Thursday, 28 April 2011

Die boer en die slang

Rusticus et Serpens
Die boek is in ongeveer 1487 in Brescia, Italië uitgegee.
(Alle illustrasies, tensy anders vermeld, is deur Laura Gibbs beskikbaar gestel
by http://www.flickr.com/photos/38299630@N05/collections/)
Boer kom toe op hierdie die slang, half verkluim van die koue, af. Na hy weer warmte en lewe in die dierasie gekry het, het die slang homself afgewen en die man wat sy lewe wou red 'n dodelike byt in sy hand toegedien. Die woorde wat die sterwende man prewel, is die moeite werd om te onthou:  “Wel, ek het my verdiende loon gekry want dis wat daarvan kom om 'n booswig 'n guns te wil staan en bewys!”



 Steinhowel (1479)



Die uitdrukking wat verwys na iemand wat 'n adder aan die bors koester, is nie eie aan Afrikaans nie, selfs die klassieke Romeine was donkiesjare gelede al daarmee bekend.

Gedagtig seker ook aan hierdie spreekwoord dat ek die fabel ronde 1 soos volg vertel het:

‘n Boer het een winter in die sneeu op ‘n slang, stokstyf en byna verkluim van die koue, afgekom. Hy het die stomme reptiel jammer gekry, hom opgetel en hom binne sy dik woljas teen sy bors gehou om warmte en nuwe lewe te kry. Die slang was sommer gou weer by en toe doen hy die een ding wat slange maar al te goed doen – hy pik boer en dien hom ‘n fatale wond toe. Met ‘n gesnak na asem, soos wat die gif Boer se longe vernietig, is die laaste wat oor sy lippe kom:  “Dis nou stank vir dank wat ek oor myself gebring het om ‘n booswig soos jy jammer te wil kry.”


JJ Grandville (1803 - 1847)
Babrius, op wie se teks ek my in die boonste van die twee verlaat het, noem niks van 'n bors waarteen die dierasie warm gemaak word nie. Dis ook duidelik uit die onderstaande illustrasies nie die geval nie:

Die oorspronklike boek is in 1547 deur Bernard Salomon in Frans uitgegee.
Let op die twee tonele en tydsverloop, soos ook hier onder, wat weergegee word.

Kunstenaar onbekend maar uit bundel deur Osius (1574)

Dit is natuurlik moontlik dat daar ander klassieke tekste, jonger as die van Babrius is wat die boer wel die adder aan sy bors laat warm word.

Richard Heighway (1894) Illustrasie by Google Books
Vergelyk ek die boonste illustrasie met die hier onder, is en bly dit vir my effe ongeloofwaardig om te dink 'n man sal 'n slang teen sy bors beskerming bied. Die "ontdooi" voor die een of ander vuur is vir my net meer aanneemlik.

Ernest Griset het hierdie lieflike illustrasie in 1869 vir 'n publikasie gemaak.

Samuel Croxall (1793) illustreerder onbekend

Ook deur Bernard Salomon

Bernard Salomon (hy het minstens 3 uitgawes van Esopus se fabels illustreer)
In my soektog na 'n illustrasie wat die adder aan die bors uitbeeld, het ek soveel illustrasies opgespoor van 'n ander fabel rondom 'n adder en 'n man dat ek die betrokke fabel ook sommer nou aanbied.

Ademar het die storie in ongeveer 1000 nC só vertel:

In die betrokke boer se huis het dit gebeur dat ‘n sekere slang wat daar gebly het, gereeld van dit wat van die tafel oorgeskiet of afgeval het, vir homself kon neem. Dit was ook nie lank nie of die boer het ryk geword. Saam met die boer se gevonde rykdom het egter ook ‘n teensin in die slang gekom en hy het hom mooitjies een dag in 'n woedebui met sy byl aangeval. Die wiel het gedraai – die boer het oornag sy rykdom verloor en hy het besef dat sy geluk afkomstig van die slang was; dis nou tot hy hom ‘n ruk vantevore verwond het. Die boer het toe by die slang gaan smeek om hom te vergewe vir die bose onreg wat hy gepleeg het, maar die slang antwoord:  “Ja, jy is jammer oor wat gebeur het, maar jy moenie van my verwag om jou vriend te wees tot ek nie ten volle genees het van my wonde nie. Dit is nie vir my moontlik om met jou te versoen vir solank ek nog aan daardie verraderlike byl herinner word nie.”

