Friday 30 September 2011

Die bababokkie, die wolf en die fluit


Hierdie bababokkie dwaal toe af van sy trop en toe hy hom weer kry, toe is daar 'n wolf op sy spoor. Met geen kans op ontvlugting is hy sommer gou in wolf se kloue en noem hy bewend: “Ek weet dat ek op die punt staan om jou aandete te word, oom Wolf. Maar laat asseblief net toe om my afsterwe met waardigheid in te gaan – speel asseblief vir my die fluit dat ek 'n klein afskeidsdansie kan doen.” Wolf stem toe in en die bokkie dans. Die vrolike musiek het natuurlik die aandag van die bokwagters se honde getrek en hulle was gou op die toneel om wolf te verjaag. So in die weghol, dink wolf in sy enigheid: “Dit het ek nou daarvan om my lyf musikant, in plaas van slagter, te wil hou.”

Deur met ander in gesprek te tree, selfs by diegene wat van nature boos is, kan jy jouself uit die moeilikheid praat.

Ek wonder skielik waar kom ons aan die uitdrukking “om na iemand se pype te dans” – vir die bokkie het dit tot sy voordeel gestrek om na wolf se pype te dans.

(Miskien kom die uitdrukking van die "Rottevanger van Hameln" af. Die illustrasies, soos altyd, kom van Laura G Gibbs se versameling op Flickr.)

Monday 19 September 2011

Die wolf en sy skaduwee



Teen laat skemer aan het draf deur die woestyn, merk wolf die buitensporige grootte van sy skaduwee op. “Hoe is dit moontlik,” wonder hy by homself, “dat iemand so groot en sterk soos ek moet terugstaan vir 'n leeu? Kyk hoe lank is ek! Tog sekerlik ék wat bestem is om koning oor al die diere te wees.” En terwyl hy homself so loop en opblaas in sy gedagtes en al sy waaksaamheid verloor, gryp 'n groot ou leeu hom en verslind hom – maar nie voordat wolf eers tot die besef kom dat sy ondergang die gevolg van sy eie grootheidswaan is nie, trouens sy selfbedrog wat tot sy dood lei.

Hier is 'n skakel na 'n lieflike illustrasie van hierdie fabel. Die kunstenaar laat egter nie toe dat mense dit gebruik soos hulle wil nie.

Die boonste illustrasie is deur Laura G Gibbs op die internet toeganklik gemaak by Flickr.

Sunday 18 September 2011

Die steekvlieg en die muil


'n Lastige ou steekvlieg wat haarself op die juk tuisgemaak het begin die muil toe lastig val: “Nee maggies man, jy stap gans te stadig,” sê sy, “kan jy nie bietjie vinniger nie as hierdie slakkepas nie! As jy nie spoed optel nie piets ek jou nou in die nek om bietjie lewe in jou te blaas!” Die donkie gee die vlieg een rustige kyk en sê: “Dit pla my net mooi niks wat jy te sê het nie – die enigste ding waaraan ek my steur is die man op die bankie hier agter met sy sweep – hy bepaal die pas, hy jaag my aan en trek my weer in as dit moet. En wat meer is – daarom ook dat ek nie tyd vir jou grootpraatjies het nie – ek weet lankal wanneer ek veronderstel is om te hardloop en wanneer nie."

Hierdie fabel kan gebruik word om te verwys na iemand wat dreigemente rondgooi sonder dat dat hy of sy enigsins die krag of die mag het om dit tot uitvoer te bring.


In die boonste illustrasie sal ek altyd wonder of die man die doek onder sy hoed en om sy nek het, om aan te sluit by 'n las aan steekvlieë in 'n bepaalde landstreek en seisoen, of nie.

Die onderste twee is deur dieselfde uitgewer (Steinhowel) wat rondom 1500, drie uitgawes, elk in 'n ander taal, die lig laat sien het.

Wie ook al verantwoordelik was vir die tweede en derde uitgawes se illustrasies het allermins nie met nuwe gedagtes en idees gekom nie.

Hier wonder ek weer of die oorspronklike kunstenaar die drywer doelbewus laat omkyk het, sodat hy nie die groteske, monsteragtige steekvlieg by die muil se kop kan raaksien nie.



Dit is ook duidelik dat Steinhowel se uitgawes die standaard geword het waarby talle ander illustreerders ingeval het. Dit is bv. duidelik dat die heel eerste skets (jare jonger as die laaste twee) net 'n oor teken van die oertekste is.

Die illustrasies is deur Laura G Gibbs op Flickr in die openbare domein beskikbaar gestel.


