‘n Wildedonkie sien ‘n pakdonkie gebukkend
onder sware vrag voortstu en begin summier die spot met hom dryf: “Hoe gelukkig
is ek nie – ek kon myself lankal by jou en jou soort aangesluit het, myself
uitverkoop het om verkneg te word, maar hier is ek, is vry van gevangeskap. Ek
hoef my nie aan ‘n ander af te sloof vir oorlewing nie – ek het die oopte van
die grasvlaktes en die vryheid van die golwende groen heuwels. Jy, aan die
ander kant, is op iemand anders aangewese, selfs om jou te voer; dit terwyl jy boonop
uitgelewer is aan slawerny en sweepslae wat daglank op jou reën.” Op hierdie
punt sluit ‘n leeu ongemerk op die toneel aan. Maar, met die pakdonkie se
eienaar wat gewapen vlak langs hom staan, het hy niks aan hom gedoen nie. Die
wildedonkie, op sy beurt, het vingeralleen gestaan toe die pakdonkie en sy
drywer langs ‘n draai in die stofpad verdwyn – hy is aangeval, is korte mette
van gemaak en moes in die stof byt alvorens hy ‘n koningsmaal geword en
verorber is.