Sunday 24 April 2011

Leeu se koninkryk

Leeu was tydlank die koning van al die diere, en hy was nie ‘n slegte koning nie. Hy was nie wraakgierig en wreed of ‘n boelie nie, maar sagmoedig en eerbiedwaardig soos ‘n koning moet wees. Tydens sy heerskappy belê hy toe ‘n groot ryksvergadering van al die diere, die voëls en sommer elke ding wat asem haal in die bos. Hy wou ‘n nuwe stel reëls en regulasies vir ‘n nuwe vredesryk voorlê, ‘n vredesryk waarin Wolf en Lam, Luiperd en Bok, Hond en Haas, Arend en Hoender, en selfs Uil en Muis tot in lengte van dae in vrede saam kan leef. Haas het met blydskap uitgeroep: “O, hoe lank het nie gewag vir die dag wat ons swakkes, die grasvreters, sonder vrees en bewing uiteindelik as gelykes en op dieselfde voet met die sterkes, die vleisvreters, kan verkeer nie! En dit nog sonder enige vrees vir vervolging!” En nadat Haas al hierdie strooi kwyt geraak het, moes hy hol vir sy lewe. En dis maar wat hy en die ander soos hy vandag nog doen.

Die strekking van die vertelling hierbo is soos wat George Fyler Townsend dit in 1867 vertel het. Die oudste optekening wat ons het, is iewers tussen 300 vC en 300 nC deur Babrius wat 123 (vermoedelik 160) fables van Esopus opgeteken het. Soos hy dit aangeteken het, verloop die storie eerder soos volg in Afrikaans:

Daar was een keer ‘n leeukoning wat nie ‘n slegte geaardheid gehad het nie. Om die waarheid te sê, hy het hom altyd daarvan weerhou om aggressief of gewellddadig op te tree, maar, amper soos ‘n mens, eerder saggeaard en regverdig. Gedurende sy heerskappy, so sê hulle, het al die diere vergader om hul griewe aan hom voor te lê en uitspraak in hul vetes te ontvang. Elke dier moes verantwoording doen:  die wolf vir wat hy aan die lam gedoen het, die luiperd vir wat hy op sy beurt aan die wildsbok gedoen het, die tier vir sy optrede teenoor die hert, en so aan, en so aan. En op die ou einde het elke dier vrede gehad met elke ander dier om hom. Die lugtige en skaam konyn merk toe op:  “Uiteindelik het die dag waarvoor ek so lank gebid het, aangebreek, die dag waarop self die swakkes onder ons deur die sterkes gevrees word!”