Monday 6 June 2011

Die Boer en die Fisant.



Boer het ‘n vangnet oor ‘n groot deel van sy pas gesaaide landery geplaas en so ‘n hele klompie tarentale gevang wat sy saad los geskrop en uitgepik het. Tussen die kwaaddoeners kom hy ook af op ‘n fisant wat sy been in die net verstrik en seergemaak het. Fisant pleit by boer om sy lewe te spaar:  “Laat my tog vry, o heer en meester. En as my gebreekte been nie die nodige bejammering in jou hart opwek nie, onthou tog hoe goed ek nie my bejaarde ouers versorg nie! Neem ook in ag dat ek ‘n edel fisant van onbesproke karakter is en nie een van hierdie verfoeilike tarentale nie, let maar op na my bou en verekleed. My dood sal ‘n aanklag teen die hele mensdom wees. “Ek hoor wat jy sê Fisant,” kom dit tussen Boer se lag deur, “maar al wat ek vir ‘n feit weet is dat ek jou saam met hierdie spul rowers en buiters, die tarentale, gevang het, julle is voëls van eenderse vere, en dis dan ook in hulle geselskap dat jy gaan sterf.”




Ek het toe die fabel wat pas die foto wat verkeerdelik by die vorige plasing gebruik is, gaan opspoor. En weer het ek die storie ver-Afrika, dit het met tarentale en fisante oorspronklik niks te doen nie; alles met kraanvoëls en 'n ooievaar. Ek dink my Victoriaanse bron vertel die storie lekkerder as Aphthonius jare voor hom. Maar dit bly vir my lekker om met die oerbron kennis te maak:



'n Storie van 'n ooievaar wat ons wil aanspoor om nie met die verkeerde mense te meng nie.

Die kraanvoëls het dit vir die landbouer moeilik gemaak deur die saad wat hy strooi, mooitjies agter hom op te pik en hulself trommeldik te eet. Daar was ook 'n ooievaar wat saam met die moppie kraanvoëls uitgehang het, hoewel hy self die boer nooit enige skade berokken het nie. Toe die landbouer net mooi keelvol was vir die kraanvoëls se vernietigingswerk, het hy vir hulle 'n strik gestel en op die ou einde die ooievaar saam met die spul kraanvoëls onder die net gehad. En so moes die ooievaar boete doen vir dade wat hy nooit gepleeg het nie.

Meng jy met die verkeerde mense, gaan jy oor dieselfde kam geskeer word.



 Alle illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel.