Thursday 30 June 2011

Die verliefde Leeu

'n Leeu was tot oor sy ore toe verlief op die veldwagter se dogter en het daarop aangedring om met haar te trou. Natuurlik wou die veldwagter dit nie toestaan nie, maar was tog ook bang vir wat die Leeu hulle sou kon aandoen. Gevolglik willig hy dadelik in, op een voorwaarde dat die Leeu sy tande en naels laat uittrek – die dogter was kwansuis daarvoor baie bang. Leeu was maar al te gewillig en is dadelik daar weg om die trekwerk gedoen te kry. En toe hy later papbek en met ewe pappe kloue daar aangestap kom om sy bruid te haal, toe gryp veldwagter ‘n dik stok en jaag vir Leeu terug die bos in en ver weg oor die berg.

Aphthonius het die fabel aangeteken dat die leeu doodgemaak word en nie so lig van sy blinde liefde af kom nie. Hy wys dan ook daarop dat die fabel vertel word om die gevare as ons gehoor gee aan ons begeertes, uit te lig. Aan die einde voeg hy egter by:  As jy jou vyande se raad volg, gaan jy in die moeilikheid beland.

Tuesday 28 June 2011

Die Varkie, die Skaap en die Bok


Die boer het 'n sog, 'n bokooi en 'n skaapram op sy wa gelaai en met hulle afgesit dorp toe. Terwyl die donkie hulle trek, het die skaap en die bok gou hul lê gekry en rustig geraak. Hul chauffeur is egter gepla deur die sog wat letterlik soos 'n maer vark te kere gegaan het. Die donkie vra toe waarom op deeske aarde die sog nie kan stilbly soos die ander twee nie, maar die sog antwoord:  “Die bokooi word aangery ter wille van haar melk, die skaap in belang van sy wol. En ek ry saam om net een rede wat vir my die verskil tussen lewe en dood is.”

Wat maar net weer eens bewys dat elke mens 'n goeie rede vir sy eie optrede het.



In die boek Die lewe van Esopus waarvan die oudste eksemplare waaroor ons vandag besit uit 100 nC dateer, vertel  die Esopus in dié boek 'n ander rede waarom die skaap so stil is, die bok en die skaap is gewoond daaraan om deur die boer hanteer te word. Vandaar miskien die volgende weergawe van dieselfde fabel:
'n Speenvarkie is saam met ‘n Skaap en Bok in ‘n klipkraaltjie na aan die huis aangehou. Op ‘n mooi dag toe Boer die Varkie optel en van oraloor bevoel en bevat gaan die varkie, letterlik, soos ‘n maer vark te kere en sit die allervreeslikste keel op. “Wat is dit nou met jou?” wil Bok weet, “Boer hanteer my en Skaap gereeld.” “En ons gaan nie so te kere nie,” voeg Skaap by. “Maklik vir julle om te praat,” kom dit van die Varkie, “maar onthou, aan julle vat hy net ter wille van julle melk of wol, vat hy aan my, vat hy om te voel of hy my al kan slag.”

                   


Alle illustrasies is deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

Sunday 26 June 2011

Die Weduwee en haar twee Huisbediendes



‘n Weduwee wat baie gesteld was op die netheid van haar huishouding het twee bediendes gehad wat haar bygestaan het. Sy was in die gewoonte om hulle met eerste hanekraai te wek en dan het hul dagtaak begin. Die twee Huisbediendes wat geensins daarmee gedien was om so vroeg soggens al in die tuig te spring nie, het besluit om van die haan wat die weduwee so vroeg uit die vere had, van kant te maak.  En was hulle nie spyt gewees nie! Gou-gou het hulle agterkom dat hulle vir hulself nog slegter tye as voorheen op die hals gehaal het – nou het die weduwee nie meer vir die opstaantyd op die haan se gekraai gereken nie, en hulle dikwels sommer nog in die middel van die nag wakker gemaak om te begin werk.


Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel

Tuesday 21 June 2011

Die Verskalf en die Os




Daar was hierdie verskalf wat in die weiveld losgelaat en laat staan is – nooit het die las van 'n juk op hom gehad nie. Toe die kalf op 'n bul afkom wat 'n ploeg trek, merk hy teenoor die bul op: “Jou arme dier! Hoeveel swaarkry en harde werk moet jy nie verduur nie!” Die bul sê egter niks, hy gaan net voort met die ploeg. Later, toe dit tyd geword het om 'n dankoffer te bring, is die ou bul bevry van die juk en weiveld toe gelei. Ook toe dat hy opmerk die bulkalf wat nog nooit 'n dag se werk gedoen het nie is intussen aan die horings gebind en word weggesleep iewers heen. Toe dit heel duidelik word dat die bulkalf se bloed gekies is om oor die altaar te vloei, laat hoor die ou bul van hom: “So dis die rede waarom jy nooit ingespan is nie! Al is jy nog jonk sit jy die reis reeds voort na daar waar jou voorgangers eers heelwat later by jou gaan aansluit: jy gaan geoffer word, en die juk wat jou skof gaan skaaf nie, maar 'n byl waaronder jou nek gaan lei.”



'n Ander klassieke vertelling het 'n heel pessimistiese boodskap aan die einde: “Dit is ook die lot van die mensdom: dood ontmoet die wat gelukkig is, vroeg; maar die stomme ellendiges word die dood dag na dag nie gegun nie.

Voor ek toegang tot die klassieke Griekse en Latynse tekste gehad het, was ek aangewese op 'n Victoriaanse oorvertel van die fabels. Daarom dat ek so baie van die fabels twee keer vertel - my eerste vertaling, en dan die vertaling van die klassieke. Daar is dikwels niks verkeerd met die Victoriaanse oorvertel nie, maar ek verkies dit om met die oudste tekste te werk. Soos hier aanvanklik die geval was. Die nuutste teks van die twee volg.

 
'n Verskalf sien oor ‘n afstand hoe hard ‘n gejukte Os voor ‘n ploeg werk aan die Boer se landerye. Daardie aand spot hy die Os oor sy noodlot om sware arbeid te verrig, terwyl hy wat Verskalf is, ‘n lui-lekker lewe in ‘n groen kampie geniet. Maar kort hier na, met die koms van die oesfees, word die Os van sy dagtaak onder die juk verlos, maar die Verskalf met rieme gebind en na die altaar geneem as dankoffer vir die milde oes. Die Os sien wat besig is om te gebeur en sê glimlaggend vir die Verskalf:  “So dis hoekom jy ‘n lewe van niksdoen in die kampie gegun is – jy het op die punt gestaan om geoffer te word.”




Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.

Saturday 18 June 2011

Die swael en die kraai


Die swael en die kraai het stry gekry oor hul vere. Talle gedagtes is heen en weer gegooi maar kraai het spoedig ‘n einde aan die gesprek gebring: “Jou lieflike vere is alles goed en wel in die lente en somer, maar kom die herfs moet jy vertrek na ‘n warmder land, dan, en dwars deur die hele winter, beskerm my vaal en vervelige veredos my teen die koue.
Die “lering” wat aan die einde van hierdie fabel aangegee word is dat mooiweersvriende nie veel werd is nie. Op my eie sou ek nie noodwendig daarby uitgekom het nie, by enkele ander interpretasies wel.

En toe kom ek af op 'n vertaling van 'n klassiek Griekse teks en toe besef ek, ek het aanvanklik met 'n baie vrye oorvertel van die oorspronklike gewerk. Vertaal uit die oudste Griekse bron tot ons beskikking, klink die storie effe anders:


Die swael en die kraai het stry gekry oor wie van die twee die mooiste was. Sê die kraai toe vir die swael: “Jou skoonheid sien ons ook net in die lente, en kom winter, dan is dit nie daarteen opgewasse nie. My uiterlike, aan die ander kant, weerstaan sowel die koue van die winter as die hitte van die somer.”

