Monday 25 April 2011

Die bababokkie en sy ma

'n Storie van 'n bok wat ons daarop wil wys dat raad gegee moet word deur diegene wat daad by die woord kan voeg.

Die boklam word deur sy ma tereggewys:  “Ek weet nie hoekom jy doen wat jy doen nie, my kind. Jy is geseën met 'n lieflike stel horings, jy is sterk gebou; ek weet nie hoekom jy op vlug slaan die oomblik as die jaghonde nader kom nie.” Dit is wat die ma gesê het, ja. En toe hulle 'n ruk later die jaghonde in die verte hoor, het sy 'n tweede keer haar kind aangespoor om vas te staan. Dis nou voor sy self voet in die wind geslaan het.

Dis maklik om iemand van raad te voorsien wat nie self uitgevoer kan word nie.

So het Aphthonius van Antiochië die fabel rondom 400 nC vertel. Toe ek die eerste keer daarmee kennis gemaak het, was dit uit die mond van George Fyler Townsend, 'n hele paar honderd jaar later. Straks het hy 'n ander klassieke brondokument gehad, dalk het hy homself net baie vryheid toegelaat, dalk was sy Grieks maar gebrekkig, want uit sy mond verloop die storie eerder so:

‘n Bababokkie sê op ‘n dag vir sy ma: “Mamma jy is nie net groter as ‘n hond nie, maar ook vinniger en fikser, eintlik ook meer gewoond aan hardloop as enige hond, en dan het jy ook ‘n lieflike stel horings om jouself mee te verdedig; waarom dan, liefste Mamma, is jy so vreelik bang vir enige hond, selfs die luiste kleinste keffer onder almal? Met ‘n glimlag erken sy ma:  “Ek weet, my seun, maar al te goed, dat alles wat jy sê die waarheid is en in die kol, ek het elke voordeel wat jy noem, maar hoor ek selfs net ‘n enkele hond se blaf, dan val ek byna flou en slaan summier voet in die wind.”

Want geen argument sal ooit ‘n lafaard oortuig of moed inpraat nie.
Die illustrasie hier bokom uit 'n handgeskrewe manuskrip in die De Medici-familie. Die hele boek kan aanlyn besigtig word by  die New York Openbare Biblioteek se digitale galery. Hierdie betrokke illustrasie is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel.