Monday 30 April 2012

Geleende vere



Ek het in my ouerhuis grootgeword met die Afrikaanse idioom wat dit wil hê dat ‘n mens met geleende (of anderman se) vere pronk. Dit wil sê iets gebruik wat aan 'n ander behoort en dan die eer daarvoor ontvang.
In ons huis is ons eerder daarteen gewaarsku om nie met geleende vere te pronk nie, soos wat jy (in ander konteks natuurlik) nie met anderman se kalwers mog ploeg nie.
Die idiomatiese pronk met geleende vere het waarskynlik sy oorsprong in die volgende fabel wat Phaedrus (c. 15 vC – c. 50 nC) aangeteken het.

Die kraai en die poue
Esopus bied ons ‘n baie leersame storie om nie met andermansgoed rond te loop nie, maar om ons lewens in ons eie en met ons eie te lei.

‘n Onnosel kraai, skoon geswolle en opgeblase van ydelheid en trots, kom toe af op ‘n aantal pouvere wat op die grond laat val en laat staan is. Hy tel dit toe op, trek dit vir homself aan, en probeer, nadat hy sy eie groep spottend en neerhalend vaarwel geroep het, om by die swerm poue aan te sluit. Die poue het hierdie voorbarige en aanmatigende aanstellerigheid met aggressie begroet:  hulle het die vere uitgepluk en die kraai gepik tot hy homself uit die voete gemaak het. Na hy sy moses so sleg onder die poue teëgekom het, is hy stert tussen die bene terug na sy eie soort toe. Daar aangekom is hy summier verdryf en weer eens aan fisiese pyn en openbare vernedering uitgelewer. Een van die kraaie, een van die wat hy met sy afskeid so lekker gespot het, sê toe vir hom:  “As jy tevrede daarmee was om tussen ons te bly, met dit waarmee die natuur jou toebedeel het, sou jy sowel die poue se vernedering, as ons verwerping en afwysing gespaar gewees het.


Phaedrus vertel nie sommer net van ‘n kraai nie, hy verwys na ‘n kerkkraai (die Engelse Jackdaw) wat ons nie in Afrikaans (Suid-Afrika) ken nie. Horatius het egter ook destyds reeds hierdie fabel wat aan Esopus toegeskryf word, neergeskryf, en hy was minder puntenerig – hy vertel sommer net van ‘n kraai.

Iewers uit die 4de eeu nC het ‘n Esopiese fabel deur Aphthonius van Antiochië, waarin daar ook van geleende vere (weer eens die van ‘n kerkkraai) sprake is, behoue gebly:

Die skoonheidskompetisie van die geveerdes

Die storie van ‘n kraai wat ons wil aanspoor om arrogansie te verfoei.

‘n Skoonheidskompetisie is gehou en al die voëls het saamgetrek om deur die Griekse oppergod, Zeus, beoordeel te word. Hermes, die boodskapper van die gode, het laat weet presies watter dag die kompetisie sou plaasvind en op die vooraand van die groot dag het al die voëls afgesit na die damme en riviere waar hulle van hul ou vere ontslae geraak en die nuwe fynste vere glad gestryk het. Die stomme kraai het egter geen spoggerige vertoonvere gehad wat hy in plek kon kry nie. Hy besluit toe om hom te tooi in die afvalvere wat die ander voëls agtergelaat het. Alleen ook maar die uil wat haar vere herken en die bedrogspul agtergekom het. Sy het haar eie vere gaan terug eis en die ander voëls aangehits om dieselfde te doen. Teen die tyd dat die kraai gestroop was van al die gesteelde vere, was daar ook weinig van sy eie vere oor, en het hy bykans poedelkaal voor Zeus moes verskyn om beoordeel te word.

Sierade wat nie aan jou behoort nie, kan jou groot verleentheid en vernedering besorg.



