‘n Kat het tot oor haar ore toe verlief geraak op ‘n jong boer van die omgewing en gaan smeek by Venus, die godin van die liefde, om haar in ‘n mooi jong meisie te verander. Venus stem in en omskep die kat in so ‘n pragtige jong dame dat die boer haar byna dadelik vra om met hom te trou. Terwyl die twee in hul slaapkamer is, wonder Venus of die kat slegs uiterlik van gedaante verander het en of sy haar gewoontes ook aangepas het. Sy stuur dan toe ook ‘n muis in die slaapkamer in. Die katvrou, wat op daardie oomblik heeltemaal vergeet dat sy eintlik ‘n boervrou is, bespring summier die dier en slaan haar tande in sy nek in. Dit het Venus diep teleurgestel en sy het besluit om die vrou net daar en dan terug in ‘n kat te verander.
Hierdie fabel, hier oorvertel soos George Fyler Townsend dit in 1867 oorvertel het, fassineer my lankal, juis oor ons in Afrikaans die spreekwoord 'n Jakkals verander van haar maar nie van streke nie het.
Dit wat aangebore is, is veel sterker as wat aangeleer is.
Deur Project Gutenburg in die openbare domein geplaas, deur Laura Gibbs toeganklik gemaak. |
Hierdie fabel, hier oorvertel soos George Fyler Townsend dit in 1867 oorvertel het, fassineer my lankal, juis oor ons in Afrikaans die spreekwoord 'n Jakkals verander van haar maar nie van streke nie het.
Babrius, die man wat iewers tussen 300 vC en 300 nC 'n aantal van Esopus se fabels aangeteken het, vertel die storie min of meer soos volg en nie van 'n kat nie, maar 'n muishond. Hy skryf van Afrodite en Eros, maar Venus en Kupido val vir my beter op die Afrikaanse oor.
'n Muishond word eenkeer tot oor haar ore toe verlief op 'n aantreklike jong man en die godin Venus, die moeder van begeerte, laat toe dat die muishond van vorm kan verander en uiterlik die gedaante van 'n meisie aanneem, so beeldskoon dat enige man haar maar alte graag as vrou sal wil neem. Die oomblik toe die jong man sy oë op haar lê, is dit toe ook so – hy word op haar verlief en nie lank nie, toe word bruilof gevier. Die huweliksfees word onderbreek deur 'n muis op die dansvloer. Die bruid spring toe op van agter die ryklik versierde bruidstafel en sit die muis so bloeddorstig agterna dat die hele bruilof tot 'n einde kom. Na Kupido die lawwe streep wat hy die muishond wou trek tot uitvoer gebring het, het hy vertrek – die mens se ingebore natuur het bewys dat dit sterker as die sterkste liefde is.
Ook Babrius se fabel kon my nog nie bring by die Afrikaanse jakkals, en Hollandse vos (Een vos verliest zijn haren, niet zijn streken.) wat van haar maar nie van streke verander, bring nie. (Ek het wel agtergekom dat die Grieke 'n spreekwoord aan hierdie fabel te danke het: muishonde dra nie trourokke nie.
Toe kom ek af op die volgende fabel deur ene onbekende Romulus wat ongeveer 1000 nC die volgende fabel aangeteken en aan Esopus toegedig het:
Selfs die grootste gelukskoot kan 'n swak agtergrond nie versteek nie:
Jupiter het 'n jakkals in 'n vrou verander en op die troon reg langs hom vir haar plek gemaak as sy koningin. Maar toe die jakkals 'n klein kewertjie uit sy gat sien kruip, kon sy nie anders as om die bekende prooi van haar agterna te sit en te verorber nie. Die ander gode het die jakkals uitgelag en Jupiter kon nie anders as om te bloos en sy verbintenis met haar tot 'n einde te bring nie. Toe hy haar uit die troonkamer jaag, roep hy haar agterna: “Gaan lei die lewe wat jy gewoond is, die een wat jy verdien – jy is my gunste en gawes duidelik nie werd nie!”
Emile Chambry het in 1925 'n versameling anonieme klassiek Griekse fabels byeengebring. In die klassiek Griekse weergawe wat hy aanbied is dit Zeus wat die kewer loslaat om die jakkals se transformasie te toets.