Friday 31 May 2013

Die dansende ape


Met die dat ape nie net sulke slim diere is nie, maar ook nabootsers van die mens en sy streke, gebeur dit toe dat hierdie geduldige man met sy uitsonderlike liefde vir die bos dit destyds regkry om ‘n spul van die diere te laat dans. En nie hóé nie – nes regte mense, kompleet met al te fraaie pakkies klere wat ‘n tante van die kontrei sommer gou vir die spannetjie aanmekaar slaan. Ook nie lank nie of elkeen se gevreetjie kry ‘n masker wat ewe kunstig versier is. Onder dawerende applous het dié geselskap ape gereeld oral waar daar groepe mense saamgetrek was, groot vermaak verskaf. Dis nou tot op die dag dat een van die toeskouers, platjie wat hy was, ‘n handvol neute uit sy baadjiesak kry en dít tussen die diere ingooi. Was dít nou vir jou ‘n konsternasie en ‘n half – die ape vergeet toe skoon van die danspassies, hulle vergeet glads om hulle soos mense te gedra! Die “aardige goedjies” wat gewoonlik “te kostelik vir woorde” is, word trouens van vooraf aan weer sommer net doodgewone ape. En ook nie net doodgewone ape nie, doodgewone wilde ape. Hulle begin verwoed teen mekaar meeding om kloue en kake op die neute, wat intussen aangegroei het en allerhande ander snoeperye ook insluit, te kan lê. Hulle skeur mekaar se klere en byt die een die ander se maskers en dinge aan flarde. So eindig die hele spektakel toe in ‘n nóg groter spektakel waaroor jare later steeds gesels is, en die mense vandag nog gereeld aan herinner word.

Thursday 30 May 2013

Die hiëna en die jakkals


fotobron

In 'n stadium is gebore 'n baie groot en sterk hiënawelpie wat sommer gou al die ander van haar soort in krag, grootte en flinkheid verbygesteek het. Dit was ook nie lank nie, of die lede van die lede van haar trop besluit eenparig om van haar as “Ons Leeuin” te praat. Die stomme wyfie, wat nie haar eie grootte in verhouding tot die ander roofdiere kon takseer nie, het gemeen hulle was ernstig met hierdie aanspreekvorm; sy het nie net haar trop nie, maar almal van haar ras en soort verlaat. Sy het haar selfs voorgeneem om voortaan slegs met die leeus te meng. 'n Jakkals wat die gebeure oor 'n tyd van naby gevolg het, maak toe hierdie opmerking:  “Mag ek tog nooit eendag so 'n spektakel van myself maak soos jy met jou geswolle hoof, oordrewe trots en grootheidswaan nie – tussen die hiënas mag jy wel 'n leeu wees, maar glo my, tussen die leeus is jy niks anders as 'n simpel klein ou hiënatjie nie.”


Fabels bestaan in verskillende vorme voort. Hoewel steeds geensins 'n letterlike vertaling nie, ek het bv. die wolf 'n hiëna gemaak, sien die oudste vorm wat ons van hierdie fabel het, soos wat Babrius dit opgeteken het, in Afrikaans nader aan die volgende daar uit:


Daar was hierdie hiëna wat soveel stewiger as die res van die trop opgeëindig het, dat hulle na haar as die Leeu onder hulle begin verwys het. Hierdie besonderse eer wat hom te beurt geval het, kon ons hiëna se grootheidswaan egter nie bevredig nie – sy het haar trop verlaat en 'n plek onder die leeus ingeneem. 'n Jakkals het haar gespot en gesê: “Mag ek tog nooit so geswolle prentjie van myself kry, soos jy nie: jy mag op die oog af, tussen die hiënas,  aan 'n leeu herinner, maar as die leeus hul eendag aan jou moet meet, sal jy sommer gou-gou terug gaan om niks anders as net 'n ou hiënatjie te wees nie.”

Wednesday 29 May 2013

Die sebra en die leeu


Die sebra en die leeu het ‘n samewerkingsooreenkoms aangegaan sodat hulle die diere van die veld voortaan met veel groter gemak plat kan trek. Die leeu het onderneem om met sy veel groter krag die sebra in die jag by te staan, terwyl die sebra op sy beurt van onderneming was om sy vinniger spoed in die tweemanskap se guns aan te wend. Toe die tweetjies so saam-saam genoeg wild in die stof laat byt het om hulle sommer baie lank te kan hou, neem die leeu dit op hom om die prooi tussen hulle te onderverdeel. En daar pak hy dit alles mooitjies in nie minder nie as drié hopies uit! “Hierdie eerste deel is vir my,” sê hy, “omdat ek koning oor die diere is; die tweede deel is ook myne omdat dit ek is wat saam met jou die jaag- en jagwerk gedoen het; en wat die derde en laaste deel betref, dit sal, glo my vry, vir jou niks anders as groot onheil inhou nie, dis nou mits jy dit nie dadelik en op die plek vrywillig in my hande los en so gou as moontlik voet in die wind slaan en so vinnig as moontlik so ver as moontlik uit my pad uit kom nie.”

