Saturday 30 April 2011

Die Osse en die slagters

Deur Laura Gibbs toeganklik gemaak op Flickr.com
Omdat die slagters ‘n praktyk beoefen wat hulle en hul soort net tot nadeel strek, het die osse plan beraam om van die slagters ontslae te raak. ‘n Bloedige, en bloederige, dag en geveg sou dit wees, een waarvoor die osse ‘n een en elk hul horings geslyp het. Maar toe kom een van die oudstes onder hulle, een met jare se ervaring gebukkend onder ‘n juk en voor ‘n wa en ploeg, met dié wyse woorde:  “Dis waar ja, hierdie slagters maak ons dood, maar hulle doen so met geoefende hande, sonder onnodige pyn en leiding. Raak ons van hulle ontslae, neem ander onervare hande by hulle oor en lei ons more net meer. Van net een ding kan ons seker wees: selfs al raak ons ontslae van al die slagters onder die son, sal die mensdom steeds aanhou om ons vir eie gewin en hul spyskaart dood te maak.

Thursday 28 April 2011

Die boer en die slang

Rusticus et Serpens
Die boek is in ongeveer 1487 in Brescia, Italië uitgegee.
(Alle illustrasies, tensy anders vermeld, is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel
by http://www.flickr.com/photos/38299630@N05/collections/)
Boer kom toe op hierdie die slang, half verkluim van die koue, af. Na hy weer warmte en lewe in die dierasie gekry het, het die slang homself afgewen en die man wat sy lewe wou red 'n dodelike byt in sy hand toegedien. Die woorde wat die sterwende man prewel, is die moeite werd om te onthou:  “Wel, ek het my verdiende loon gekry want dis wat daarvan kom om 'n booswig 'n guns te wil staan en bewys!”



 Steinhowel (1479)



Die uitdrukking wat verwys na iemand wat 'n adder aan die bors koester, is nie eie aan Afrikaans nie, selfs die klassieke Romeine was donkiesjare gelede al daarmee bekend.

Gedagtig seker ook aan hierdie spreekwoord dat ek die fabel ronde 1 soos volg vertel het:

‘n Boer het een winter in die sneeu op ‘n slang, stokstyf en byna verkluim van die koue, afgekom. Hy het die stomme reptiel jammer gekry, hom opgetel en hom binne sy dik woljas teen sy bors gehou om warmte en nuwe lewe te kry. Die slang was sommer gou weer by en toe doen hy die een ding wat slange maar al te goed doen – hy pik boer en dien hom ‘n fatale wond toe. Met ‘n gesnak na asem, soos wat die gif Boer se longe vernietig, is die laaste wat oor sy lippe kom:  “Dis nou stank vir dank wat ek oor myself gebring het om ‘n booswig soos jy jammer te wil kry.”


JJ Grandville (1803 - 1847)
Babrius, op wie se teks ek my in die boonste van die twee verlaat het, noem niks van 'n bors waarteen die dierasie warm gemaak word nie. Dis ook duidelik uit die onderstaande illustrasies nie die geval nie:

Die oorspronklike boek is in 1547 deur Bernard Salomon in Frans uitgegee.
Let op die twee tonele en tydsverloop, soos ook hier onder, wat weergegee word.

Kunstenaar onbekend maar uit bundel deur Osius (1574)

Dit is natuurlik moontlik dat daar ander klassieke tekste, jonger as die van Babrius is wat die boer wel die adder aan sy bors laat warm word.

Richard Heighway (1894) Illustrasie by Google Books
Vergelyk ek die boonste illustrasie met die hier onder, is en bly dit vir my effe ongeloofwaardig om te dink 'n man sal 'n slang teen sy bors beskerming bied. Die "ontdooi" voor die een of ander vuur is vir my net meer aanneemlik.

Ernest Griset het hierdie lieflike illustrasie in 1869 vir 'n publikasie gemaak.

Samuel Croxall (1793) illustreerder onbekend

Ook deur Bernard Salomon

Bernard Salomon (hy het minstens 3 uitgawes van Esopus se fabels illustreer)
In my soektog na 'n illustrasie wat die adder aan die bors uitbeeld, het ek soveel illustrasies opgespoor van 'n ander fabel rondom 'n adder en 'n man dat ek die betrokke fabel ook sommer nou aanbied.

