Friday 23 March 2012

Die aap en leeu se asem


Nadat Leeu homself tot koning van die diereryk uitgeroep het, wou hy sorg dat hy eendag onthou word vir sy offervaardige regverdigheid. Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en geregtigheid tot op die letter te laat geskied, sy dieet aansienlik verskraal en ingekort het om homself soos ‘n wafferse gras- en blaarvreter te gedra. Natuurlik kon hy nie die karnivoor in hom verloën nie en het hy stelselmatig begin om die een dier na die ander eenkant toe te roep om in die privaat vir hom te kom sê of sy asem stink of nie. En toe is dit eenvoudig:  as jy sê die koning se asem stink, word jy opgevreet oor jy hom in die gesig beledig; sê jy dit stink nié, lieg jy, en word jy vir jou straf opgevreet. Nadat hy op hierdie manier met ‘n hele paar van sy onderdane afgereken het, het hy hom tot Aap gewend om na die gesteldheid van sy halitose te verneem. Aap is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en meld summier dat die kroon se bek die geur van kaneel adem, asof dit ‘n altaar vir die gode is. Leeu voel toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net vir bokveld toe te stuur en kom met ‘n nuwe strategie: hy maak of hy kwansuis vreeslik siek is en die koninklike dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die man se lastige naarheid op die maag voor. “Konings mag dan seker maar eet wat hulle wil,” kom dit van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan aapvleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie, toe word Aap om die lewe gebring om die koning op die pad van herstel te plaas.”
Of jy nou jou bek rek en of jy hom nou toesluit, jou straf is een en dieselfde.
Dan moet daar onthou word dat kaneel in die wêreld van die Klassieke Grieke en Romeine, selfs so laat as die Middeleeue, uiters kosbaar was, juis oor die lang roete wat dit moes volg vanaf die Indonesiese spesery-eilande, deur Arabië, na Nood-Afrika en die Mediterreense hawens.

Thursday 22 March 2012

Die paddas en die strydende bulle


Dis die geringstes wat die meeste daaronder lei as die grootste kokkedore oorlog maak.

‘n Padda het met haar oë bo die oppervlakte van die poel waarin sy bly, van groot afstand die stryd tussen twee vegtende bulle dopgehou. “O, nee, “ roep sy uit, “die onheil is op ons!” ‘n Ander padda wil toe weet waar sy daaraan kom, veral omdat die twee bulle in ‘n leierskapstryd binne hul trop, baie ver van die paddas se poel gewikkel was. Die eerste padda verduidelik toe:  “Hoewel hulle daar bly en ons hier, en hoewel hulle beeste is en ons paddas, weet ek nou al dat die verloorder onder daardie twee uit die grasveld verdryf gaan word en hier by ons in die moeras sy wonde gaan kom lek. En wie is dit wat dan onder sy hoewe vertrap gaan word? En dís hoekom hulle bakleiery op ‘n afstand daar ver, vir ons, hier, ‘n saak van lewe en dood is.”




Sunday 18 March 2012

Die sperwers en die swane


'n Storie oor sperwers en swane wat ons wil aanspoor om nie dinge te wil doen wat nie by ons tuishoort nie.

Moeder Natuur het sperwers oorspronklik met dieselfde mooi stemme geseën as die van die swane. Maar toe die sperwers eers een maal gehoor het hoe runnik perde, toe is hulle daardeur totaal betower en wil hulle dit nadoen. Al die oefen om soos 'n perd te runnik, het soveel spanning op hul stembande gesit, dat die stomme sperwers laterhand letterlik stom was:  hulle het toe nooit geleer om te runnik nie, en verleer om te sing.

Om iets of iemand na te boots wat nie by ons pas nie en bo ons vuurmaakplek is, kan tot gevolg hê dat ons die bietjie wat ons het om op te roem, later ook kwyt is.