Hierdie val vreemd op die Afrika-oor. 'n Sebra wat karnivoor is. Op die Griekse oor moes dit ook vreemd geval het, in hul weergawe is dit nie 'n streepdonkie wat betrek word nie, maar Vaaljas die donkie.



Tuesday 28 May 2013

Die rooikat en die lammer

‘n Rooikat, lekker lelik verniel en  verrinneweer deur die boer se ganse trop honde, lê op die rand van die dood in sy lêplek. Uitgehonger en dors, roep hy ‘n opgeskote jong lammer wat daar naby verby gaan, nader. Hy versoek haar vriendelik om dan tog groot asseblief vir hom ‘n lekseltjie water in die spruitjie daar naby te gaan haal. “Want,” gaan hy voort, “as jy my net eers eers van ‘n klein bietjie water voorsien het, sal ek krag genoeg bymekaar kan skraap om self vir my eie vleiskossietjie te sorg.” “Ja, nè,” kom dit van die lammer wat sommer dadelik deur die dierasie se skynheilige praatjies sien, “en as ek eers jou dors geles het, sal jy seker op my vleis ook reken om jou honger te stil.”


Monday 27 May 2013

Die luiperd en die plaasarbeiders


‘n Luiperd sluip verby ‘n hut vol plaasarbeiders waarvan ‘n hele paar aldag en heeldag na die boer se vee omsien. Sy skerp reuksintuig kan nie anders as om die heerlike geur van murgsagte skaaptjoppies oor die kole op te tel nie. Hy staan toe maar nader en laat hoor op veilige afstand van hom met die woorde:  “Ek sou darem maar vreeslik graag wou hoor wat julle klompie herders alles te sê sou hê as dit ék was wat so lekkerbekkig weg gelê het aan ‘n skaap se sagste van sagte binnevetjies en -vleisies.”





Friday 24 May 2013

Die luiperd en die skaapwagter

Lekker om 'n SA'er se foto te mag gebruik. Fotobron.

Dit was nou al 'n geruime ruk dat die luiperd die hele tyd in die omgewing was, so asof hy die wagter en sy trop skape so soorts van op ‘n versigtige afstand gevolg het. Sonder om hulle enige skade te berokken, natuurlik. Aanvanklik was die wagter maar lugtig en het die dierasie nie 'n enkele oomblik uit sy oog verloor nie. Met verloop van tyd egter, en dit terwyl die luiperd steeds geen kwaad gedoen het nie, het die hy hom nie meer as 'n bedreiging beskou nie; eerder 'n vorm van beskerming, iets wat die onheil afweer. Een dag kort hierna toe sy twak op is en die wagter nodig het om vir ‘n vinnige heen-en-weertjie deur te skiet na die kontantwinkel langs die plaaspad, laat hy sy skape in die geselskap van die luiperd wat hulle lankal gewys het dat hy hulle geen kwaad wil aandoen nie. Maar dit was ook toe nou net tot op die punt dat die wagter agter die eerste effense bultjie verdwyn, die geval gewees – vriend Luiperd  spring te lelik onder die skape in en maai in ‘n oogwink bykans die laaste lammetjie in die trop af. Toe die skaapwagter pyp in die mond terugkeer, besef hy dat dit niks anders as sy verdiende loon is nie – vir wat het hy, nee, hoe kón hy, sy skape aan 'n luiperd toevertrou!

En so is dit ook met mense:  los jy jou geld in 'n ander se hande, gaan die gierigaard jou besteel.

Plato en sy tydgenote het al die uitdrukking dat ‘n mens nie van ‘n wolf ‘n skaapwagter moet maak nie, geken. Toe ons Europese voorouers hier in Afrika kom, het hulle die uitdrukking saamgebring. Hoe bly moes hulle nie gewees het om hier by ons nie ‘n enkele wolf aan te tref nie! Hierdie blydskap moes ook maar van korte duur gewees het, elkeen moes gou-gou agterkom dat daar luiperds en rooikatte en allerhande ander dierasies is wat hier ter plaatse onder hul vee inklim en afmaai.