Ademar het die storie in ongeveer 1000 nC só vertel:

In die betrokke boer se huis het dit gebeur dat ‘n sekere slang wat daar gebly het, gereeld van dit wat van die tafel oorgeskiet of afgeval het, vir homself kon neem. Dit was ook nie lank nie of die boer het ryk geword. Saam met die boer se gevonde rykdom het egter ook ‘n teensin in die slang gekom en hy het hom mooitjies een dag in 'n woedebui met sy byl aangeval. Die wiel het gedraai – die boer het oornag sy rykdom verloor en hy het besef dat sy geluk afkomstig van die slang was; dis nou tot hy hom ‘n ruk vantevore verwond het. Die boer het toe by die slang gaan smeek om hom te vergewe vir die bose onreg wat hy gepleeg het, maar die slang antwoord:  “Ja, jy is jammer oor wat gebeur het, maar jy moenie van my verwag om jou vriend te wees tot ek nie ten volle genees het van my wonde nie. Dit is nie vir my moontlik om met jou te versoen vir solank ek nog aan daardie verraderlike byl herinner word nie.”

Die een wat ‘n ander seermaak moet met groot versigtigheid en agterdog bejeën word, iets wat natuurlik ‘n groot klip in die pad van die vriendskap se herstel is.


Deur 'n Desandre en W Freeman (maar wanneer weet ek nie.)



In 1925 het Chambry 'n hele aantal anonieme klassiek Griekse tekste in 'n bundel beskikbaar gestel. Die teks wat hy opgeneem het, vertel die storie 'n effe anders, en dis duidelik dat dele van die vertelling verlore gegaan het:

Dan was daar hierdie slang wat aldag en heeldag rondom Boer-hulle se voordeur uitgehang het. Op 'n dag slaan die slang toe sy tande in die enkel van die boer se seun in en ledig sy gifsakke in die seun se bloedstroom. Die seun slaan daar in sy spore dood neer. Die boer en sy vrou is in ontsettende rou gedompel en die bedroefde vader reik na sy byl om sy seun se dood op die kwaadwillige slang te wreek. Die slang het voor sy agtervolger uitgeseil, maar die man het hom met sy byl agternagesit, vasbeslote om met die slang af te reken. Toe hy die doodslag wil toedien, is dit egter mis en al wat hy uitrig, is om die punt van die slang se stert af te kap. Toe is die man ontsteld by die gedagte dat hy die slang dood kon gemaak het. In 'n poging om vrede te maak neem hy koekies en water, ook heuning en sout na die slang. Die slang, aan die ander kant, wil van niks weet nie – al wat hy doen is om saggies van tussen die rotse waar hy gaan skuil het, te sis: “Moenie die krag en energie mors om die vriendskap tussen ons te herstel nie. Deur net na my stert te kyk, hou vir my pyn in. Dieselfde is met jou die geval: elke keer wat jy oë op jou seun se graf lê, sal jy opnuut nie met in vrede kan verkeer nie.”

Die fabel wil illustreer dat niemand enige haat of wraakgedagtes opsy kan skuif vir solank iets hom nog elke dag herinner aan die pyn wat hy gelei het nie.


Samuel Croxall (Illustreerder onbekend)

1687 deur Francis Barlow
Dis jammer dat ons nooit sal weet hoekom die slang die seun dood gepik het nie. Net so jammer dat ons nie sal weet waarom die man sy mislukte aanval berou het en omverskoning gaan vra het nie.

Aan die ander kant kan ons die Esopus-tradisie 'n oomblik opsy skuif en Ooste toe beweeg. Hier, in verskillende tale en kulture, net soos met Esopus in die Weste, het ons die Panchatantra – 'n versameling fabels wat hul ontstaan ongeveer 300 vC in Indië gehad het.

Een van die fabels, die een van die slang wat goue munte uitdeel, herinner sterk aan hierdie fabel en help ons om die gate wat in die Griekse vertelling oopgeval het,  in en aan te vul.