Wednesday 14 March 2012

Die wolwe en die honde




Die wolwe se segspersoon en afgevaardigde tree toe met die honde in gesprek:  “Waarom sal ons, wat reeds soveel in gemeen het, nie dan maar eensgesind soos broers saamwoon nie. Ons verskil immers net wat een ding betref – ons is vry; julle soos slawe aan die mens verkneg. En waarby bring dit julle uit? Halsbande en sweepslae. Julle word ingespan om hul skape op te pas, en terwyl hulle weglê aan die lamsvleis is dit hoogstens die bene wat na julle kant toe gegooi word. As julle nou net by ons voorstel inkoop, dan gee julle die skape prys, en ons geniet hulle saam tot ons welgedaan en versadig is.” Die wolwe se aanbod het vir die honde baie aantreklik voorgekom en hulle het ingestem. Toe die honde egter by die groot trop wolwe aansluit, is hulle natuurlik dadelik bespring en 'n een en elk verskeur.

Hierdie fabel wys wat die voorland is van daardie outjies wat hul wortels verraai.

Die illustrasie, deur Laura K Gibbs, toeganklik gemaak, is nie vir hierdie fabel geskep nie. Ek kon egter nie een wat vir hierdie fabel doelgemaak is, sonder kopiereg opspoor nie. Ek interpreteer die twee diere dan maar as die segspersone en hoofonderhandelaars van die twee partye. Maar ek weet dis bietjie wyd gevat.

Friday 9 March 2012

Die bokram, die wolf en die skaap



As 'n leuenaar, in ewe guur oneerlike geselskap, met jou wil besigheid doen, is dit nie om 'n goeie slag te slaan nie maar om vuil en gemene spel te pleeg:

'n Bokram stap toe af op die skaap om 'n proeseltjie of wat van dié se kos te leen. Hy verseker hom skaap kan 'n gerus wees, sy goeie vriend wolf sal borg staan vir die lening. Die skaap kon egter moeilikheid op 'n afstand sien aankom en antwoord:  “Jou vriend wolf het ek leer ken as een wat sommer net vat wat hy wil hê en dan koers kry, jy, op jou beurt, is 'n kalant wat met die geringste windjie van verandering vinnig voet in die einste wind slaan. Wat is die kans dat ek enige een van julle twee opspoor as ek wat my toekom, terug kom vra?"



Die takbok in die wingerd




Die voortvlugtende bok het tussen die blare van 'n wingerdstok skuiling van die jagters gevind. Die oomblik toe die jagters verby is, het sy egter aan die jong blare en lote begin vreet. Een van die jagters het 'n geritsel gehoor, omgekyk, die bok gewaar en met sy diskus doodgegooi. Sterwend prewel die bok:  “Dis my verdiende loën – waarom moes ek die wingerdstok wat my lewe gered het soveel skade berokken?


Hierdie fabel wil waarsku om die wat jou goed aandoen, nie te na te kom nie.




Illustrasies toeganklik gemaak deur Laura K Gibbs

Tuesday 6 March 2012

Die leeu en die bokkie


Die leeu beleef oomblikke van verwoede waansin. ‘n Bokkie sien  hom van waar sy op veilige afstand tussen die bome na hom kyk en sê:  “O, aarde, die gort is nou propperlie gaar! Noudat Leeu so opgeklits is, sal niks hom keer nie – en hy was al klaar meer as waarvoor ons opgewasse was, en dit nog voor hy van sy trollie afgeklim het.”

(Ja-ja, die leeu lyk soos 'n kietsiekat, maar hierdie teks, al het Babrius dit oorspronklik opgeteken, is nooit in een van die groot Latynse vertalings of in een van die vrye Engelse uitgawes opgeneem nie - ek kon gevolglik geen illustrasie opspoor nie. Dit lyk darem, so bietjie, of Leeu sy naels teen die grond krap - asof hy kwaad kan wees.)

Hierdie fabel laat my lekker giggel, seker maar omdat enige werknemer wat aan 'n baas se nukke en grille uitgelewer is, daarmee kan identifiseer.

Partykeer is outjies bang om Maandag vergadering toe te gaan, want hulle weet wat Vrydag, of oor die naweek gebeur het om die baas om te krap.

Of so hoor ek maar sê hulle.

Ek getuig nie self nie.