Tuesday 17 September 2013

Die man, sy boerbok, sy haan en die onverwagte besoeker

fotobron
Net toe hy op die punt was om ‘n eenvoudige maal van ‘n lekseltjie suurpap te geniet, ontvang die man onverwags besoek van ‘n goeie ou vriend wat hy in geen jare gesien het nie. Met die dat dit nou al maande lank broekskeur gaan op die klein lappie aarde waaruit hy ‘n bestaan moet maak, is daar onder die son niks voor  hande waarvan hy ‘n feesmaal kan berei nie. Hy besluit toe maar om die allerlaaste boerbok wat daar nog op sy werf oor is, te slag. Hierdie boerbok is egter nie op haar bek geval nie; sy laat sommer dadelik van haar hoor en smeek by die man om haar nie te slag nie: “Dink tog net bietjie verder as wat jou neus lank is – waar gaan jy miskien vorentoe melk vandaan kry om jou pap mee te eet? Spaar jy my lewe, kan ek nog lank na jou omsien, maar speel jy vandag met my klaar, lei jy volgende week groter gebrek.” So laat los die man toe maar die ou ooi en besluit om eerder sy haan vir die feestafel te slag. Die haan gee een lang, vet benoude kreet van waar hy op ‘n tak sit en sê: “As jy my sou dood maak, hoe sal jy langer weet hoe lank dit nog is na daglig toe – ek is immers die een wat jou smorens laat weet hoe laat dit is. Wie sal jou soggens aan elke nuwe dagtaak herinner, wie sal sorg vir nuwe kuikens op die werf, kry jy eers vir my ‘n hennetjie in die hande?” “Inderdaad,” kom dit van die man, “dis gerieflik om te weet hoe laat dit is, lieflik om die vooruitsig van ‘n hoenderboerdery te hê; desnieteenstaande dit moet my goeie ou vriend steeds iets kry om te eet.”

 

Thursday 12 September 2013

Die mier en die sprinkaan



Die variasie op gister se fabel wat vasgesteek het:
 
Gedurende die wintermaande het ‘n mier oorleef op die graan wat hy gedurende die somermaande vir homself vir later opsy gesit het. ‘n Sprinkaan kom klop toe bakhand aan met die versoek dat die mier van sy kos met hom moet deel. Die mier wil toe weet: “En wat het jy die hele somer lank gedoen – aangesien jy duidelik nie besig was om kos op te gaar vir later se eet nie?” Die sprinkaan antwoord toe:  “Omdat ek so lekker gesing het, het ek nie nog tyd gehad om aan oes ook te dink nie.” Die mier kon maar net vir die sprinkaan se antwoord lag en haar voedselvoorraad nog verder onder die grond gaan wegsteek. “Omdat jy die hele somer soos ‘n sot om gesing het, moet jy nou maar self sien-kom-klaar om die ganske winter op eie beentjie om te dans.”

Hierdie fabel beeld lui, sorgelose mense uit wat hul tyd en energie op beuselagtighede verkwis en sodoende later gebrek lei en op baie uitmis.
 

Tuesday 10 September 2013

Die mier en die miskruier


fotobron

Om proviand vir die winter op te bou, het die mier die hele somer lank in die velde en landerye agter allerhande soorte graankorrels aangeskarrel. ‘n Miskruier wat tyd had om die mier dag-in en dag-uit dop te hou, het tot die gevolgtrekking gekom dat die mier ‘n hoogsongelukkige stomme drommel moet wees, juis oor hy die ganske dag om moes werk en homself nie eers een keer, soos alle ander diere, ‘n oomblik van rus gegun het nie. Maar aan die miskruier se gevolgtrekking het die mier hom nie gesteur nie; op die miskruier se snedige opmerkings het hy geen ag geslaan nie. Kom die winter egter, en die deel van die land se eerste reënbuie spoel die mis in strome onder sy neus uit en weg, begin die miskruier en almal wat van hom afhanklik is, hongersnood lei. Hy wend hom tot die mier en probeer om ‘n happie kos by hom af te smeek, maar al wat hy van die mier kry, is:  “Miskruier, o, miskruier, as jy maar net self iets gedoen het, in plaas daarvan om heeltyd, terwyl ek besig was, met my die spot te dryf, dan het jy mos nie nou nodig gehad om hier by my te kom bedel nie!”

Hierdie fabel leer ons om nie die belangrike dinge wat ons aandag moet verdien, af te skeep nie – in belang van ons welstand in die toekoms moet ons op die regte tyd daaraan aandag gee.
 
Ons het genoegsaam rede om die vorige generasies se entomologiese kennis rondom miskruiers te bevraagteken. Ek wonder egter elke keer verder waarom hierdie weergawe in onguns verval het, maar die een rondom die sprinkaan vas bly staan het.
 
 

Friday 6 September 2013

Die boer, sy hoenders, die jakkals en die hond


fotobron

Daar was ‘n sekere boer wat ‘n aardige hoeveelheid hoenders op hok gehou het. Daar kom toe van tyd tot tyd ‘n jakkals verby wat onder sy pluimvee inspring en afmaai. Die man sit met sy hande in sy hare – hy weet toe nie wat om te doen ten einde die situasie te beredder nie. Ten einde laaste kry hy vir hom ‘n hond in die hoenderhok – maar hierdie hond het met sowel die jakkals as die laaste haan en hen ook, afgereken.

Thursday 5 September 2013

Die boer en die luiperd



fotobron

Na die besluit  dat daar dadelik korte mette van haar gemaak word, pleit die luiperd by die boer wat haar gevang het: “Spaar tog maar my lewe – ek is immers die skepsel wat met die verpestelike jakkalse en ander kleiner roofdiere wat so lelik verwoesting onder die lammers op jou plaas saai, afreken. “As dit maar in my belang was, dat jy onder die pestilensies afgemaai het,” kom dit van die man, “sou ek jou lewe maar al te graag gespaar het. Maar nou is dit ongelukkig ‘n feit dat jy suiwer jou werk doen om nie net die jakkalse en rooikatte op te kan vreet nie, maar ook elke laaste lammer waarin hulle hul slagtande sou gesink het, was hulle nog in die lewe. So moenie op dankbaarheid van my kant reken vir die sogenaamde gunsies waarop jy my trakteer nie!” En toe is dit die einde, nie net van die boer se woorde nie, maar ook van die luiperd.

Jy sal jouself maklik in hierdie storie herken, as jy een van die mense is wat jou eie belange dien terwyl jy ewe skynheilig aan die ander voorgee dat dit alles eintlik in hulle belang is.

Tuesday 3 September 2013

Die leeu en die blouapie


fotobron

‘n Woedeuitbarsting, grensend aan waansin, neem van die Leeu besit. ‘n Blouapie wat die hele gedoente op veilige afstand en hoogte vanuit ‘n reuse koorsboom gadeslaan, sê vir homself: “O, gedoriewaar, die gort is nou propperlies gaar! Noudat sy majesteit eers só goed opgeklits is, sal g’n niks en niemand hom meer kan keer nie – en hy was hoeka al meer van 'n kalant as waarteen ons opgewasse kon wees, en dit lank nog voor hy van sy trollie afgeklim het.”

Monday 2 September 2013

Koning Leeu en onderdaan Bobbejaan

fotobron

Nadat Leeu homself as die koning van die diereryk aangestel het, wou hy vir homself naam maak as ‘n billike en regverdige heerser.  Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en geregtigheid tot op die laaste letter te laat geskied, sy dieet aansienlik aangepas het en sy lyf die van ‘n wafferse herbivoor begin hou het. Natuurlik kon hy nie die roofdier wat deur sy are vloei, afsterf nie. Hy het toe bloot begin om die een na die ander dier in te roep vir ‘n geheime ontmoeting met hul kroon. By hom aangekom, blaas hy dan sy walglike stink asem in hul gesigte sodat elk ‘n oordeel kan fel:  stink die koning se asem, of stink die koning se asem nie. Van daar af is dit eenvoudig:  sê jy die koning se asem stink, word jy opgevreet; sê jy dit stink nié, lieg jy en word jy óók opgevreet. Nadat hy op hierdie manier sommer gou met ‘n hele paar van sy onderdane afgereken het, het hy hom tot Bobbejaan gewend om na die huidige gesteldheid van sy halitose te verneem. Bobbejaan is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en meld summier dat die kroon se bek die eksotiese geur van kosbare kaneel adem, so asof sy palatum ‘n altaar vir die gode is. Na dié groot omhaal van soete woorde voel Leeu toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net so vir sommer bokveld toe te stuur. Hy kom gevolglik met ‘n nuwe strategie vorendag: hy maak kwansuis of hy vreeslik siek is en die hele span koninklike dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die lastige naarheid op hul heer en meester se maag voor. “Konings mag dan seker maar eet wat hulle wil,” kom dit berekend van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan bobbejaan vleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie, toe is dit klaar met kees, hy word net daar en dan om die lewe gebring om die koning op die pad van ‘n spoedige herstel te plaas.”

Of jy nou jou mond dig gesluit hou, en of jy jou bek rek – dis om het ewe, jou gat sal jy sien, so seker as wat jy nou hierdie woorde lees of hoor.

Friday 30 August 2013

Die paddas en die vegtende bulle



Dis die laagste van die laagstes wat die meeste daaronder lei as die grote en hogere kokkedore eers die dag onder mekaar inklim en lelik koppe stamp.

‘n Padda het van oor ‘n groot afstand, met slegs haar oë wat net-net bo die wateroppervlakte van die poel waarin sy bly, uitsteek, die verbete stryd tussen twee vegtende bulle dopgehou. “O, nee,” roep sy uit, “berge val op my, heuwels bedek my en aarde sluk my in – die onheil is op ons!” ‘n Ander padda wil toe weet waar op deeske aarde sy aan die kamstige onheil kom, inaggenome veral die feit dat die twee befoeterde bulle in ‘n leierskapstryd binne hul eie trop, en boonop baie ver van die paddas se poel af, gewikkel was. Die bykans geknakte padda verduidelik toe:  “Hoewel hulle dáár bly en ons hiér, en hoewel hulle beeste en ons paddas is, weet ek nou al voor my heilige siel dat die verloorder onder daardie twee uit die grasveld verdryf gaan word en hier by ons in die moeras sy wonde gaan kom lek. En wie is dit wat dán onder sy hoewe vertrap gaan word? En dís hoekom hulle bakleiery, op ‘n afstand daar ver, vir ons hier, ‘n saak van lewe en dood is."

Wednesday 28 August 2013

Die ou man, die donkie en die stel saalsakke



Behalwe dat die een wat Klaas as “Baas” moet aanspreek, ‘n ander gesig gekry het, hou ‘n regeringsverandering vir geen Klaas ‘n enkele ander verandering in nie.

‘n Ou man is met sy donkie die dorpie uit en die vlaktes in. Met die eerste tekens dat ‘n vyandelike opmars inderdaad meer as net gerugte is, skrik die ou man hom uit sy geloof uit. Hy spoor die donkie aan om so vinnig as wat sy bene hom toelaat, weg te hardloop sodat hulle nie per dalkies in die verkeerde hande val en gevange geneem word nie. “En sê net bietjie vir my,” wil die donkie toe heel koppig weet, “ dink jy miskien vir een oomblik ‘n nuwe veroweraar gaan my nou skielik met twee of meer stelle saalsakke in plaas van een kan opsaal?” Die ou man antwoord natuurlik ontkennend, waarop die donkie afhaak:  “So watter verskil gaan dit nou aan my maak wie my meester is – ek sal altyd ‘n sware stel saalsakke moet dra, ongeag die naam of die gesig van my baas.”

Friday 23 August 2013

Die esel en sy meesters


fotobron

Daar was hierdie esel wat deur ‘n bestaansboer op sy lappie grond aangehou is.  Omdat hierdie boer die esel sekere tye van die jaar baie hard laat werk het, en dit met min kos die kere sodat dit swaar gegaan het, het die dier hom hemelwaarts gewend en gesmeek om asseblieftog net van ‘n ander meester voorsien te word. So beland die esel toe nie lank daarna nie in die hande van ‘n rondreisende handelaar – maar hierdie toedrag van sake was vir die esel nog minder aanvaarbaar. Nou moes hy nóg groter en swaarder vragte as van te vore dra, en dit oor veel verder en gevaarliker paaie as voorheen, daarby. Weer wend hy hom tot waar sy hulp vandaan kom. Weer word daar ag geslaan en bevind die esel hom ‘n enkele saketransaksie verder in diens van nog ‘n nuwe heer en meester, hierdie keer ‘n leerlooier van nering. Maar o, liewe aarde, toe die stomme donkie eers sien waarmee hierdie nuwe baas van hom sy brood en botter verdien, roep hy uit: “O, wee, ek sou, tot die dood toe oorwerk en tot sterwens toe uitgehonger, beter daaraan toe gewees het, uitgelewer in die kloue van enige een van my vorige meesters! Hier waar ek myself nou bevind, gaan hulle my nog lewendig afslag ook as ek die dag eers dood is, en ek gaan beslis geen ordentlike begrafnis hê nie!”