Die volgende skakels bring jou verskillende oorvertellings van dieselfde storie uit:



http://www.sacred-texts.com/hin/ift/ift16.htm

Daar is talle fabels tussen die van die Ooste en die Weste wat nog sterker ooreenkomste toon as die een van die boer en die slang. Ongelukkig onmoontlik om vas te kan stel wie eerste was:  die Grieke of die Indiërs. En niks anders as 'n sinlose gekibbel om enigsins 'n uitsluitsel te wil kry nie.
Samuel Coxall (1814) illustreerder onbekend
C Bentham (1821)


Jacob Gole het hierdie illustrasie vir 'n 1685-uitgawe in Nederlands gemaak.
As jy wonder oor die pot op die vuur gaan lees self op p. 341 by http://www.archive.org/stream/sinrykefabulenve00court#page/332/mode/1up


Henry Walker Herrick 1882
Sir John Tenniel (1884) Hy het ook die eerste Alice in Wonderland illustreer.
Thomas Bewick (1871)

Tuesday 26 April 2011

Die man en sy hond


Gereed om op sy reis te vertek sê die man vir sy hond: “Hoekom staan jy net daar met jou bek wyd oop en vol tande! Kry jouself gereed, jy gaan saam met my.” Stertswaaiend en terwyl sy van vriendelikheid oorloop sê die hond: “O, maar ek is lankal gereed om te gaan, dit is jy wat ons vertrek vertraag.”

Ek het 'n ruk gelede heerlik uitgebrei op hierdie fabel wat Babrius naastenby soos hier bo aangeteken het. Toe het my weergawe soos volg daar uitgesien:

Uiteindelik gestewel en gespoor, sy pyp klaar weer gestop en na ‘n heerlike tweede koppie boeretroos, kom Boer voor die agterdeur op sy getroue hond af waar dié homself, en ook al moeg gewag, behaaglik uitstrek. “Nou vir wat staan jy net daar en ginnegaap, ou dier?” vra die boer. “Kyk waar staan die son al, ons het werk om te doen, laat los jou slegtigheid en kom saam met my!” Al wat die hond doen is om sy stert net meer te waggel terwyl deur sy gedagtes flits: “O, nee, liewe heer en meester, beslis nie jy wat vir my wag nie – ek is al vroegdag reg en gereed en bly om te sien ek hoef nie nog langer op jou te wag nie.” Maar dan is dit mos maar soos dit is: die draalkous is maar al te geneig om enige vertraging voor die deur van ‘n ander te lê.

Dis dan ook op grond van hierdie weergawe wat ek onthou het dat ek op die illustrasie waarop ek besluit het, besluit het. Getrou aan Babrius sou iets anders meer gepas wees – 'n stert waggelend, oopbek, en so meer.


Vandag verkies ek eersgenoemde weergawe met miskien die volgende verandering in die hond se woorde:  “O, maar ek is vroegdag al gereed om te gaan, en nie jy wat vir my wag nie, maar ek op jou!”

Twee skrywers wat hulle ten doel gestel het, nie om die fabel oor te vertel nie, maar om Babrius se klassieke teks te vertaal, gebruik die Engelse woord “fawning”. Die naaste wat ek in Afrikaans daaraan kan kom is “kruiperig”; in konteks dalk eerder “onderdanig”. “Stertswaaiend en kruiperig antwoord die hond...”

Hondemense sal presies weet wat met die woord bedoel word, maar het jy nie self honde nie, en is jy nie lief vir die diere nie, kan die woord “kruiperig” egter miskien 'n verkeerde boodskap tuisbring.

Monday 25 April 2011

Die bababokkie en sy ma

'n Storie van 'n bok wat ons daarop wil wys dat raad gegee moet word deur diegene wat daad by die woord kan voeg.

Die boklam word deur sy ma tereggewys:  “Ek weet nie hoekom jy doen wat jy doen nie, my kind. Jy is geseën met 'n lieflike stel horings, jy is sterk gebou; ek weet nie hoekom jy op vlug slaan die oomblik as die jaghonde nader kom nie.” Dit is wat die ma gesê het, ja. En toe hulle 'n ruk later die jaghonde in die verte hoor, het sy 'n tweede keer haar kind aangespoor om vas te staan. Dis nou voor sy self voet in die wind geslaan het.

Dis maklik om iemand van raad te voorsien wat nie self uitgevoer kan word nie.