Die een wat ‘n ander seermaak moet met groot versigtigheid en agterdog bejeën word, iets wat natuurlik ‘n groot klip in die pad van die vriendskap se herstel is.


Deur 'n Desandre en W Freeman (maar wanneer weet ek nie.)



In 1925 het Chambry 'n hele aantal anonieme klassiek Griekse tekste in 'n bundel beskikbaar gestel. Die teks wat hy opgeneem het, vertel die storie 'n effe anders, en dis duidelik dat dele van die vertelling verlore gegaan het:

Dan was daar hierdie slang wat aldag en heeldag rondom Boer-hulle se voordeur uitgehang het. Op 'n dag slaan die slang toe sy tande in die enkel van die boer se seun in en ledig sy gifsakke in die seun se bloedstroom. Die seun slaan daar in sy spore dood neer. Die boer en sy vrou is in ontsettende rou gedompel en die bedroefde vader reik na sy byl om sy seun se dood op die kwaadwillige slang te wreek. Die slang het voor sy agtervolger uitgeseil, maar die man het hom met sy byl agternagesit, vasbeslote om met die slang af te reken. Toe hy die doodslag wil toedien, is dit egter mis en al wat hy uitrig, is om die punt van die slang se stert af te kap. Toe is die man ontsteld by die gedagte dat hy die slang dood kon gemaak het. In 'n poging om vrede te maak neem hy koekies en water, ook heuning en sout na die slang. Die slang, aan die ander kant, wil van niks weet nie – al wat hy doen is om saggies van tussen die rotse waar hy gaan skuil het, te sis: “Moenie die krag en energie mors om die vriendskap tussen ons te herstel nie. Deur net na my stert te kyk, hou vir my pyn in. Dieselfde is met jou die geval: elke keer wat jy oë op jou seun se graf lê, sal jy opnuut nie met in vrede kan verkeer nie.”

Die fabel wil illustreer dat niemand enige haat of wraakgedagtes opsy kan skuif vir solank iets hom nog elke dag herinner aan die pyn wat hy gelei het nie.


Samuel Croxall (Illustreerder onbekend)

1687 deur Francis Barlow
Dis jammer dat ons nooit sal weet hoekom die slang die seun dood gepik het nie. Net so jammer dat ons nie sal weet waarom die man sy mislukte aanval berou het en omverskoning gaan vra het nie.

Aan die ander kant kan ons die Esopus-tradisie 'n oomblik opsy skuif en Ooste toe beweeg. Hier, in verskillende tale en kulture, net soos met Esopus in die Weste, het ons die Panchatantra – 'n versameling fabels wat hul ontstaan ongeveer 300 vC in Indië gehad het.

Een van die fabels, die een van die slang wat goue munte uitdeel, herinner sterk aan hierdie fabel en help ons om die gate wat in die Griekse vertelling oopgeval het,  in en aan te vul.

Die volgende skakels bring jou verskillende oorvertellings van dieselfde storie uit:



http://www.sacred-texts.com/hin/ift/ift16.htm

Daar is talle fabels tussen die van die Ooste en die Weste wat nog sterker ooreenkomste toon as die een van die boer en die slang. Ongelukkig onmoontlik om vas te kan stel wie eerste was:  die Grieke of die Indiërs. En niks anders as 'n sinlose gekibbel om enigsins 'n uitsluitsel te wil kry nie.
Samuel Coxall (1814) illustreerder onbekend
C Bentham (1821)


Jacob Gole het hierdie illustrasie vir 'n 1685-uitgawe in Nederlands gemaak.
As jy wonder oor die pot op die vuur gaan lees self op p. 341 by http://www.archive.org/stream/sinrykefabulenve00court#page/332/mode/1up


Henry Walker Herrick 1882
Sir John Tenniel (1884) Hy het ook die eerste Alice in Wonderland illustreer.
Thomas Bewick (1871)