Die storie wys maar net dat ons ons vorige base die meeste mis, sodra ons die nuwes beter en van nader leer ken het.

Thursday 22 August 2013

Die Wildedonkie en die pakdonkie


fotobron
‘n Wildedonkie sien die pakdonkie waar hy rustig in sy kampie staan en kou aan die allerlieflikste graskos wat in ‘n trog vir hom voorgesit word. Hy staan grootoog nader en komplimenteer die pakdonkie op sy voortreflike toestand en sigbare goeie gesondheid. Maar nie lank daarna nie sien die wildedonkie weer die pakdonkie – hierdie keer nie in die son aan die peusel nie, maar met ‘n sware vrag op sy rug, gebukkend ook onder die sweepslae van sy aandrywer aan die voortsukkel mark toe. Dis toe dat die wildedonkie tot die volgende slotsom kom:  “Daar is nie ‘n manier dat ek óf jou gunstige omstandighede of jou tiptop kondisie verder gaan bewonder nie, veral nie nadat ek nou die prys gesien het wat jy moet betaal om so voortvarend daar uit te sien nie.

Tuesday 20 August 2013

Die pakdonkie en die wildedonkie



‘n Wildedonkie sien ‘n pakdonkie gebukkend onder sware vrag voortstu en begin summier die spot met hom dryf: “Hoe gelukkig is ek nie – ek kon myself lankal by jou en jou soort aangesluit het, myself uitverkoop het om verkneg te word, maar hier is ek, is vry van gevangeskap. Ek hoef my nie aan ‘n ander af te sloof vir oorlewing nie – ek het die oopte van die grasvlaktes en die vryheid van die golwende groen heuwels. Jy, aan die ander kant, is op iemand anders aangewese, selfs om jou te voer; dit terwyl jy boonop uitgelewer is aan slawerny en sweepslae wat daglank op jou reën.” Op hierdie punt sluit ‘n leeu ongemerk op die toneel aan. Maar, met die pakdonkie se eienaar wat gewapen vlak langs hom staan, het hy niks aan hom gedoen nie. Die wildedonkie, op sy beurt, het vingeralleen gestaan toe die pakdonkie en sy drywer langs ‘n draai in die stofpad verdwyn – hy is aangeval, is korte mette van gemaak en moes in die stof byt alvorens hy ‘n koningsmaal geword en verorber is.

Monday 19 August 2013

Pou stel homself beskikbaar as koning


fotobron
 

Op ‘n massasaamtrek van ‘n groot spul geveerde vriende is eendag lank en gewigtig vergadering gehou en hewig gedebatteer oor wie onder hulle dan nou die beste leier sou uitmaak. Hier teen die einde se kant is ‘n spoggerige pou toe van mening dat hy die beste uitgeknip is vir die rol van die koning:  “Ek is eerstens nie net in die fleur van my lewe nie, ek is op die koop toe daarby nog uitermate pragtig ook.” Terwyl die ander voëls heel inskiklik is met Pou se voorstel, kom daar van iewers uit die bondel tussen hulle ‘n raaf te voorskyn wat pou se bordjies lelik verhang: “En sê my bietjie, neef pou, as jy sou koning word, wat gaan gebeur as ‘n arend ons sou aanval? Is jy miskien sterk genoeg om sy aanval af te weer?”

Die fabel wys maar net dat leierskap niks uit te waai het met hoe spoggerig of swierig jy lyk of is nie, maar suiwer bedoel is vir diegene met uitstaande fisiese en geestelike eienskappe en trekke.

 

Die arend, die skilpad en die kraai

fotobron

Die visarend het rivierlangs gevlieg om vis te vang. Dis egter met ‘n skilpad waarmee sy  ‘n rukkie later op die oewer worstel. Haar porsie vleiskos het homself netjies in sy dop teruggetrek en al die sukkel en stoei ten spyt, is dit verniet of sy met óf haar kake óf haar kloue daarby kan uitkom.  Sy is op die punt om haar vangs eenkant te gooi, toe ‘n kraai op haar afstap en sê: “Maar dis mos koningskos daardie, Vriendin – jy kan dit onder geen omstandighede sommer net so weggooi nie!” “Hierdie maaltyd is helaas so verpak,” kom dit van die arend, “dat dit ‘n onbegonne taak is om daarby uit te kom, ek kry net mooi niks daarteen uitgerig nie.” Die sluwe kraai wat natuurlik slaggereed en met ‘n antwoord bewapen daar aangekom het, trek dadelik los met:  “As jy sou beloof om die vangs met my te deel, sal ek jou so gou soos nou wys hoe om lag-lag daarby uit te kom.” “Nou vertel my dadelik,” antwoord die arend onmiddellik en opnuut begeester, “dan sit ons tweetjies sommer saam vir die feesmaal aan.” Die uitgeslape skelm kom toe met ‘n oplossing vorendag:  “Wat jy moet doen,  is om hoog in die lug in daarmee op te vlieg. Laat los dan ons  vangs ver bo ‘n spul rotse – die harde dop sal met ‘n slag teen die rotse oopbreek, jy sal by die sagte vleis kan uitkom en jou honger bevredig.” Die arend het natuurlik ingestem en die skilpad getrou aan kraai se voorstel hoog bo ‘n spul rotse uit haar kloue laat los. Die kraai, wat onder bly wag het, het die skilpad, die oomblik toe dié homself teen die rotse te pletter spat, gegryp, opgevreet en so die arend lelik uitoorlê.