Thursday 23 May 2013

Die wildehonde en die honde


fotobron

Die groot trop wildehonde se segspersoon en afgevaardigde tree toe met die plaas se honde in gesprek:  “Waarom sal ons, wat reeds soveel in gemeen het, nie dan maar eensgesind soos die broers wat ons eintlik is, saamwoon nie. Ons verskil immers net wat een ding betref – ons is vry soos die wind; julle soos slawe aan die mens verkneg. En wat baat dit julle? Waarby bring dit julle uit? Halsbande en sweepslae. Julle word ingespan om hul skape op te pas. Terwyl hulle dan weglê aan die sagte lamsvleis, wat julle terloops so getrou bewaak het, is dit hoogstens die kale bene wat na julle kant toe gegooi word. As julle nou net by ons voorstel wil inkoop, dan gee julle die simpel skape prys, en ons geniet die onnosel goed sáám tot ons welgedaan, versadig en verkwik is.” Die wildehonde se aanbod het vir die plaashonde sommer baie aantreklik voorgekom en hulle het ingestem. Toe die honde egter by die groot trop wildehonde aansluit, is hulle natuurlik dadelik bespring en 'n een en elk summier verskeur.

Monday 20 May 2013

Die jakkalse en die skape

“Waarom laat ons toe dat daar altyd vrees, bewing en dood tussen ons staan,” vra die jakkalse vir die skape. “Alles ook eintlik daai bose honde se skuld. Dis húlle wat altyd keel opsit en begin blaf as ons nog net aankom. En het julle al gesien, dis altyd hulle wat ons eerste aanval – selfs nog voor ons ‘n enkele lam enige skade, wat nog te sê leed, aangedoen het. As julle tog nou net die honde van ons hakke en uit ons hare kan kry, weet ons et al ad hominem daar sal spoedig sub judice vredesooreenkomste en modus operandi samewerkingsverdrae tussen ons jakkalse en skape wees.” Die stomme simpel skape is sommer tjoef-tjaf deur sulke groot en gans onbekende woorde om die bos gelei, en hulle ontslaan die honde uit hul diens om die trop op te pas. En só, sonder enige waghonde om oor hulle te waak, het die jakkalse voortaan toegeslaan net waar en wanneer hulle wou, gemaak net wat hulle wou, en geneem net soveel hulle wou.

Thursday 16 May 2013

Die ystersmid en sy hond

Daar was hierdie dierbare ou siel van ‘n hond wat sy dae in die ystersmid en sy vakleerlinge se werkswinkel deurgebring het. Terwyl hulle die ysters klinkend en klaterend moker en kap, slaap hy ewe rustig deur die kommosie, maar die oomblik as hulle die blaasbalk en hamers neersit om te eet, word hy wakker en staan vriendelik nader vir sy gebruiklike stukkie bederf. “Hoe is dit tog moontlik,” kom dit dan dikwels van die smid, “dat jy dwars deur die gekap van ons hamers op die yster kan slaap, maar die oomblik dat jy ons tande hoor kou, dan is jy so wakker soos 'n akker en so reg soos ‘n roer!”

As iets ons nie raak nie, kan dit maar saam met die hele wêreld verbygaan; op die geringste dingetjie wat ons raak, slaan ons egter die grootste ag.

Wednesday 15 May 2013

Krap en Jakkals


fotobron

Die krap trek toe een mooi dag en heel uit die bloute sy neus op vir die kos wat die strand hom nog sy hele lewe lank bied en gaan soek sy kos binneland se kant van die kusbos. Maar voor hý sý kos kan kry, spring ‘n silwerjakkals hom voor. Dié kry toe mos helder oordag, vlak voor hom in die pad, ‘n lekker groot vet krap om te vreet. Net voor hy sterf, besef Krap egter dat dit niks anders as sy eie verdiende loën is nie. Die laaste wat deur sy gedagtes flits, is:  “Ek is tog ‘n seedier! Wat het ek, anders as my ondergang, op land verloor; wat anders as my dood, het ek op land loop soek?

Die fabel wil maar net sê dat jy gedoem is om te faal as jy jou eie bekende en gebaande weë verlaat en ‘n besigheid volg waarvan jy niks onder die son weet nie.

Monday 13 May 2013

Die hiëna en die sebra



Soos hy deur die effense laagtetjie stap, kom hiëna uit die hoek van sy oog agter hoe lieflik geil die soetgras om hom staan. Maar omdat hiënas nie gras vreet nie, of dit nou in soetveld of in suurveld staan, neem hy eintlik maar bloot net daarvan kennis; niks meer nie. Nie veel verder as sommer net ‘n katspoegie van waar hy die groen agter hom laat nie, loop hy egter ‘n sebrahings raak. Hy lei die sebra na die soet kol toe en probeer die hings daarvan oortuig dat hy wat hiëna is nie die gras gevreet het nie, juis omdat dit eerder soos musiek in sy ore sal wees om te hoor hoe lekker sy sebravriend daarin wei. Die streepdonkie gee hom een lang uitgerekte kyk en sê:  “Ja-nee, kyk, as julle hiënas nou maar net soetgras gevreet het, dan het jy wat hiëna se kind is, beslis nie jou ore nie, en dit boonop nog ten koste van jou tong en maag, daarop trakteer nie.”

En is dit nie jammer nie – as jy nou eers eenmaal 'n slegte naam of reputasie het, glo niemand jou nie, selfs al is jou intensies hóé edel en opreg.

Friday 10 May 2013

Die vegtende hane en die arend



Twee Hane gaan allervreeslik en verskriklik aan’t bloedige geveg om koning op die plaaswerf, én onder die henne, te kan kraai. Hulle klim met mening onder mekaar in; spore, kake, kloue, snawels en vlerke word ingespan. Elkander se lieflike kamme word nie eens ontsien nie en kom bloederig daarvan af. Maar na ‘n lang, verbete en verwoede stryd, dán op die grond in die stof, dán in die lug bokant die stof, slaag die een uiteindelik tóg stokflou daarin om as wenner uit die stryd te kan tree. As triomfantelik sou dit onder omstandighede beslis nie beskryf kon word nie, maar die oorwonne haan word wel so op ‘n manier van die werf af, en belangrikste – onder onder die henne uit, verdryf. Sy een vlerk slepend, sluip hy daar weg en gaan kruip eenkant in ‘n stil hoekie weg. Die oorwinnaar en nuwe haan onder die henne vlieg aan die ander kant weer met hernude krag op. Sy veelkleurige flappende vlerke dra hom tot op ‘n baie hoë muur daar naby en vanaf die hoogtes verkondig hy met ‘n luidkeelse gekraai aan al wat leef en beef en ore het om te hoor sy onweerlegbare heerskappy op die plaaswerf. Ongelukkig is dit ook nie net die wat ore het om te hoor, wat kennis neem nie, maar ook die wat skerp oë het om van ver te kan sien – met dié bont geskal kom ‘n arend toe mooitjies hoog bo die plaaswerf verby gevlieg, hy hoor en sien die gedoente, duik af, gryp die kapokkerige haantjie in sy kloue en is met hom daar weg. Die verslane haan het onmiddellik uit sy stil hoekie gekom, sy eertydse posisie ingeneem en onbestrede tot in aller lengte van dae op die plaaswerf én oor die henne geheers.

Thursday 9 May 2013

Die vlooi en die man


So gebeur dit toe dat ‘n lastige vlooitjie homself eendag op ‘n groot en fris, sterk en uitgevrete jong man se regtervoet tuis kom staan en maak. Dadelik beroep die vent hom op sy voorvaders en begin om op hul hulp en verlossing te reken, maar net mooi niks gebeur nie. Toe die vlooi uiteindelik, na wat vir ons held soos ‘n ewigheid gevoel het, weer af en verder hop, kla hy:  “As ek nie op julle hulp kan reken teen ‘n nietige vlooitjie soos dié nie, watse hulp kan ek verwag teen veel groter en gevaarliker vyande?” 

Die storie wil ons leer om nie hulp te vra as ons onsself kan help nie, ‘n mens vra net om hulp die kere wat jy dit regtig nodig het. Wie wil in elk geval iemand help wat homself nie kan help nie.