Die twee paddas

Die twee paddas was bure; maar oor 'n redelike entjie want die een het in 'n vlak klein modderige poeletjie teenaan die pad, en die ander in 'n helder diep poel verder die veld in, gebly. Die een van die diep poel in die veld nooi toe sy maat om saam met hom te kom bly, daar is oor as genoeg plek vir beide en dan het sy maat aansienlik minder stres as wat tans so teen en eintlik op die verkeer die geval is. Hierdie aanbod van die veldpoel-padda word egter vriendelik van die hand gewys aangesien die padpoeletjie-padda dan voel dat hy nou al so gewoond en geheg aan sy beskeie bietjie modderwater is, dat hy homself daarvan net nie los kan skeur nie. En dit was ook nie lank nie, toe is dit met die padda soos met onse doringboompie langs die pad – toe kom daar 'n wa met osse langs en trap die padda plat.

Net so is dit met mense wat hulle ophou met die een of ander nuttelose aktiwiteit, voor hulle weet, dan sit hulle met niks.

Die boek waaruit illustrasie hier bo kom, het, wat my betref 'n interessante geskiedenis. Volg gerus hierdie skakel na die boek wat in die New York Openbare Biblioteek opgeneem is.

Hier is ook 'n skakel deur na 'n faksimilee-heruitgawe van die boek. Daar is natuurlik meer heruitgawes beskikbaar, maar hierdie uitgewers bemark hulself as die enigstes wat egte goud in hul reduplikasies gebruik.

Ek sien die prys van hul boek is slegs op aanvraag beskikbaar - so ek kan my net voorstel!

Laat ek dan maar 'n skakel na 'n meer bekostigbare edisie ook aanbied. Kliek hier om na Amazon geneem te word. Hulle laat jou, soos die ander twee, ook toe om in die boek rond te kan blaai.

Saturday 17 September 2011

Die wolf en die perd




Soos hy deur die veldjie stap, kom wolf agter die hawer staan lieflik geil. Maar oor wolwe mos nou nie eintlik juis vreeslike groot hawervreters is nie, is sy gewaarwording nie veel meer as 'n blote terloopse kennisname en toe verder aanstap nie. Toe hy egter kort hierna vir perd raakloop, lei hy hom summier heel vriendelik na die betrokke veldjie toe en probeer hom daarvan oortuig dat hy wat wolf is, nie terstond al die hawer verorber het nie, maar dit vir hom wat perd is gelos het, juis oor dit vir hom wat wolf is sulke wonderlike musiek in sy ore sal wees om te hoor hoe lekker sy vriend daaraan eet. Die perd gee hom net een lang kyk en sê: “Nee, kyk, as julle wolwe julle bekke aan hawer geslaan het, dan het jy beslis nie vandag jou ore, en dit nogal ten koste van jou maag, trakteer nie.”

En is dit nie jammer nie – as jy eers 'n slegte naam of reputasie het, glo niemand jou nie, selfs al is jou intensies hóé edel en opreg.

Die wolf en die bok teen die krans




Die bok was hoog op 'n rotslysie tussen kranse aan het wei toe wolf, tot die dood toe honger, hom gewaar. Onmoontlik vir hom om by haar uit te kom, probeer hy toe maar met woorde: “Jou stomme skepsel! Vir wat het jy die lieflike kweekgras hier onder vaarwel geroep om jou lewe daar bo in die hoogtes in gevaar te stel agter 'n paar bossies aan? Jy soek mos nou vir moeilikheid so vreeslik hoog daar bo – dis sommer baie veiliger hier onder.” Nee,” antwoord die bok, “dis nie in belang van my veiligheid, my eetlus of my smaak dat jy my afroep nie, maar suiwer in belang van jou maag en sy volgende maaltyd.”

Wees op die uitkyk vir raad en advies van ander wat net tot hul voordeel is en jou tot nadeel strek.

Laura G Gibbs se illustrasiebron op Flickr

Wednesday 14 September 2011

Die wolf en die skaapwagter


Dit was nou al 'n geruime ruk dat die wolf die trop skape gevolg het, sonder om hulle enige skade te berokken. Aanvanklik was hul wagter maar lugtig en hy het die wolf nie 'n enkele oomblik uit sy oog verloor nie. Met verloop van tyd egter, en dit terwyl die wolf steeds niks kwaad gedoen het nie, het die wagter hom nie meer as 'n bedreiging beskou nie; eerder 'n vorm van beskerming. Toe die wagter dan toe nou ook eendag nodig het om in te gaan dorpie toe, laat hy sy skape in die hande en geselskap van die wolf. Wolf spring toe onder die skape in en het bykans die hele trop in 'n oogwink afgemaai. Toe die skaapwagter terugkeer, besef hy dit is niks anders as sy verdiende loon nie – vir wat het hy sy skape aan 'n wolf toevertrou.

Plato, en ander van sy tyd, was reeds bekend met die uitdrukking “om van wolf skaapwagter te maak.” Die klassieke tekste eindig egter af met iets soos: En so is dit ook met mense: los jou geld in 'n gierigaard se hande, en jy gaan besteel word.


Illustrasies deur Laura G Gibbs op Flickr beskikbaar gestel