Die storie agter die storie:  Op soortgelyke wyse kan sluwe skelms die niksvermoedendes om die bos lei en met hul slinkse planne uitrig wat die stomme niksvermoedendes met harde werk en brute krag nie eers reg kan kry nie.

Thursday 15 August 2013

Die jakkals en die arend

FOTOBRON
‘n Witkruisarend en Jakkals het op ‘n tyd dik tjomme geword. Hierdie vreemde vriendskap het ongelukkig ook maar net gehou tot die arend een mooi dag onder die jakkals se welpies ingevaar het om sy eie honger te stil. Met die dat die jakkals onder die son net mooi niks soortgelyks aan die arend kon aanrig nie, het sy maar net deurentyd gesmeek en gebid dat die wiel sal draai en reg en geregtigheid op die ou einde en korrekte tyd sal geskied. En toe, op ‘n dag, lank daarna, peil die arend uit die bloute op ‘n braaivleisvuur, vir ‘n oomblik onbewaak gelaat, af en kom weg met ‘n lywige porsie boerewors tussen haar kloue. Sy sit reguit af na haar nes vol kuikens, nie te ver van waar sy die kampeerders so onverhoeds beroof het nie . Daar, by die honger bekkies aangekom, was die worsvleis egter nog hopeloos te warm vir die swakke arendkuikens – die oomblik toe hulle dit gulsig wegsluk, het hulle die een na die ander omgedop en summier gevrek.

Hierdie fabel wys dat die swak en nietige slagoffers, wat op hul eie niks teen magtige booswigte uitgerig kan kry nie, se smeekgebede dikwels langs vreemde omweë wel bewaarheid word

Monday 12 August 2013

Die miere en die varke

fotobron
‘n Fabel teen die ydel opgaar en bymekaar maak van materiële besittings.
Miere gaar vir hulself ‘n groot hoop graan op om gedurende die winter van te kan leef, maar op ‘n sekere punt kom die varke, krap alles deurmekaar en vreet die kos alles self op.
Dieselfde ding gebeur baie met mense:  Hulle gaar gereeld en op groot skaal op, maar dan kom die diewe, die belastinggaarders, selfs bloedfamilielede – en alles is daarmee heen; so nie, gebeur dit dikwels dat al die rykdom aan vreemdelinge nagelaat word.

Ek plaas doelbewus 'n foto van 'n mier en 'n sprinkaan. Hierdie fabel, wat uit die Middeleeue dateer, is duidelik 'n teenpool vir die alombekende een rondom die mier en die sprinkaan. Hier word die mier se spaarsug egter afgeskiet in plaas van opgehemel.

Thursday 8 August 2013

Die miere en hul stamvader

fotobron


Lank gelede was die insek wat nou se dae as ‘n mier bekend staan, ‘n boer wat aldag en heeldag, van soggens vroeg tot sawens laat, jaarin en jaaruit, vreeslik hard aan die boer was. En tog was hy steeds nie tevrede met die vrug van al sy eie harde handewerk nie – hy het onder sy bure se oeste ook loop steel en heelwat vir homself geneem. Dié man is toe swaar gestraf oor sy gierige gulsigheid: hy en sy ganse nageslag is van gedaante verander in wat ons vandag as ‘n mier ken. Die man het wel uiterlik van aansig verander, maar kon en kan sy eertydse gewoontes na al hierdie jare nog steeds nie afskud nie – daarom dat die mier vandag nog steeds deur die landerye trek en vir homself die vrugte op ander se arbeid pluk, juis sodat hy vir sy eie gebruik op kan gaar.

Hierdie fabel wys ons dat iemand met ‘n slegte karaktereienskap of bose natuur, wel van voorkoms mag verander, maar dat sy optrede ten spyte daarvan altyd steeds dieselfde sal bly.

Die van ons wat in die Christelike tradisie groot gemaak is, vind seker almal hierdie fabel wat die ywerige mier in 'n slegte lig stel, vreemd op die oor.

Wednesday 7 August 2013

Die man, sy kudde, die wolf en die hond



Toe die dag einde se kant toe staan, kry die man sy skape vir die nag in die kraal. Hy jaag sonder dat hy dit agter kom, ‘n baie ligte wolf saam met die kudde deur die hek. Die man se hond, wat maar al te duidelik sien wat sy baas aanvang, merk dadelik op:  “Hoe op aarde kan jy ernstig wees met die beskerming van jou skape as jy hierdie skepsel saam met die res van ons vir die nag op hok jaag!"

Tuesday 6 August 2013

Die arend en die pyl

fotobron

‘n Storie met ‘n boogskutter wat wil wys dat dit bitter is om deur jou eie soort tot ‘n val te kom.

Die boogskutter lê aan op die arend en stuur die pyl sekuur uit sy boog. Dit klief ‘n kort oomblik deur die lug en deurboor toe die arend, wat ‘n oomblik nog gegun word om te kyk wat hom getref het. Sterwend sê hy, na hy die vere om die agterkant van die pyl opgemerk het:  “Baie is dit wat tot ‘n val kom deur juis dit wat hulle self ook opgelewer het.”

Dit herinner ook aan ons wat in Afrikaans sê dat iemand sy eie graf grawe, of ook, self ‘n lat vir sy eie gat pluk.

 

Monday 5 August 2013

Die uil en die ander voëls




Omdat die uil oor wysheid beskik, het sy die ander voëls, die oomblik toe die eerste eikebome begin opskiet, gewaarsku dat hulle geensins die bome moet toelaat om verder te groei nie. Sy het trouens ‘n vergadering van al die voëls byeengeroep en hulle daarop gewys dat sou hulle nie hierdie bome met wortel en tak uitroei nie, die bome iets, wat later as voëlent bekend sou staan, sal oplewer – en dit beloof om iets te wees waarvan die voëls nie weg sal kan vlug nie, iets wat groot dood en verwoesting onder hulle sou saai. Ook later, toe die mens begin om vlas te verbou, die vesel wat later gebruik sou word om vangnette van te knoop, het sy die voëls aangesê om elke enkele saadjie uit te pluk en op te pik aangesien dit ook vir die voëls as ‘n groot bron van vernietiging en uitwissing gaan opeindig. ‘n Derde keer het die uil haar geveerde familie en vriende gewaarsku. Dit was toe sy ‘n man met pyl en boog sien loop het. Sy het hulle daarop gewys dat die mens hulle met hul eie vere gaan oorwin; selfs al is hy sonder vlerke met sy voete aan die aarde gebind, gaan hy geveerde pyle die lug instuur. En elke keer het die voëls geweier om ag te slaan op die uil se waarskuwings. Hulle het haar hanteer soos ‘n swaksinnige een wie se kop haar heeltemal verlaat het. Met verloop van tyd, en tot die voëls se groot skok en verbasing, het dinge natuurlik uitgedraai, presies soos die wyse uil voorspel het. Daarom ook dat die voëls, vandag nog, loop hulle ‘n uil raak, haar met eerbied en ontsag hanteer, so asof sy hul meerdere en kenner op elke gebied is. Maar die uil voorsien hul lank reeds van geen raad meer nie; al wat sy nou doen, is om te kla.