So het Aphthonius van Antiochië die fabel rondom 400 nC vertel. Toe ek die eerste keer daarmee kennis gemaak het, was dit uit die mond van George Fyler Townsend, 'n hele paar honderd jaar later. Straks het hy 'n ander klassieke brondokument gehad, dalk het hy homself net baie vryheid toegelaat, dalk was sy Grieks maar gebrekkig, want uit sy mond verloop die storie eerder so:

‘n Bababokkie sê op ‘n dag vir sy ma: “Mamma jy is nie net groter as ‘n hond nie, maar ook vinniger en fikser, eintlik ook meer gewoond aan hardloop as enige hond, en dan het jy ook ‘n lieflike stel horings om jouself mee te verdedig; waarom dan, liefste Mamma, is jy so vreelik bang vir enige hond, selfs die luiste kleinste keffer onder almal? Met ‘n glimlag erken sy ma:  “Ek weet, my seun, maar al te goed, dat alles wat jy sê die waarheid is en in die kol, ek het elke voordeel wat jy noem, maar hoor ek selfs net ‘n enkele hond se blaf, dan val ek byna flou en slaan summier voet in die wind.”

Want geen argument sal ooit ‘n lafaard oortuig of moed inpraat nie.
Die illustrasie hier bokom uit 'n handgeskrewe manuskrip in die De Medici-familie. Die hele boek kan aanlyn besigtig word by  die New York Openbare Biblioteek se digitale galery. Hierdie betrokke illustrasie is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel.

Die jakkals, die lam en die godin van die liefde

‘n Kat het tot oor haar ore toe verlief geraak op ‘n jong boer van die omgewing en gaan smeek by Venus, die godin van die liefde, om haar in ‘n mooi jong meisie te verander. Venus stem in en omskep die kat in so ‘n pragtige jong dame dat die boer haar byna dadelik vra om met hom te trou. Terwyl die twee in hul slaapkamer is, wonder Venus of die kat slegs uiterlik van gedaante verander het en of sy haar gewoontes ook aangepas het. Sy stuur dan toe ook ‘n muis in die slaapkamer in. Die katvrou, wat op daardie oomblik heeltemaal vergeet dat sy eintlik ‘n boervrou is, bespring summier die dier en slaan haar tande in sy nek in. Dit het Venus diep teleurgestel en sy het besluit om die vrou net daar en dan terug in ‘n kat te verander.

Dit wat aangebore is, is veel sterker as wat aangeleer is.

Deur Project Gutenburg in die openbare
domein geplaas, deur Laura Gibbs
toeganklik gemaak.

Hierdie fabel, hier oorvertel soos George Fyler Townsend dit in 1867 oorvertel het, fassineer my lankal, juis oor ons in Afrikaans die spreekwoord 'n Jakkals verander van haar maar nie van streke nie het.

Babrius, die man wat iewers tussen 300 vC en 300 nC 'n aantal van Esopus se fabels aangeteken het, vertel die storie min of meer soos volg en nie van 'n kat nie, maar 'n muishond. Hy skryf van Afrodite en Eros, maar Venus en Kupido val vir my beter op die Afrikaanse oor.

'n Muishond word eenkeer tot oor haar ore toe verlief op 'n aantreklike jong man en die godin Venus, die moeder van begeerte, laat toe dat die muishond van vorm kan verander en uiterlik die gedaante van 'n meisie aanneem, so beeldskoon dat enige man haar maar alte graag as vrou sal wil neem. Die oomblik toe die jong man sy oë op haar lê, is dit toe ook so – hy word op haar verlief en nie lank nie, toe word bruilof gevier. Die huweliksfees word onderbreek deur 'n muis op die dansvloer. Die bruid spring toe op van agter die ryklik versierde bruidstafel en sit die muis so bloeddorstig agterna dat die hele bruilof tot 'n einde kom. Na Kupido die lawwe streep wat hy die muishond wou trek tot uitvoer gebring het, het hy vertrek – die mens se ingebore natuur het bewys  dat dit sterker as die sterkste liefde is.

Ook Babrius se fabel kon my nog nie bring by die Afrikaanse jakkals, en Hollandse vos (Een vos verliest zijn haren, niet zijn streken.) wat van haar maar nie van streke verander, bring nie.  (Ek het wel agtergekom dat die Grieke 'n spreekwoord aan hierdie fabel te danke het:  muishonde dra nie trourokke nie.