Die fabel wys dat die liggaam se krag en gesondheid veel meer werd is as fisieke skoonheid of die aanvalligheid van die jeug.

Friday 17 June 2011

Die Takbok in die Beeste se stal


‘n Takbok, moeg gejaag deur ‘n trop jaghonde, en heeltemaal blind van vrees vir die gevaar wat hy nader, gaan soek skuiling tussen ‘n spul beeste in ‘n stal op die plaaswerf. ‘n Os staan nader en waarsku hom vriendelik: “O, jou stomme dier! hoe kan jy so deur jou eie toedoen dobbel met die dood deur skuilplek te kom soek op die werf van jou grootste vyand?” “Laat my net toe,” antwoord die Takbok, “om hier tussen julle strooi weg te kruip, tot ek tyd en geleentheid kry om te ontsnap.” Kom die aand se kant, toe kom die beeswagter verby om die beeste te voer, maar hy sien nie die Takbok raak nie; ook nie die melkman, staljonge en ‘n hele aantal ander plaasarbeiders wat daar inkom, kry enigsins selfs net ‘ snuf in die neus nie. Die Takbok wens hom self geluk met die veilige hawe wat hy vir homself gevind het en begin die beeste een-een bedank vir die hulp en bystand wat hulle hom in die uur van sy hoogste nood gebied het. Een staan egter nader met dié woorde:  “Ons beste wense vergesel jou, maar die gevaar is lanknog nie verby nie – daar is nog één wat deur die stal moet beweeg, een met ‘n honderd oë, by wyse van spreke. En voor hy nie gekom, en eers weer gegaan het nie, hang jou lewe nog in die weegskaal. Met dié kom die Boer hoeka daar ingestap en oor hy al vantevore rede had om te kla dat die beeste nie genoeg gevoer word nie, inspekteer hy dadelik hulle krippe. “Het ons dan nou ‘n tekort aan hooi? Hier is nie eers die helfte genoeg strooi vir die diere om op te slaap nie! Vir wat lê hierdie melkemmers die wêreld vol. Die niksnut van ‘n staljonge het nie eers die spinnerakke weggevee nie.” So gaan hy alles in die stal sorgvuldig deur en bespeur, bykans binne enkele oomblikke reeds, die Takbok se een hoof waar dit tussen die strooi uitsteek. Dis hy wat die arbeiders ontbied met die bevel dat hulle die Takbok van kant moet maak.

Die fabel wys dat die eienaar of baas die beste insig van almal in sy eie besigheid het.

Monday 13 June 2011

Die Weduwee en die Skaap


‘n Weduwee het nog net ‘n enkele skaap oorgehad. Kom skeertyd spring sy toe met die skêr onder sy vag in. Sy is so onbehendig met die skêr dat sy die stomme dier tot in sy vleis raaksny. Krullend van die pyn roep die Skaap uit:  “Hoekom, Baas, maak jy my so seer. My bloed gaan nie vir jou meer wol oplewer nie, gaan dit? En as dit my vleis is wat jy wil hê, daar is slagters wat my sonder pyn en leiding sal dood. Maar is dit my wol wat jy soek – daar is ook goeie skeerders wat my sal skeer sonder om my te wond of selfs net seer te maak.”

Die goedkoopste uitweg is nie altyd die beste uitweg nie.

Die boodskap waarmee die fabel afsluit moes later jare bygekom het. Babrius eindig sy fabel sonder enige boodskap. Maar dan was Babrius en sy tydgenote ook bekend met die Griekse spreekwoord wat keiser Tiberius na bewering ook gebruik het:  'n Goeie herder skeer sy kudde, hy slag hulle nie af nie.