Friday 2 August 2013

Die ou soldaat, sy wapens en die trom

fotobron

Daar was eenkeer ‘n afgematte soldaat, oud en der dagen sat, ‘n veteraan van vele veldslae, wat as jong krygsman reeds onderneem het om eendag ‘n vuur te stook en sy eie wapentuig, ook alle wapens wat ‘n sterwende slagoffer oorwonne oorhandig het, en selfs alles wat hy as oorlogsbuit van voortvlugtiges uit die slagveld ontvang het, daarin te verbrand. Met die dat die lewe hom gunstig hanteer het en alles vir hom mooi in plek geval het, was hy nou op die punt om die belofte wat hy destyds gemaak het, tot uitvoer te bring. Hy het begin om al die wapens en elke vorm van oorlogsbuit, een vir een, in die vlamme te gooi. ‘n Hout trom het egter uit die bloute luid protes aangeteken, hy het voet by stuk gehou dat hy aan geen misdaad skuldig is nie en onregverdig in die brandende tonge van die vuur oorgelewer word. “Jy kan hoegenaamd nie aanvoer dat ek in enige aanval van watter aard ook al wat ooit teen jou geloods is, gebruik is nie,” kom dit protesterend van die trom. Al wat ek ooit gedoen het, was om die manskappe op te roep en aan te spoor in hul opmars. Ek sweer, en ek roep die sterre as my getuie, dat ek ook nooit vals of misleidende boodskappe die naglug ingestuur het nie." Desnieteenstaande dit alles het die ou soldaat hom nogtans saam met die res in die vuur gegooi. Terwyl die trom in die gloeiende vlamme verkool en in as verval, merk die ou soldaat op:  “Alles wat jy aanvoer, bied my des te meer rede om jou te straf en met pyn en lyding deur hierdie vlammehel te stuur. Al het jy op jou eie niks uitgerig of bereik nie, is jy niks minder skuldig of wreedaardig nie, jy het ander immers aangespoor om ongekende wreedhede te pleeg.”

Wednesday 31 July 2013

Die kraai en die poue

bron
Esopus bied ons ‘n baie leersame storie om nie met andermansgoed rond te loop nie, maar om ons lewens tussen ons eie en met ons eie te lei.

‘n Verwaande kraai, nie net skoon geswolle nie, maar sommer lekker opgeblase ook van al die waan, ydelheid en trots, kom toe af op ‘n klompie pouvere wat op die grond laat val en net so laat lê is. Hy pik dit op, steek dit tussen sy eie vaal vere in en probeer inderdaad, nadat hy sy eie swerm spottend en neerhalend vaarwel geroep het, om by die groep poue aan te sluit. Die poue, wat hy geensins met die aangelapte vere kon fnuik nie, het hierdie uiters voorbarige en aanmatigende aanstellerigheid met niks anders nie as opregte aggressie begroet:  hulle het die vere daar en dan uitgepluk en die stomme kraai so vervaard begin pik dat hy niks anders kon doen as om homself so gou as moontlik uit die vlerke te probeer maak nie. Na hy sy moses so sleg onder die poue teëgekom het, is hy toe maar stertvere tussen die bene terug na sy eie soort toe. Daar aangekom is hy ook summier verdryf en vir ‘n tweede keer aan fisiese pyn en openbare vernedering uitgelewer. Een van die kraaie, hoeka een van die wat hy ten tye van sy afskeid so lekker gespot het, sê toe vir hom:  “As jy tog maar net daarmee tevrede was om tussen ons te bly, met dit waarmee die natuur jou toebedeel het, sou jy sowel die poue se vernedering, as ons verwerping en afwysing gespaar gewees het."

Tuesday 30 July 2013

Die skoonheidskompetisie van die geveerdes


Fotobron
Die storie van ‘n kraai wat ons wil aanspoor om arrogansie te verfoei.

‘n Skoonheidskompetisie is onder ons geveerde vriende gehou en al wat voël is wat kan vlieg, ook die wat minder goed of selfs glad nie kan vlieg nie, het opgeruk en saamgetrek om beoordeel te word. Op die vooraand van die groot dag het al die voëls afgesit damme en riviere toe om hulself te poets en van hul ou vere ontslae te raak sodat die nuwe fynste veertjies glad gestryk kan kom. Die stomme kraai het op sy beurt egter geen spoggerige vertoonvere gehad wat hy in plek kon kry nie. Hy besluit toe naar om hom te tooi in die afvalvere wat die ander voëls op die oewers en walle agtergelaat het. En op die ou einde alleen ook maar die wyse uil wat haar vere die volgende dag herken, die bedrogspul agtergekom en alles oopgevlek het. Sy het haar eie vere gaan terug eis en die ander voëls ‘n een en ‘n elk aangehits om dieselfde te doen. Teen die tyd dat die kraai van al die gesteelde vere kaal gestroop was, was daar van sy eie vere ook weinig oor, en het hy met sy kop in skaamte gesak bykans poedelkaal voor die paneel beoordelaars moes verskyn om uitgekyk en takseer te word.

Sierade wat nie aan jou behoort nie, kan jou groot verleentheid en vernedering besorg.

Tuesday 23 July 2013

Die pou, sy vere en almal wat hom raakloop

fotobron


Teen ydelheid en so voort.

Die pou was voorwaar ‘n merkwaardige voël, nie net oor die skoonheid van sy vere met hul lieflike kleure en patrone nie, maar ook omdat hy tog so betaamlik opgevoed en ‘n weleerwaarde edele heer was. Op pad na ‘n vergadering van die voëls, kruis sy weg met die van ‘n raaf. Die raaf vra hom toe of hy dan nie tog maar net twee sy vere kan kry nie. Die pou is heel inskiklik, maar wil dadelik weet:  “En wat gee jy vir my in ruil vir my twee vere?” “Waar ek my in die geselskap van ander voëls bevind, onderneem ek om altyd jou lof te besing.” Hierop gee die pou toe sommer dadelik twee van sy vere prys. So is dit dieselfde storie met die kraai wat verby gekom het en weg is met twee vere. Eweso so met die koekoek, die loerie en nog talle ander voëls... tot die pou op die ou einde nie ‘n enkele veer meer oor had nie en rot en kaal gepluk daar gestaan het. Die pou, wat veronderstel was om sy kuikens te help voed en warm te hou, was sonder enige vere meer oor, daartoe geensins meer in staat nie. Toe die winter kom, toe sterf hy af. Sy kuikens is vort om na die beste van hul gebrekkige vermoë vir hulle ‘n beter heenkome te vind.

Friday 19 July 2013

Die kraai, die arend en die vere

‘n Fabel wat die mense wat roem dat hulle iets het, maar nie regtig daaroor beskik nie, aankla.

Daar was hierdie kraai wat vroeg in haar lewe reeds tot die slotsom gekom het dat sy eintlik niks anders as net verbeeldingloos swart en eintlik sommer net doodeenvoudig skreeulelik is nie. Sy loop bekla toe in ‘n stadium haar lot  by ‘n arend. Dié stel voor dat sy vir haarself ‘n spul spoggerige vertoonvere by haar ander geveerde vriende gaan afbedel. Die kraai het begeester daad by die arend se woord gevoeg en so gou soos nou twee stertvere by die pou geleen gekry, iets uit ‘n ander vriendin se kleurvolle vlerk, ook by duif en papegaai, ‘n donsie hier, ‘n borsveertjie daar. En so aan en so voort, tot op die punt dat die kraai vir haarself sommer eksieperfeksie en jollie seksie daaruit begin sien het. Vol van eiewaan het sy die ander voëls een na die ander eers begin uitlag en toe glads links en regs onder hulle begin uitskel. Hulle sit toe skoon opgeklits op hul beurt af na arend om aanklag teen die grootpraterige kraai en haar  ongepoetste gedrag in te bring. Arend se wyse voorstel was dat elkeen sy vere maar terug moes neem om die kraai gestroop en verneder te laat. Dis ook presies wat hulle toe gedoen het, en ook waarom die kraai vandag nog kaal, verbeeldingloos vaal en eintlik sommer net gewoonweg lelik is.

Thursday 18 July 2013

Die boere, die boerbok en die leeu se vel

Die storie van ‘n boerbok, wat ons wil aanspoor om nie na meer te wil smag as wat ons toekom nie.
 
Hierdie boerbok het groot en ongeskikte drome gedroom oor wat hy alles in die plaaslike gemeenskap se landerye, boorde en wingerde wil uitrig. Maar omdat die ou spul takhare wat sy omgewing besmet het sommer gou korte mette gemaak het met enige bok wat so min as net ‘n enkele onregmatige grassprietjie gevreet het, besef hy al te gou dat hy sy wilde drome om verwoesting onder die vrug van die boere se arbeid te saai, aan die hand van die een of ander slim vermomming sal moet verwesenlik. En dis presies wat hy toe ook onder die dekmantel van ‘n leeuvel gedoen het. Terwyl die gemeenskap verskrik in hul hutte gaan skuiling soek het, het bok-se-kind rustig die landerye en boorde gestroop. ‘n Rukwind het egter opgesteek, korte mette met die kostuum gemaak en die leeu se ware boerbokkleure gewys. Die oomblik toe die domonnosel appeldammers onder wie se oes die leeu so rojaal te kere gegaan het, sien dat dit al die tyd maar net ‘n simpel boerbok is, het hulle onmiddedadelik opgeruk en hom summier met stokke en pangas doodgeslaan.

Versierings en tooisels, van watter aard ook al, wat nie aan jou behoort nie, kan gevaarlik wees.

Wednesday 17 July 2013

Die jakkals, die donkie en die leeu se vel

‘n Donkie het vir homself die vel van ‘n leeu aangetrek en tot groot vermaak van homself rondgeloop en talle niksvermoedende diere ‘n groot skrik op die lyf gejaag. Toe die donkie se holderstebolder pad die van ‘n jakkals kruis, het hy haar natuurlik ook sommer op die plek skrik probeer maak. Die jakkals het die donkie egter gehoor nog lank voor sy hom in die vreemde gewaad gesien het. Gevolglik sê sy dan ook droogweg nadat die donkie sy naam lelik met ‘n plank geslaan het:  “Jy kan daarvan verseker wees, Asjas, dat ek myself beslis des disnis sou geskrik het, as dit nie was dat ek jou gebalk in die verte gehoor het nie.”

Netso is daar sekere veergewig outjies onder ons wat danksy hul voorkoms soos swaargewigte lyk; en dan kom hul ware identiteit na vore, die oomblik wat hulle hul monde oopmaak en iets probeer sê.

