versamel het verkoop, en vir homself ‘n redelike groot klont goud gekoop. Maar wat nou gemaak met sy goud? Hy begrawe dit toe in ‘n gat in die grond naby ‘n baie hoë sipresboom in sy groot tuin en gaan elke dag uit om te kyk of dit nog daar is. Een van sy arbeiders, vermoedelik maar ‘n tuinier, raak toe bewus van sy baas se vreemde daaglikse roetine en besluit om nadere ondersoek in te stel. Natuurlik, die oomblik toe hy die oubaas se geheim ontdek, toe neem hy die goud vir homself en verdwyn. Dis by die leë gat in die grond dat sy buurman hom opspoor – hy het die man hoor huil en skree en nader gekom om hom te kry waar hy die hare uit sy kop uit trek en bitterlik ween. Toe hy die hartseer storie uit die ou Suinigaard het, is sy raad eenvoudig: “Nou maar kry vir jou ‘n klip, enige ander klip, plaas dit in die gat en vertel jouself dis die goud wat daar lê. Dit sal vir jou van presies dieselfde waarde wees, want toe die goud nog daar was het jy, al kon jy as jy wou, nie die minste gebruik darvan gehad of iets daarmee gedoen nie.”

Ek is daarvan oortuig dat ek hierdie storie redelik onlangs vertel het, maar nou kry ek dit nie opgespoor nie, nie onder 'n naam wat verband hou met 'n suinigaard of vrek nie.

Ek onthou selfs hoe baie ek van die heel boonste illustrasie gehou het. Die studie van die fabels se illustrasies kan 'n studie op sy eie word.

Hierdie illustrasies, soos bykans almal, is deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel. Wat hierdie vrou, of haar studente, vir fabels doen, is ongelooflik.


Sunday 17 July 2011

Die veewagter en die verlore bulkalf


‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een van sy bulkalwers iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse soektog maak hy plegtig en biddend belofte dat hy een van sy lammers aan die gode sal offer as hy tog net die dief van sy bulkalf kan vastrek. En ook nie lank nie, terwyl hy in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van die heuwel besig om aan sy verlore bulkalf te vreet. Onmiddellik stuur hy weer sy oë en hande hemelwaarts in smekende gebed: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank ek net die dief van my kalf kan opspoor. Na my ontdekking, sopas, offer ek selfs saam met die kalf wat ek verloor het ook nog ‘n stoetbul daarby, solank ek net met my lewe van hierdie dief af kan kom."



Hierdie vertelling het ryklik borduur op die oer Griekse gegewe. Een van die vroegste aantekenings van die fabel vertel die storie eerder soos volg:


Een van die skaapwagter se vee was weg en hy bid by sy god om hulp. Die man beloof trouens sommer om een van lammers tot eer van die god te offer solank hy net sy verlore skaap terugvind. Soos hy stap en soek, kom hy toe ook af op die karkas van sy verlore skaap, dit wat daarvan oor is nadat 'n leeu dit tot teen die been verslind het. Dis toe dat die wagter sy gebed verander en sê:  “O, god, as ek net met my eie lewe aan die kake en kloue van hierdie wilde dier kan ontkom, is ek bereid om selfs 'n tweede skaap, uit dank en in ruil, vir my eie lewe, as offergawe aan te bied.

Hierdie fabel wys dat 'n mens sy eie lewe veel hoër ag as enige ander vorm van rykdom of aanwins.

Die wolf en die reier


As jy dink 'n lieplapper van 'n ploert sal jou vergoed vir 'n guns wat jy hom gedoen het, maak jy nie een nie, maar twee foute: ten eerste help jy iemand wat dit nie verdien nie en tweedens sal jy gelukkig wees as jy ongedeerd daarvan afkom.

'n Been het halfpad in wolf se keel af dwars gaan vassteek. Die pyn was iets allervreesliks, so wolf het met allerhande mooi beloftes van beloning begin uitkyk vir iemand wat hom kan verlos van die vervloekte ding in sy lyf.  Hy het van dier tot dier gegaan en op die ou einde was dit 'n goedgelowige reier wat geval het vir die mooi broodjies en beloftes wat wolf gebak het. Reier waag toe haar lang bek en nek in die hande van die diep gat halfpad op pad na wolf se pens toe en voer die hoogsgevaarlike prosedure suksesvol uit. Tog, toe sy haar beloofde beloning verwag, snou die wolf haar toe:  “O, jou ondankbare skepsel. Jy het sopas jou nek en kop sonder stamp, stoot of skraap uit my keel getrek, en dan het jy steeds die vermetelheid om vir 'n beloning te vra!”

Dit was min of meer soos Babrius die storie oorspronklik in Grieks aangeteken het. Dis altyd lekker om hom as bron te gebruik, oor sy vertellings altyd 'n tikkie humor, al is dit suiwer tong in die kies in het. Die outjies wat dit 1000 jaar later in Latyn vertaal het, was bykans almal baie serieus en het van die ligte vermaaklike aanslag ontslae geraak.
Fotobron

Die eerste keer wat ek probeer het om die vertelling in Afrikaans te bring, het ek 'n ander teks gebruik, en toe het dit soos volg uitgekom:

Om hom te verlos van ‘n been wat dwars in sy keel bly steek het, huur wolf teen ‘n aardige bedrag die dienste van ‘n reier om haar kop in sy keel af te druk en die been uit te pik. Wat sy toe ook doen. Maar toe sy aandring op haar betaling, wys wolf grommend sy tande en sê met ‘n grynslag:“Het ek jou nie reeds genoeg vergoed deur nie jou kop van jou nek te byt toe dit in my kake was nie. Wees eerder bly jy het met jou lewe daarvan af gekom as om nou op geld aan te dring."

Moenie beloning verwag vir diens aan die skelms en booswigte gelewer nie, wees inderdaad eerder dankbaar as jy gelukkig genoeg is om nog heelhuids daarvan te kan ontsnap.


Fotobron (tensy afsonderlik aangetoon)

Friday 15 July 2011

Die Wildevark en die Vos (Die Vlakvark en die Jakkals)


‘n Vlakvark staan onder ‘n groot ou bosveldboom en poets sy tande teen die stam. ‘n Jakkals draf verby en vra hom waarom hy sy tande in die gereedheid kry terwyl daar duidelik geen gevaar van nóg ‘n jagter, nóg ‘n leeu is nie. “Ek doen dit doelbewus nou,” kom dit van die Vlakvark, “want wat sal dit help as ek besig is om my tande te slyp juis op ‘n tydstip wanneer ek veronderstel is om hulle vir my eie verdediging te gebruik?”

fotobron

Thursday 14 July 2011

Die skilpad en die arend


Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie verwyt ou Skilpad ‘n swerm seevoëls naby hom op die rotse vir die feit dat nie een van hulle bereid is om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar bo in die lug rondhang, hoor Skilpad se gekerm en kom vind uit wat fout is. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend tong in die kies weet, “as ek jou help om die wonder van vlieg te ervaar?” Hy bied aan om Skilpad saam met hom die lug in op te neem en en daar met hom te sweef, maar teen ‘n prys. Skilpad is ook nie links nie en beloof sommer al die skatte van die see. “In daardie geval dan, sal ek jou nie net laat voel hoe dit is om te vlieg nie, sal ek jou daarna selfs leer om die kuns van vlug te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad in sy skerp kloue. Hy neem hom tot amper in die wolke voor hy hom laat los en wag dat Skilpad hom morsdood te pletter teen die rotse val. Wel wetend dat hy die volgende dis op Arend se spyskaart gaan wees, roep Skilpad uit: “Dis my verdiende loën wat nou besig is om met my te gebeur. Wat het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die wolke moes kom soek!

As mens altyd moet kry waarna hy wens, sal hy meer dikwels as nie, juis daardeur ruïneer word.