‘n Takbok, moeg gejaag deur ‘n trop jaghonde, en heeltemaal blind van vrees vir die gevaar wat hy nader, gaan soek skuiling tussen ‘n spul beeste in ‘n stal op die plaaswerf. ‘n Os staan nader en waarsku hom vriendelik: “O, jou stomme dier! hoe kan jy so deur jou eie toedoen dobbel met die dood deur skuilplek te kom soek op die werf van jou grootste vyand?” “Laat my net toe,” antwoord die Takbok, “om hier tussen julle strooi weg te kruip, tot ek tyd en geleentheid kry om te ontsnap.” Kom die aand se kant, toe kom die beeswagter verby om die beeste te voer, maar hy sien nie die Takbok raak nie; ook nie die melkman, staljonge en ‘n hele aantal ander plaasarbeiders wat daar inkom, kry enigsins selfs net ‘ snuf in die neus nie. Die Takbok wens hom self geluk met die veilige hawe wat hy vir homself gevind het en begin die beeste een-een bedank vir die hulp en bystand wat hulle hom in die uur van sy hoogste nood gebied het. Een staan egter nader met dié woorde: “Ons beste wense vergesel jou, maar die gevaar is lanknog nie verby nie – daar is nog één wat deur die stal moet beweeg, een met ‘n honderd oë, by wyse van spreke. En voor hy nie gekom, en eers weer gegaan het nie, hang jou lewe nog in die weegskaal. Met dié kom die Boer hoeka daar ingestap en oor hy al vantevore rede had om te kla dat die beeste nie genoeg gevoer word nie, inspekteer hy dadelik hulle krippe. “Het ons dan nou ‘n tekort aan hooi? Hier is nie eers die helfte genoeg strooi vir die diere om op te slaap nie! Vir wat lê hierdie melkemmers die wêreld vol. Die niksnut van ‘n staljonge het nie eers die spinnerakke weggevee nie.” So gaan hy alles in die stal sorgvuldig deur en bespeur, bykans binne enkele oomblikke reeds, die Takbok se een hoof waar dit tussen die strooi uitsteek. Dis hy wat die arbeiders ontbied met die bevel dat hulle die Takbok van kant moet maak.
Die fabel wys dat die eienaar of baas die beste insig van almal in sy eie besigheid het.