Ek kon nie 'n enkele illustrasie opspoor wat by die fabel tuishoort nie. Die skaap is sommer net 'n skaap uit 'n gans ander fabel.

Sunday 12 June 2011

Die Donkie en sy talle meesters


‘n Donkie, ontevrede oor sy huidige eienaar, ‘n kweker van kruie, wat hom kwansuis te min gee om te eet, het hom tot een van die gode gewend met die versoek dat hy van eienaar moet verwissel. Die god waarsku hom dat hy dit sal berou, maar toe die donkie vassteek soos net ‘n donkie kan doen, willig hy in en sien toe dat die donkie in die hande van ‘n teelmaker beland. Dit het die donkie nie lank geneem om te besef hy werk hier nie net nog harder as wat voorheen die geval was nie, maar dra ook aansienlik swaarder vragte. Spoedig is hy weer in die geselskap van sy god en dring aan op toewysing aan ‘n ander baas. Die god maak dit duidelik dat hierdie die laaste versoek is wat hy kan toestaan, maar beskik dit dat die donkie weer ‘n nuwe eienaar kry, hierdie keer ‘n leerlooier. Die donkie besef dadelik dat hy hier nou nóg slegter daaraan toe is as voorheen. Gedagtig ook aan sy nuwe eienaar se beroep is dit vir hom duidelik:  “Had ek tog maar net omgekom van die honger by die eerste, of my dood gewerk en gedra in die hande van die ander, was dit vir my beter so, as om aan die gebrek aan enige genade van my huidige eienaar oorgelewer te wees. Die man gaan my net in die lewe uitbuit nie, dit lyk my hy sal selfs nog na my dood van my dienste gebruik maak as hy my leer gaan looi om te verkoop.”



Die oerteks verloop min of meer dieselfde met tog enkele verskille:

Daar was hierdie donkie wat aan 'n tuinier behoort het. Omdat sy eienaar hom baie hard laat werk het, maar min gegee het om te eet, het die donkie gebid om van baas te verwissel. Die gode slaan ag en die donkie beland toe in die hande van 'n pottebakker. Hierdie nuwe situasie is vir die donkie ondraaglik – die vragte wat hy nou moet karwei is selfs nog swaarder as vantevore. Die donkie smeek weer by die gode en hulle bewimpel dit dat die donkie vervolgens aan 'n leerlooier uitgelewer word. Toe die donkie eers sien waarmee dié man hom besig hou, roep hy uit: “O, dit sou vir hy beter gewees het om slawearbeid, totaal en al ondervoed, vir my vorige meesters te lewer! Hier het ek nou opgeëindig op 'n plek waar ek eendag nie eers 'n ordentlike begrafnis gaan kry as ek sterf nie!”

Hierdie storie wil wys dat arbeiders hul voormalige werkgewers mis, die oomblik as hulle hul nuwe base van nader en beter leer ken het.

Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr beshikbaar gestel. 



Saturday 11 June 2011

Die Teef en haar Kroos



‘n Ver dragtige Teef, en op die punt om geboorte te skenk aan haar Welpies, kom bedel van die Skaapwagter ‘n beskutte plekkie waar sy kan kraam. Toe haar versoek eers toegestaan is en die bevalling suksesvol afgeloop het, vra sy van die Skaapwagter of sy haar Welpies daar waar sy die lewe aan hulle geskenk het, kan groot maak. Weer stem die Skaapwagter in. Die uiteinde van dit alles was dat die Skaapwagter nooit weer die beskutte plekkie op sy eie grond kon opsoek nie, hy is daar bloot nie toegelaat nie. Die Teef, beskerm deur ‘n lyfwag van welpies wat spoedig groot en sterk en aggressief geword het, het haar en Kroos die alleenreg op die plekkie toegeëien. Partykeer het ek nie begrip vir vertellers se variasies en vryhede met die oertekste nie. Soos die fabel hier bo vertel is, het ek hom uit 'n bron van 1867 (of 1876) gekry. Ek het destyds toe ek die fabel vertaal het, nie van hom gehou nie. En vanaand verstaan ek hoekom – dis nie die oorspronklike fabel wat aan my vertel is nie. Phaedrus en die antieke Grieke het hom soos volg vertel en met die boodskap of moraal begin:

Die gevaar waarteen die volgende fabel ons wil waarsku is die gevaar wat skuil in die woorde van 'n bose mens:

'n Teef, op die punt om geboorte te gee aan haar kleintjies, vra 'n ander hond of sy in dié se lêplek geboorte aan haar werpsel kan skenk. Die eienares van die lêplek willig natuurlik in. Later, toe sy weer die gebruik van haar huis wil geniet, smeek die ma by haar om nog net 'n rukkie langer aan tye mag bly – tot haar babas sterk genoeg is om haar te kan volg. Toe ook hierdie sperdatum al verby is, het die eienaar van die blyplek met 'n tikkie meer geweld probeer om weer beheer daaroor te neem. En wat sê die teef:  “As jy dink jy sien kans en is opgewasse om my en my nageslag aan te vat, kom kry dan maar jou huis.”


‘n Ver dragtige Teef, en op die punt om geboorte te skenk aan haar Welpies, kom bedel van die Skaapwagter ‘n beskutte plekkie waar sy kan kraam. Toe haar versoek eers toegestaan is en die bevalling suksesvol afgeloop het, vra sy van die Skaapwagter of sy haar Welpies daar waar sy die lewe aan hulle geskenk het, kan groot maak. Weer stem die Skaapwagter in. Die uiteinde van dit alles was dat die Skaapwagter nooit weer die beskutte plekkie op sy eie grond kon opsoek nie, hy is daar bloot nie toegelaat nie. Die Teef, beskerm deur ‘n lyfwag van welpies wat spoedig groot en sterk en aggressief geword het, het haar en haar Kroos die alleenreg op die plekkie toegeëien.

Monday 6 June 2011

Die Boer en die Fisant.



Boer het ‘n vangnet oor ‘n groot deel van sy pas gesaaide landery geplaas en so ‘n hele klompie tarentale gevang wat sy saad los geskrop en uitgepik het. Tussen die kwaaddoeners kom hy ook af op ‘n fisant wat sy been in die net verstrik en seergemaak het. Fisant pleit by boer om sy lewe te spaar:  “Laat my tog vry, o heer en meester. En as my gebreekte been nie die nodige bejammering in jou hart opwek nie, onthou tog hoe goed ek nie my bejaarde ouers versorg nie! Neem ook in ag dat ek ‘n edel fisant van onbesproke karakter is en nie een van hierdie verfoeilike tarentale nie, let maar op na my bou en verekleed. My dood sal ‘n aanklag teen die hele mensdom wees. “Ek hoor wat jy sê Fisant,” kom dit tussen Boer se lag deur, “maar al wat ek vir ‘n feit weet is dat ek jou saam met hierdie spul rowers en buiters, die tarentale, gevang het, julle is voëls van eenderse vere, en dis dan ook in hulle geselskap dat jy gaan sterf.”




Ek het toe die fabel wat pas die foto wat verkeerdelik by die vorige plasing gebruik is, gaan opspoor. En weer het ek die storie ver-Afrika, dit het met tarentale en fisante oorspronklik niks te doen nie; alles met kraanvoëls en 'n ooievaar. Ek dink my Victoriaanse bron vertel die storie lekkerder as Aphthonius jare voor hom. Maar dit bly vir my lekker om met die oerbron kennis te maak:



'n Storie van 'n ooievaar wat ons wil aanspoor om nie met die verkeerde mense te meng nie.

Die kraanvoëls het dit vir die landbouer moeilik gemaak deur die saad wat hy strooi, mooitjies agter hom op te pik en hulself trommeldik te eet. Daar was ook 'n ooievaar wat saam met die moppie kraanvoëls uitgehang het, hoewel hy self die boer nooit enige skade berokken het nie. Toe die landbouer net mooi keelvol was vir die kraanvoëls se vernietigingswerk, het hy vir hulle 'n strik gestel en op die ou einde die ooievaar saam met die spul kraanvoëls onder die net gehad. En so moes die ooievaar boete doen vir dade wat hy nooit gepleeg het nie.

Meng jy met die verkeerde mense, gaan jy oor dieselfde kam geskeer word.



 Alle illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.

Sunday 5 June 2011

Die Boer en die Tarentrale


Meer tarentale as wat daar spikkels op ‘n tarentaal se rug is het jaar na jaar gewoonte daarvan gemaak om die Boer se saad wat hy met soveel sorg geplant het, los te skrop en op te pik. Met ‘n skoot of wat in die lug in, het Boer darem elke keer daarin kon slaag om die poelpetaters van sy pas gesaaide lande weg te hou. Maar toe sy geveerde vriendjies agterkom hy skiet telkens net die lug in, sonder om enige van hulle te dood, het hulle begin om hulle nóg aan hom, nóg aan sy geweer te steur. Dis toe dat Boer maar met sy haelgeweer onder hulle inspring en ‘n hele aantal van hulle dood. Die oorlewendes wat daar was het dadelik sy land verlaat en hom met ‘n hond vergelyk, ‘n hond wat nie meer tevrede is om net te blaf nie, maar begin byt ook.

Dit was my weergawe van die storie, verlede Julie nadat ek aan huise van 'n boer gekuier het wat baie las van tarentale had. Ek wil sommer nou byvoeg:  as jy nie wil hoor nie, moet jy voel, of :  en dit ís ook so, blaffende honde byt nie, maar as blaf nie meer help nie, dan moet hulle inspring en byt.

Die klassieke storie wat Babrius aangeteken het, klink effe anders:
Daar was hierdie klompie kraanvoëls wat kom wei het in die landjie wat die boer pas met koring gesaai het. Vir 'n tyd lank kon die boer daarin slaag om die kraanvoëls te verwilder deur ‘n leë slingervel in die lug rond te waai. Maar ook nie lank nie, of die kraanvoëls snap dat die boer se rondslinger van die wapen in die lug, vir hulle geen skade inhou nie – hulle het hom begin ignoreer, al het hy hoe wild te kere gegaan om hulle te verwilder. Dit het die boer genoodsaak om strategie te verander – hy het sy slingervel met klippe gelaai en 'n hele aantal van hulle kreupel gelaat. Toe die kraanvoëls die landery gevolglik vir goed verlaat, kla en mor hulle onderling:  “Kom ons gaan soek vir ons ander weivelde! Hierdie man probeer ons nie meer net 'n skrik op die lyf jaag om ons hier te verjaag nie, hy doen nou inderdaad iets daaromtrent om ons hier weg te kry.

Ek kon nie 'n illustrasie by hierdie fabel opspoor nie, maar die boonste een, deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel, herinner darem daaraan.

Thursday 2 June 2011

Die vlieë en die heuningpot


Die heuning wat in die spens gestort is, het ‘n klompie vlieë gelok wat summier daarin gaan land het. Ook nie lank nie, of hulle sit vas en kan nie opvlieg nie.  Terwyl hulle besig is om te versuip, roep hulle uit:   “Hoe onnosel was ons nie! In ruil vir 'n kortstondige banket, gaan ons nou almal sterf.”

Volgens Klaradyn (5) is die lessie van die storie toe ek dit vir haar lees: Van lekker lag kom lekker huil.

Die Grieke het egter wou tuisbring dat gulsigheid maklik tot groot ongelukkigheid aanleiding kan gee.