En steeds is dit het einde niet. Ons het Odo van Cheriton (die monnik hier iewers uit die 13de eeu) reeds leer ken as ‘n oorverteller van fabels wat met veel digterlike vryheid te werk gegaan het om sy teologie, tydsgees en waardes te pas. Hy het ons twee vermanings rondom geleende vere nagelaat.



Die kraai die arend en die vere

‘n Fabel wat die mense wat roem dat hulle iets het, maar nie daaroor beskik nie, aankla.

Daar was hierdie kraai wat besef het dat hy lelik en swart is. Hy gaan kla toe by arend wat voorstel dat sy vere van haar ander geveerde vriende leen. Die kraai het daad by die arend se woord gevoeg: sy het twee stertvere by die pou geleen, iets uit ‘n ander se vlerk, by duif en papegaai, ‘n donsie hier, ‘n borsveertjie daar. En so aan en so voort tot die kraai na haar eie mening sommer spoggerig gelyk het en die ander voëls eers begin uitlag het, toe selfs uit begin skel het. Die ander voëls sit toe op hul beurt af na arend om oor hierdie grootpraterige, ongepoetste kraai te kla. Arend se wyse voorstel was dat elkeen sy vere moes terugneem om die kraai verneder te laat. Dis presies wat die voëls gedoen het, en waarom die kraai vandag nog kaal en lelik is.

Dan het ons met die fabel van die hardwerkende miere en lui sprinkaan wat Odo op sy kop gekeer het om die miere in ‘n slegte lig te stel – so asof hulle vir hulle skatte op aarde bymekaar maak, in plaas van in die hemel – agtergekom dat Odo lief daarvoor was om die bordjies in bekende fabels te verhang. Sy ander fabel rondom geleende vere teiken nie die kraai of raaf wat die leenwerk doen nie, eerder die pou wat die uitleenwerk doen.



Die voëls, die pou en sy vere

Teen ydelheid en so voort.

Die pou was voorwaar ‘n merkwaardige voël, nie net oor die skoonheid van sy vere met hul lieflike kleure en patrone nie, maar ook omdat hy so edel was. Op pad na ‘n vergadering van die voëls, kruis sy weg egter met die van ‘n raaf. Die raaf vra hom toe of hy nie maar twee sy vere kan kry nie. Die pou is heel inskiklik, maar wil dadelik weet:  “En wat gee jy vir my in ruil vir my twee vere?” “Waar ek my in die geselskap van ander voëls bevind, onderneem ek om altyd jou lof te besing.” Die pou gee toe sommer ook dadelik twee van sy vere prys. So is dit dieselfde storie met die kraai wat verby gekom het en weg is met twee vere. Ook so met die koekoek, die loerie en nog talle ander voëls... tot die pou op die ou einde nie ‘n enkele veer meer oor had nie en kaal gepluk daar gestaan het. Die pou, wat veronderstel was om sy kuikens te help voed en warm te hou, was sonder enige vere daartoe geensins meer in staat nie. Toe die winter kom, toe sterf hy. Sy kuikens is vort om na die beste van hul gebrekkige vermoë vir hulle ‘n beter heenkome te vind.


Illustrasies is deur Laura K Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Saturday 28 April 2012

Die man, die wolf en die hond


Daar is talle fabels met ‘n wolf en ‘n man en skape in. Hierdie een, uit een van ons oudste bronne en die pen van Babrius, betrek op sy beurt die man se herdershond. Dis ‘n eenvoudige fabel, maar wat daarin afspeel is iets wat daagliks op soveel plekke in ons samelewing realiseer:
Terwyl die dag einde se kant toe staan, was die man besig om sy skape vir die nag in die kraal te kry. Hy dryf toe amper ‘n ligte, geelbruinerige wolf saam met die kudde deur die hek. Toe sy hond sien wat die man aanvang, merk hy op:  “Hoe op aarde kan jy ernstig wees met die beskerming van jou skape as jy hierdie skepsel onder ons toelaat!”

Thursday 19 April 2012

Die man en die wesel, en die een met die kat

Dis nooit lekker om te vertel van 'n wesel nie, juis omdat ons nie iets soos 'n wesel ken nie. 'n Iets hier by ons wat daaraan herinner is 'n muishond, maar die is ook net verlangs verwant. 'n Ferret is nader aan die wesel maar dit ken ons ook nie.

Tog het die wesels 'n belangrike rol in die Grieke kultuur van destyds gespeel. Die Grieke het nie noodwendig almal katte op die werf aangehou om die rotte en muise se bevolkingsgetalle te beheer nie, maar ook wesels.Wesels word dan vandag nog in party lande as troeteldiere aangehou.


Die man en die wesel

In ‘n poging dat daar dadelik korte mette van haar gemaak word, pleit die wesel by die man wat haar gevang het: “Spaar tog maar my lewe  - ek is immers die skepsel wat met die verpestelike rotte en muise in jou huis afreken.”  “As dit in my belang was, dat jy onder die pestilensies afgemaai het,” kom dit van die man, “sou ek jou lewe maar al te graag gespaar het. Maar nou is dit ongelukkig ‘n feit dat jy suiwer jou werk doen om nie net die muise op te kan vreet nie, maar ook elke laaste krummel kaas of wat ook al waaraan hulle sou geknaag het, was hulle nog in die lewe. So moenie op dankbaarheid van my kant reken vir die sogenaamde gunsies waarop jy my trakteer nie!” En toe is dit die einde, nie net van die man se woorde nie, maar ook van die wesel.
Jy sal jouself maklik in hierdie storie herken, as jy een van die mense is wat jou eie belange dien terwyl jy ewe skynheilig aan die ander voorgee dat dit alles eintlik in hulle belang is.

Onder die Middeleeuse Christene was die fabels baie gewild – selfs iemand soos laat soos Martin Luther het die fabels ten sterkste gepropageer en inderdaad ‘n hele handvol vertaal.

Odo van Cehriton het in die 1300’s ‘n versameling van ongeveer 120 gelykenisse byeengebring. Nagenoeg 90 hiervan herinner ten sterkste aan Esopiese fabels – talle daarvan is trouens net variasies en ander eietydse weergawes van ouer bekende fabels in Grieks.

Odo het sy fabels egter in ‘n sterk Rooms-Katolieke tradisie oorvertel.
Die volgende fabel van Odo, hoewel die strekking daarvan verskil, herinner sterk aan eersgenoemde fabel rondom die man en die wesel wat Phaedrus ongeveer 1200 jaar van te vore berym het.

Die man en die kat
Teen biskoppe wat te sterk op hul direkte ondergeskiktes reken:
Daar was ‘n sekere man wat ‘n hoeveelheid kaas in sy spens opgesluit had. Daar kom toe ‘n muis verby wat dadelik inspring en begin knaag. Die man weet toe nie wat om te doen ten einde die situasie te beredder nie. Ten einde laaste kry hy vir hom ‘n kat in die spens – maar hierdie kat het sowel die muis as die laaste krummeltjie kaas opgevreet.

Ek keer vir illustrasies terug na die man en die wesel omdat die een van die man wat die wesel aan 'n leiband uitlei om hom met 'n stok dood te slaan my interesseer en die volgende illustreerder duidelik die ouer illustrasie (hier bo gebruik) moes geken het. En dan is daar ook die outjies wat die idee van die wesel in die komuis of spens oorgeteken het.




 Al die illustrasies is deur Laura K Gibbs op FLICKR toeganklik gemaak.

Tuesday 17 April 2012

4 Fabels oor miere


Die volgende fabel herinner sterk aan ‘n soortgelyke een wat baie meer bekend is in ons eie tyd.

Die mier en die miskruier
Om proviand vir die winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye agter allerhande soorte graan aan geskarrel. ‘n Miskruier wat hom heeltyd dopgehou het, het tot die gevolgtrekking gekom dat die mier ‘n hoogs ongelukkige stomme drommel moet wees oor hy die ganske dag om moes werk en homself nie eers een keer, soos al die ander diere, ‘n oomblik van rus gegun het nie. Maar op die miskruier se snedige opmerkings en gevolgtrekkings het die mier geen ag geslaan nie. Kom die winter egter, en die eerste reënbuie spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is:  “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd terwyl ek besig was met my die spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by te kom bedel nie!”
Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.