Tuesday 16 July 2013

Die twee reisigers en die leeuwyfie langs die pad


‘n Man was saam met ‘n goeie vriend van hom te voet op reis deur die wildernis. Hy het veilig gevoel in die geselskap van sy reisgenoot omdat hy geweet het dat die twee van hulle, saam, enige gevaar wat oor hul pad kon kom, baas sal kan raak.Terwyl hulle nog so stap en dik stukke oor diep dinge gesels, staan ‘n leeuwyfie skielik, helder oordag, vlak voor hulle in die middel van die pad. Die vriend sny ‘n lyn na die naaste boom toe, gryp ‘n tak en sorg dat hy so gou moontlik bo kom, en bo bly. Die man bly op sy beurt stokstyf en skoon versteen van die skrik, in sy twee spore staan. Met die leeu reeds so naby aan hom dat hy haar asem kan ruik, slaan hy toe maar soos ‘n paal grondwaarts neer en maak of hy dood is. Die leeu kom, effe oorbluf deur dié ongewone gedrag, nog nader, steeds ywerig om haar tande en kloue in dié gerieflike prooi, wat homself so op ‘n skinkbord aanbied, te slaan. Met haar krom kloue draai sy die man om op sy rug. Hy is doodsbleek en yskoud – hy het inderdaad die laaste bietjie warmte wat daar in sy lyf was, skoon weggeskrik. Die leeu ruk en pluk en stamp en stoot aan die man, maar hy bly leweloos lê. Die enigste gevolgtrekking waartoe sy kan kom, is dat die man ‘n verrottende karkas is. Vir vrot ou aas sien sy wraggies nie kans nie - die hiënas kan dit maar kry, só desperaat of honger is sy nie. Ten spyte van so ‘n maklike porsie sagte vleiskos laat sy die man toe net so en stap rustig weg.  Stadig maar seker begin die man tekens van nuwe lewe toon, sy vriend kry homself so waar as wraggies ook losgeskeur van die boomstam waaraan hy ‘n rukkie gelede binne enkele oomblikke so stewig vasgegroei het. Met die skrik wat nog vlak in hulle sit, begin hulle gesels en kortvoorlank vra die een wat van effe so vol vrees die takke in is: “En watse gesprek het die dierasie met jou aangeknoop terwyl sy so al in jou gesig en om jou rittelende lyf was? Sy moes tog sekerlik nogal heelwat kwyt geraak het in die lang gesels wat sy daar op die grond met jou gehad het.” Die man antwoord toe:  “Sy het my inderdaad van belangrike advies voorsien, in dieselfde asem helaas ook van ‘n waardevolle opdrag wat ek nou maar een maal net nie kan vergeet nie: ‘moet tog nie haastig wees om jou vriendskap met daardie ander een daar bo in die boom te hervat nie, want netnou beland julle weer in die kloue van die een of ander wilder ongedierte nog as ek, en hoe dán gemaak as hy jou wéér ‘n keer net so op jou eie los?’”


Monday 15 July 2013

Die jakkals en die kraai


‘n Storie van ‘n jakkals en ‘n kraai wat ons aanspoor om nie enige iemand wat ons straks net wil bedrieg, te vertrou nie.

Die kraai het van iewers vir hom ‘n wiggie kaas opgepik gekry en sit toe met sy buit af na ‘n tak in ‘n hoë boom. ‘n Jakkals kom toe op hom af en loop al om en om die boom terwyl hy ‘n plan probeer beraam om die kraai daarin ‘n streep te trek. “En wat op deeske aarde het ons hier,” kom dit toe van die jakkals. “O, skone kraai,” deklameer hy, “die elegante estetika van jou gebeente is voorwaar voortreflik, terwyl jou gelaat jou kwalifiseer vir koning van die geveerdes. Had jy tog maar net ‘n stem om daarmee saam te gaan, was jy die voorste van al die gevleueldes.” Jakkals het hierdie dinge natuurlik net kwyt geraak om kraai in ‘n lokval in te lei. En kraai trap nie net daarin nie, hy storm sommer in:  hy trek los met die allervreeslikste kras kreet... en daar val die kaas uit sy bek uit. Van die gespog met sy stem, is hy toe sy buit kwyt. Jakkals het die kaas summier gegryp en voet in die wind geslaan met die volgende afskeidswoorde: “O, jou stomme kraai, jy het ‘n voorwaar ‘n stem, maar daarmee saam allermins nie enige breins wat daarteen op kan weeg nie.”


Wie hom steur aan die mening van sy vyande sal seerkry.

Friday 5 July 2013

Die veewagtertjie en sy alewige leeus


Daar was hierdie veewagtertjie wat die onhebbelike gewoonte gehad het om van tyd tot tyd in die rigting van die stat te hol en histeries uit te roep: “Leeu, leeu! Kom help, die leeus is op ons!” Tot groot vermaak van niemand anders behalwe homself nie, het hy dan dopgehou hoe almal, tot die tande toe met stokke en skilde en spiese bewapen, nader gehardloop kom, net op te hoor – nes hulle uitasem by hom en die trop kom – dat dit nie regtig die geval is nie. Toe was daar eendag regtig 'n leeu, en ook nie net een nie, sommer drie wyfies wat onder die stam se vee kom jag het. Hierdie keer maak  dit egter nie saak hóé die knapie skree en roep en waai en te kere gaan nie – almal het lankal geleer om hulle nie meer aan hom te steur nie en gaan bloot ongehinderd met hul dagtake aan.  So het die hele gemeenskap toe groot en ernstige skade gelei. 


Wat maar net wil wys hoe leuenaars beloon word – selfs al praat hulle ook nou miskien eendag die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie, het almal teen daardie tyd lankal geleer om nie ‘n enkele woord te glo wat hulle kwyt raak nie.

Thursday 4 July 2013

Die skilpad en die arend


Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie span ‘n skilpad sy stem skril en klaend in om ‘n swerm seevoëls naby hom op die rotse te verwyt vir die feit dat nie een van hulle in al hierdie jare dat hulle naaste bure is, nog ooit bereid was om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar bo in die lug rondgehang het op soek na iets om te gebeur, hoor die skilpad se gekerm en kom vind uit wat skeel. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend oomblikke nadat hy die skilpad se treurmare uitgeluister het, weet, “as ék jou help om die wonder van vrye vlug te ervaar?” Hy bied dan ook aan om Skilpad saam met hom die bloue lug in op te neem en daar in die hoogtes met hom te sweef, maar teen ‘n prys natuurlik. Skilpad, skoon opgerui oor die vergesigte wat hy in sy geestesoog oproep, is ook nie links nie en beloof die arend, lekker wild en wyd, sommer al die skatte van die see. “Nou maar in daardie geval dan, laat my toe, nie net om jou te laat voel hoe dit is om te vlieg nie, maar om jou te wys hoe om die kuns op jou eie te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad, wat intussen van al die opwinding al skoon aan die bewe gegaan het, versigtig in sy skerp kloue. Hy neem hom tot amper in die wolke voor hy hom eensklaps net so laat laat los en met arendsoog dophou om te sien presies waar die onnosel skilpad hom binne enkele tellings teen die ruwe rotse morsdood te pletter gaan val. Wel wetend dat hy sopas die volgende dis op Arend se spyskaart geword het, roep die skilpad uit: “Wat nou besig is om met my te gebeur, is niks minder nie as my welverdiende loën . Wat het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die wolke moes kom soek!"


