fotobron |
Daar
was eenkeer ‘n afgematte soldaat, oud en der dagen sat, ‘n veteraan van vele
veldslae, wat as jong krygsman reeds onderneem het om eendag ‘n vuur te stook
en sy eie wapentuig, ook alle wapens wat ‘n sterwende slagoffer oorwonne
oorhandig het, en selfs alles wat hy as oorlogsbuit van voortvlugtiges uit die
slagveld ontvang het, daarin te verbrand. Met die dat die lewe hom gunstig
hanteer het en alles vir hom mooi in plek geval het, was hy nou op die punt om
die belofte wat hy destyds gemaak het, tot uitvoer te bring. Hy het begin om al
die wapens en elke vorm van oorlogsbuit, een vir een, in die vlamme te gooi. ‘n Hout trom het egter uit die bloute luid protes aangeteken, hy het voet by stuk
gehou dat hy aan geen misdaad skuldig is nie en onregverdig in die brandende
tonge van die vuur oorgelewer word. “Jy kan hoegenaamd nie aanvoer dat ek in
enige aanval van watter aard ook al wat ooit teen jou geloods is, gebruik is
nie,” kom dit protesterend van die trom. Al wat ek ooit gedoen het, was om die manskappe op te roep en aan te spoor in
hul opmars. Ek sweer, en ek roep die sterre as my getuie, dat ek ook nooit vals of misleidende boodskappe die naglug ingestuur het nie." Desnieteenstaande dit
alles het die ou soldaat hom nogtans saam met die res in die vuur gegooi.
Terwyl die trom in die gloeiende vlamme verkool en in as verval, merk
die ou soldaat op: “Alles wat jy aanvoer, bied
my des te meer rede om jou te straf en met pyn en lyding deur hierdie
vlammehel te stuur. Al het jy op jou eie niks uitgerig of bereik nie, is jy
niks minder skuldig of wreedaardig nie, jy het ander immers aangespoor om
ongekende wreedhede te pleeg.”