Toe kom ek af op die volgende fabel deur ene onbekende Romulus wat ongeveer 1000 nC die volgende fabel aangeteken en aan Esopus toegedig het:

Selfs die grootste gelukskoot kan 'n swak agtergrond nie versteek nie:

Jupiter het 'n jakkals in 'n vrou verander en op die troon reg langs hom vir haar plek gemaak as sy koningin. Maar toe die jakkals 'n klein kewertjie uit sy gat sien kruip, kon sy nie anders as om die bekende prooi van haar agterna te sit en te verorber nie. Die ander gode het die jakkals uitgelag en Jupiter kon nie anders as om te bloos en sy verbintenis met haar tot 'n einde te bring nie. Toe hy haar uit die troonkamer jaag, roep hy haar agterna:  “Gaan lei die lewe wat jy gewoond is, die een wat jy verdien – jy is my gunste en gawes duidelik nie werd nie!”

Emile Chambry het in 1925 'n versameling anonieme klassiek Griekse fabels byeengebring. In die klassiek Griekse weergawe wat hy aanbied is dit Zeus wat die kewer loslaat om die jakkals se transformasie te toets.

Sunday 24 April 2011

Leeu se koninkryk

Leeu was tydlank die koning van al die diere, en hy was nie ‘n slegte koning nie. Hy was nie wraakgierig en wreed of ‘n boelie nie, maar sagmoedig en eerbiedwaardig soos ‘n koning moet wees. Tydens sy heerskappy belê hy toe ‘n groot ryksvergadering van al die diere, die voëls en sommer elke ding wat asem haal in die bos. Hy wou ‘n nuwe stel reëls en regulasies vir ‘n nuwe vredesryk voorlê, ‘n vredesryk waarin Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis tot in lengte van dae in vrede saam kan leef. Haas het met blydskap uitgeroep: “O, hoe lank het nie gewag vir die dag wat ons swakkes, die grasvreters, sonder vrees en bewing uiteindelik as gelykes en op dieselfde voet met die sterkes, die vleisvreters, kan verkeer nie! En dit nog sonder enige vrees vir vervolging!” En nadat Haas al hierdie strooi kwyt geraak het, moes hy hol vir sy lewe. En dis maar wat hy en die ander soos hy vandag nog doen.

Die strekking van die vertelling hierbo is soos wat George Fyler Townsend dit in 1867 vertel het. Die oudste optekening wat ons het, is iewers tussen 300 vC en 300 nC deur Babrius wat 123 (vermoedelik 160) fables van Esopus opgeteken het. Soos hy dit aangeteken het, verloop die storie eerder soos volg in Afrikaans:

Daar was een keer ‘n leeukoning wat nie ‘n slegte geaardheid gehad het nie. Om die waarheid te sê, hy het hom altyd daarvan weerhou om aggressief of gewellddadig op te tree, maar, amper soos ‘n mens, eerder saggeaard en regverdig. Gedurende sy heerskappy, so sê hulle, het al die diere vergader om hul griewe aan hom voor te lê en uitspraak in hul vetes te ontvang. Elke dier moes verantwoording doen:  die wolf vir wat hy aan die lam gedoen het, die luiperd vir wat hy op sy beurt aan die wildsbok gedoen het, die tier vir sy optrede teenoor die hert, en so aan, en so aan. En op die ou einde het elke dier vrede gehad met elke ander dier om hom. Die lugtige en skaam konyn merk toe op:  “Uiteindelik het die dag waarvoor ek so lank gebid het, aangebreek, die dag waarop self die swakkes onder ons deur die sterkes gevrees word!”

Die vlermuis en die muishond

‘n Vlermuis in die doodsgreep van ‘n muishond pleit om sy lewe. Maar die muishond ken nie genade nie en herinner die vlermuis daaraan dat hy die gebore aartsvyand van alle klein voëltjies is. Waarop die vlermuis maklik sy lewe gespaar kry deur die muishond te oortuig dat hy ‘n muis, en nie ‘n voël is nie. Kort hierna moet hy eens weer in die kake van die dood by ‘n ander muishond om sy lewe smeek. Ook hierdie muishond ken net sy eie natuur en nie genade nie; hy wys die vlermuis trouens daarop dat muise sy gunsteling prooi is. Waarop vlermuis hom natuurlik oortuig dat hy ‘n voël en nie ‘n muis is nie. En so het die vlermuis twee keer die dood vrygespring deur bloot van naam te verander.