As mens altyd dit waarvoor hy wens, moet kry, sal hy meer dikwels as nié, juis daardeur ruïneer word.

Wednesday 3 July 2013

Die slang en die arend, en die boer daarby



'n Storie met 'n arend en 'n slang in, wat ons wil aanspoor om gou te wees om aan ander 'n guns te bewys.

Die slang en die arend was in dodelike stryd gewikkel. Die slang had die oorhand en was op die punt om die arend te verwurg toe 'n boer op hulle afkom en die arend bevry. Die slang, hoogs gefrustreerd oor die verlies van sy prooi, ledig toe sy gifsakke in watersak aan die boer se sy. Die boer, salig onbewus van wat gebeur het, was op die punt om sy dors te les toe die arend skielik vanuit die lug afgeduik kom, die leersak in sy kloue neem en daarmee die verte in wegvlieg.

As jy ander goed behandel, word jy dikwels met heelwat stof tot dankbaarheid beloon. 

Saturday 29 June 2013

Die sperwer, die valkie en die duiwe


Die duiwe, bykans lam van vrees vir ‘n sperwer wat een of twee van hulle nou al ‘n paar keer in die omgewing opgemerk het, neem ‘n hulpvaardige valkie in diens om hulle te beskerm. Maar na hulle hom eers in die swerm toegelaat het, kom hulle agter dat hy in een dag meer skade aanrig en onder hulle afmaai, as wat die sperwer in ‘n volle jaar kan vermag.


Pasop vir ‘n oplossing wat maklik ‘n groter probleem as die aanvanklike probleem kan wees. Wees ook op die uitkyk vir geneesmiddels wat groter gevaar inhou as die siekte self.

Thursday 27 June 2013

Die sperwers en sangvoëls


fotobron
'n Storie oor sperwers en sangvoëls wat ons wil aanspoor om nie dinge te wil doen wat nie by ons tuishoort nie.

Moeder Natuur het alle sperwers oorspronklik met dieselfde mooi stemme geseën as die van enige van al die ander sangvoëls in die land wat soggens die dagbreek met hul skone klanke begroet. Maar toe ‘n spul sperwers eers een maal gehoor het hoe mooi ‘n trop wilde perde kan runnik as hulle daartoe opgerui word, is dit neusie verby – hulle is daardeur totaal betower en wil die perde dit ten alle koste na kan doen. Al die oefen om soos 'n perd te kan runnik, het egter soveel spanning op hul stembande gesit, dat die stomme sperwers laterhand letterlik stom was en tot vandag toe nog, nie 'n geluid kan uitkry nie.



Om iets of iemand na te boots wat nie by ons pas nie en bo ons vuurmaakplek is, kan tot gevolg hê dat ons die bietjie wat ons het, later ook kwyt is. 

Thursday 20 June 2013

Die sprinkaan en die uil

fotobron

Diegene wat nie die nodige respek en agting toon waar dit toekom nie, word gewoonlik lelik in die bek geruk oor hul verwaandheid.


Die kriek was helder oordag besig om die allervreeslikste geraas aan te jaag. Dit was tot groot ergenis van die uil wat daaraan gewoond was om in die donkerte van die nag op jag te gaan en bedags iewers in 'n hol boomstam te slaap. Daarom dan ook dat die uil die kriek vriendelik versoek om stil te bly, Dit het die kriek egter net aangespoor om 'n nog groter geraas op te sit. 'n Tweede keer rig die uil 'n vriendelike versoek, en 'n tweede keer draai die kriek die desibels aan. Toe die uil besef dat mooipraatjies niks aan die saak gaan doen nie, juis omdat die kriek hom so aflag, besluit hy om die bron van ergernis dan maar ‘n lelike streep te trek. “Met die dat ek van al jou gesingery, wat natuurlik aan engelegesang herinner,  nie eers 'n uiltjie kan knip nie – wat nog te sê 'n oog kan toemaak,” kom dit van die uil, “het ek besluit om my te verlekker in die soete ambrosia  wat een van die gode my as present gegee het. As dit jou welgeval, sal dit vir my 'n voorreg wees as jy dit saam met my geniet." Die kriek willig toe dadelik in, nie net was hy vreeslik dors nie, maar ook besonders gevlei deur die heuningkwas wat uil hom om die mond gesmeer het. Hy vlieg dan toe ook dadelik op na waar die uil hom bevind. Die uil maak hom toe summier tuis voor die ingang na die gat in die boom – dis om te keer dat die kriek nie uitkom nie – en bring 'n einde, nie net aan die kriek se geraas nie, maar aan die kriek se lewe. Dit waartoe die kriek nie in hierdie lewe kon instem nie, het hy op die ou einde toe wel in sy dood bemeester.

'n Meer onlangse variasie:

‘n Uil, gewoond daaraan om snags te jag en bedags te slaap, word helder oordag deur ‘n sprinkaan se getjirp uit sy slaap gehou en hy vra hom mooi asseblief tog stil te bly. Die sprinkaan weier om toe te gee, of selfs net ‘n bietjie eenkant toe te skuif. Gevul met eiewaan tjirp hy trouens al hoe vinniger en harder, hoe meer die uil hom smeek om stil te raak. Dit is toe dat die uil genoop word om sy strategie te verander:  “Met die dat ek onder die skone klanke wat jy voortbring, en glo my dis mooier as die mooiste vioolmusiek, beslis nie sal kan slaap nie, gaan ek hierdie musikale interlude afrond en vervolmaak met ‘n kelkie van die soetste nektar wat Moeder Natuur my onlangs geskenk het. Voel vry om jou by my aan te sluit, dis nou as jy van sulke soete nektar hou, en dan geniet ons dit saam.” Die Sprinkaan, nie net dors nie, maar ook daartoe verlei deur die uil se aanprysing van sy mooi musiek, vlieg met groot entoesiasme die lug in om hom by die voël aan te sluit.  Dis toe ook mooi op hierdie punt dat die uil uit haar donker skuilplek tussen die blare kom, afduik, die sprinkaan doodmaak en verder gaan slaap sonder om hom eers te eet, want uile jag snags.