Vir nou maar eers die tweede keer, verbeel ek my, is die illustrasie nie deur Laura Gibbs toeganklik gemaak nie. Hierdie illustrasie is 'n van 'n kaartjie wat in die detigerjare van die vorige eeu saam met sigarette versprei is. Dit is deur die New York Public Libraray beskikbaar gestel.

Wednesday 1 June 2011

Die Plaasdogter en haar Vaatjie Room


Die Plaasboer se Dogter was in gedagte, met ‘n Vaatjie Room op haar kop geballanseer, van die melkkamer op pad terug plaasopstal toe:  “Met die geld wat ek kry vir die verkoop van hierdie room se kaas, wat ek daarvan gaan maak, sal ek seker ‘n hele paar dosyn eiers kan aankoop. Die kuikens wat daar uitbroei sal ek vet voer en wanneer die markprys vir pluimvee op die beste in jare is, sal hulle net mooi reg wees om verkoop te word. En met daardie baie hoenders se geld koop ek vir my die allermooiste materiaal om ‘n rok vir die oujaarsdans van te maak. Die hele kontrei se jong boerseuns sal oor hul voete val om my hand te kry, maar ek sal net my skouers opruk en sê...” Ongelukkig het sy nie veel verder gekom nie, terwyl sy die gedagte van skouers opruk dink, het sy, self so diep ingedagte, haar skouers opgeruk, balans oor die vaatjie verloor en daar stort al haar lugkastele saam met die Vaatjie Room in duie.

Vandaar miskien die Engelse “don’t count your chickens before the have hatched.” Die ongebruiklike maar korrekte Afrikaanse eweknie is ongelukkig nie die anglisistiese “moenie die kuikens tel voor die eiers nie uitgebroei het nie,” maar “moenie die vel verkoop voor jy nie die beer geslag het nie.” Ek het hierdie uitdrukking nog nooit in my ganse lewe in algemene omgang gehoor nie, net telkens raakgelees waar dit as korrektief vir die anglisistiese kuiken-en-eier-spreekwoord aangegee word. Waar ons Duitse of Hollandse voorvaders egter hieraan gekom het, het ek nog nooit raakgelees nie. En is dit nou ‘n Europese beer, of ‘n mannetiesvark waarvan hier gepraat word?

Ek het die wit Afrikaanse Boere boerdogter wat ek hier ingedagte had, natuurlik met die emmer melk in haar hand gesien. Eers aan die einde, wanneer sy in gedagte haar kop in die Engelse brondokument geskud het, en die emmer melk van haar kop val, het ek besef sy loop met dit op haar kop.

In Afrikaans sien ek ongelukkig nou maar een maal nie ‘n Annatjie of Martie met ‘n emmer op haar kop die pad stap nie; wel ‘n Nomsa of Ntuli. Vergeef my, maar dis nou maar soos dit is. In die Griekse landskap sien ek ook maklik die swaaiende heupe van ‘n Griekse godinnetjie met ‘n bleek gelaat en donker swart golwende hare, maar op Holfontein of Spioenkop, glad nie.

Ter wille van die oujaarsdans (die brondokument had ‘n Kersfeespartytjie) en die ongehude Boerseuns uit die kontrei wou, ek die storie egter verafrikaans.

Toe maak ek die melkemmer maar ‘n vaatjie room. Juis ook oor ons nog onderskeidelik ‘n room- en melkvaatjie van die Moolman familieplaas in ons kombuis het.

En toe kan ek lekker speel met die Afrikaanse uitdrukking “in duie stort” – die duie waarvan daar hier sprake is, is hoeka mos die regop plankies waaruit ‘n vaatjie of balie opgebou word. ‘n Vaatjiemaker sal jou vertel wat ‘n ingewikkelde vuurmaakproses dit is om die duie in plek te kry, en hoe maklik die hele gedoente in een (of dan nou in duie) stort.

En na die hele relaas kom ek toe agter hierdie fabel is nie 'n outentieke klassieke fabel nie - hy het later van tyd bygekom.