Dis altyd wys om omstandighede tot jou eie voordeel te benut. Draai jou seile na die wind.


Illustrasie deur Project Gutenburg in die openbare domein geplaas.
Laura Gibbs het dit vir my toeganklik gemaak.




Die veewagter en die verlore stuks vee

‘n Veewagter stuur sy oë oor sy trop en besef hy moes een van sy kudde iewers langs die pad verloor het. Na ‘n lang en tevergeefse soektog maak hy plegtig en biddend belofte dat hy een van die lammers aan die gode sal offer as hy tog net die dief van sy stuks vee kan vastrek. En ook nie lank nie, terwyl hy in ‘n kloof afbeweeg, of hy sien ‘n leeu aan die voet van die heuwel besig om aan sy verlore skaap te vreet. Onmiddellik stuur hy weer sy oë en hande hemelwaarts in smekende gebed: “Oomblikke gelede was ek nog bereid om ‘n lam te offer solank ek net die dief van my ooi kan opspoor. Na my ontdekking, sopas, offer ek selfs saam met die dier wat ek reeds verloor het sommer nog ‘n teelram ook daarby, enige iets solank ek net met my lewe van hierdie dief kan wegkom kom.

Hierdie fabel wil wys dat ‘n mens se eie lewe vir jou baie kosbaarder is as enige vorm van rykdom of gewin.

Hierdie illustrasie deur Milo Winter (1919) is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel.

Saturday 23 April 2011

Wolf en Lam


Deur Laura Gibbs in die openbare domein vir gebruik beskikbaar gestel.

Wolf loop toe mos vir Lam, wat eintlik by haar trop moes gebly het, in die veld raak. Om die een of ander rede, wat jy net verstaan as jy self 'n wolf is, vertel hy homself hierdie mooi oggend dat Lam nie sommer so sonder rede sy gewelddadige kake om haar nek kan kry nie. Nee, hy moet sy optrede regverdig en Lam eers oortuig dat dit soorts van sy goeie reg is om haar te verslind. Hy kom eers met ‘n storie: “Jy het my, toe ons mekaar verlede jaar raakgeloop het, darem vreeslik beledig, my lam.” “Onmoontlik,” verdedig Lam haarself met ‘n blêr wat bang bewe, “ek was verlede jaar nog nie eens gebore nie.” Wolf verander sy storie, én sy stemtoon word ook nóg meer aggressief: “Vir wat wei jy in die veld en aan die gras wat aan my behoort!” “Nee, meneertjie,” en Lam begin moed skep, “ek het my mond nog nooit eers aan ‘n enkele grassprietjie gesit nie.” Wolf laat hom nie van stryk bring nie: “Ek sien darem jy suip van my stroom se water!” “Kan ook nie wees nie, Wolf,” sê Lam, “ek drink nog aan my ma en geen water het nog ooit oor oor my lippies gegaan nie.” “Nou kyk, Lammetjie,” dink Wolf by homself, “selfs al het jy ‘n antwoord gereed op elkeen van my argumente, gaan ek nié vanaand honger slaap nie!” En hy slaan sy kake om haar nek en verorber haar net daar op die plek.
‘n Boelie sal altyd ‘n rede, enige rede, vir sy optrede vind.



En in Afrikaans het ons, tien teen een langs soortgelyke vertelling, vandag steeds die uitdrukking: “As jy ‘n hond wil doodslaan, sal jy ‘n stok vind”

Die wolf en die reier

Om hom te verlos van ‘n been wat dwars in sy keel bly steek het, huur wolf teen ‘n aardige bedrag die dienste van ‘n reier om haar kop in sy keel af te druk en die been uit te pik. Wat sy toe ook doen. Maar toe sy aandring op haar betaling, wys wolf grommend sy tande en sê met ‘n grynslag: “Het ek jou nie reeds genoeg vergoed deur nie jou kop van jou nek te byt toe dit in my kake was nie. Wees eerder bly jy het met jou lewe daarvan af gekom as om nou op geld aan te dring.

Die foto uit 'n 1894-uitgawe is deur Laura Gibbs in die openbare domein beskikbaar gestel.

Moenie beloning verwag vir diens aan die skelms en booswigte gelewer nie, wees inderdaad eerder dankbaar as jy gelukkig genoeg is om nog heelhuids daarvan te kan ontsnap.