Omdat die uil oor wysheid beskik, het sy die ander voëls, die oomblik toe die eerste
eikebome begin opskiet, gewaarsku dat hulle geensins die bome moet toelaat om
verder te groei nie. Sy het trouens ‘n vergadering van al die voëls byeengeroep
en hulle daarop gewys dat sou hulle nie hierdie bome met wortel en tak uitroei
nie, die bome iets, wat later as voëlent bekend sou staan, sal oplewer – en dit
beloof om iets te wees waarvan die voëls nie weg sal kan vlug nie, iets wat
groot dood en verwoesting onder hulle sou saai. Ook later, toe die mens begin
om vlas te verbou, die vesel wat later gebruik sou word om vangnette van te
knoop, het sy die voëls aangesê om elke enkele saadjie uit te pluk en op
te pik aangesien dit ook vir die voëls as ‘n groot bron van
vernietiging en uitwissing gaan opeindig. ‘n Derde keer het die uil haar
geveerde familie en vriende gewaarsku. Dit was toe sy ‘n man met pyl en boog
sien loop het. Sy het hulle daarop gewys dat die mens hulle met hul eie vere
gaan oorwin; selfs al is hy sonder vlerke met sy voete aan die aarde gebind,
gaan hy geveerde pyle die lug instuur. En elke keer het die voëls geweier om ag te slaan op die uil
se waarskuwings. Hulle het haar hanteer soos ‘n swaksinnige een wie se kop haar
heeltemal verlaat het. Met verloop van tyd, en tot die voëls se groot skok en verbasing, het
dinge natuurlik uitgedraai, presies soos die wyse uil voorspel het. Daarom ook
dat die voëls, vandag nog, loop
hulle ‘n uil raak, haar met eerbied en ontsag hanteer, so asof sy hul meerdere
en kenner op elke gebied is. Maar die uil voorsien hul lank reeds van geen raad
meer nie; al wat sy nou doen, is om te kla.