Ek kan my nie die Britse platteland met miskruiers voorstel nie, maar daar sal wees. Ek kan my egter nog minder Victoriaanse kinderboeke met prentjies van miskruiers daarin voorstel. Daarom miskien dat die storie met ‘n sprinkaan as hoofrolspeler bekendheid verwerf, terwyl die stomme miskruier in die vergetelheid versink het:
Die mier en die sprinkaan
Gedurende die wintermaande het ‘n mier oorleef op die graan wat hy gedurende die somermaande vir homself vir later opsy gesit het. ‘n Sprinkaan kom klop toe bakhand aan met die versoek dat die mier van sy kos moet deel. Die mier wil toe weet: “En wat het jy die hele somer lank gedoen – aangesien jy duidelik nie besig was om kos op te gaar vir later se eet nie?” Die sprinkaan antwoord toe:  “Omdat ek so lekker gesing het, het ek nie nog tyd gehad om aan oes ook te dink nie.” Die mier kon maar net vir die sprinkaan se antwoord lag en haar voedselvoorraad nog verder onder die grond gaan wegsteek. “Omdat jy die hele somer soos ‘n sot om gesing het, moet jy nou maar self sien-kom-klaar om die ganske winter op eie beentjie om te dans.”
Hierdie fabel beeld lui, sorgelose mense uit wat hul tyd en energie op beuselagtighede verkwis en sodoende later gebrek lei en op baie uit mis.

Aan die ander kant het ons ook ‘n fabel wat die miere se gedrag kritiseer, en is ‘n mens nie verbaas as jy agterkom dis ‘n dertiende-eeuse Rooms-Katolieke monnik wat dit aangeteken het nie – vir al wat ons weet het hy nog aan ‘n Franciskaanse orde behoort. Ek verwys na Odo van Cheriton wat in die 1300’s nie gehuiwer het om die klassieke fabels ‘n Christelike kleed aan te trek nie:
Die miere en die varke
‘n Fabel teen die ydel opgaar en bymekaar maak van materiële besittings.
Miere gaar vir hulself ‘n groot hoop graan op om gedurende die winter van te kan leef, maar op ‘n sekere punt kom die varke, krap alles deurmekaar n vreet die kos alles self op.
Dieselfde ding gebeur baie met mense:  Hulle gaar gereeld en op groot skaal op, maar dan kom die diewe, die belastinggaarders, selfs bloedfamilielede – en alles is daarmee heen, so nie gebeur dit dikwels dat al die rykdom aan vreemdelinge nagelaat word.
Die mier se gedrag is egter honderde jare van te vore al in ‘n baie negatiewer lig gesien as die een waarin Odo dit hier bo sien:
Die gode en die miere
Lank gelede was die dier wat nou se dae as ‘n mier bekend staan, ‘n man wat immer vreeslik besig was om te boer. En tog was hy steeds nie tevrede met die vrug van sy eie harde handewerk nie – hy het onder sy bure se oeste ook gesteel en vir homself geneem. Die gode het kwaad geword vir hierdie gulsige gedrag en die man toe verander in dit wat ons vandag as “mier” ken. Die man het wel van gedaante verander, maar kon sy eertydse gewoontes na al hierdie jare nog steeds nie afskud nie – daarom dat die mier vandag nog steeds deur die landerye trek en vir homself die vrugte op ander se arbeid pluk, juis sodat hy vir sy eie gebruik op kan gaar.
Hierdie fabel wys ons dat iemand met ‘n slegte karaktereienskap of bose natuur, wel van voorkoms mag verander, maar dat sy optrede ten spyte daarvan altyd steeds dieselfde sal bly.

Ek het die illustrasies hier gekry.