Wednesday 8 May 2013

Die weduwee en die skaap

‘n Arm, ou weduwee het laterhand nog net ‘n enkele ooi van haar oorlede man se lieflike trop wolskape oorgehad. Kom skeertyd, en omdat sy die geldjie wil spaar, spring sy toe maar vroualleen self, sonder om van die skeerders se diens gebruik te maak, met die skêr onder sy ruie vag in. Met die dat sy jou alles van appelkooskonfyt en koesisters kan vertel, maar van skaapskeer niks onder die son weet nie, is sy so onbehendig met die skêr wat in geen jare ‘n slypsteen gesien het nie, dat sy die stomme dier tot in die lewe raak sny. Krullend van die pyn roep die skaap uit: “Hoekom maak jy my so seer? My bloed gaan nie vir jou meer wol oplewer nie, gaan dit? Trouens, jy gaan dit teen ‘n swakker prys van die hand moet sit. Is dit aan die anderkant my vleis wat jy wil hê, daar is behendige slagters wat my sonder soveel pyn en lyding van die lewe sal verlos. Maar is dit my kosbare vag waaragter jy aan is, iets wat ek natuurlik oorgenoeg rede het om ten sterkste te vermoed – onthou, daar is ook ewe goeie skeerders wat my mooi skoon sal skeer sonder om my te wond, bloed te laat of selfs net seer te maak. Sodoende word ek self op die koop toe ook gespaar om jou ander jaar weer van ‘n inkomstetjie te kan verseker.”

Die goedkoopste uitweg is nie altyd die beste uitweg nie.

Tuesday 7 May 2013

Die teef en haar kroos



‘n Ver dragtige teef, op die punt om geboorte te skenk aan ‘n werpsel welpies, kom bedel by die skaapwagter ‘n beskutte kolletjie waar sy in kraam kan gaan. Toe haar versoek egter eers ewe vriendelik toegestaan is en die bevalling suksesvol afgeloop het, vra sy van die herder of sy haar welpies, daar waar sy die lewe aan hulle geskenk het, ook groot kan maak. Weer eens stem die inskiklike skaapwagter in. Die uiteinde daarvan alles was dat die stomme ou skaapwagter nooit weer die beskutte plekkie op sy eie lappie grond vir homself en sy lammers kon opsoek nie – hy is daar bloot net nie meer toegelaat nie. Die teef, beskerm deur ‘n hele lyfwag van welpies wat spoedig groot en sterk en aggressief geword het, het haar en haar kroos, en hul ganse nageslag, die alleenreg op dié veilige en beskutte plekkie toegeëien.

Monday 6 May 2013

Die weduwee en haar hen

Daar was hierdie weduwee met ‘n hennetjie wat getrou elke dag vir haar ‘n enkele eier gelê het. Na ‘n ruk was die ou vrou hiermee egter ook nie meer tevrede nie en, in die hoop dat haar hen meer eiers op 'n dag gaan lê, het sy die hoender al hoe meer en meer, én beter, kos begin voer. Kortvoorlank was die verwende dikkerd so vet en uitgevreet dat sy nie 'n enkele eier meer wóú gelê het nie.
Hierdie fabel wys ons dat jy, wanneer jy uitreik na meer as wat jy in jou hande kan hou, jy dikwels selfs die bietjie wat jy wél kan hou, verloor.

Friday 3 May 2013

Die weduwee en haar twee huisbediendes



‘n Weduwee wat baie gesteld was op die netheid van haar huishouding het die diens van twee inwonende bediendes gehad wat haar bygestaan het om alles silwerskoon en presies op hul plek te hou. Al het hulle nie saans vroeg as die hoeders gaan slaap hul dagtaak afgesluit nie, was die weduwee in die gewoonte om die twee soggens met eerste hanekraai te wek, en dan het hul dagtaak ook sommer knap daarna begin. Die twee huisbediendes, wat natuurlik geensins daarmee gediend was om smorens so vroeg al in die tuig te spring nie, het toe maar besluit om die ellendige haan wat die weduwee so vroeg uit die vere had, van kant te maak.  En was hulle nie spyt oor die korte mette wat hulle met die geveerde wekker gemaak het nie! Gou-gou het hulle agterkom dat hulle vir hulself nog slegter tye as voorheen op die hals gehaal het – nou het die weduwee nie meer op die haan se gekraai vir die huishouding se opstaantyd gereken nie, en hulle dikwels sommer nog in die middel van die nag wakker gemaak om te begin werk.

Thursday 2 May 2013

Die donkie en die padda



Vleilangs oppad met 'n lywige drag hout op sy rug gelaai, gly die donkie op ‘n kol modderklei waar die groenigheid al goed weg- en ingetrap was. Hy beland pens en pootjies, hout en al, balkend in die water. Oor hy met die sware vrag op sy rug nie sommerso net so uit die pappery kan opkom nie, sit die stomme dier in sy gesukkel die allervreeslikste keel op. Sy nóg luider weeklaag en amperse treurmare oor die gebeure, toe hy ‘n rukkie later eers weer op sy voete is, noop een van die paddas in die vlei om op te merk:  “Liewe ouers! As dít is hoe jy te kere gaan oor nie eers in minuut in die water nie, wat sal jy doen, en hoe sal jy klink, as jy soveel van jou tyd in die water moet deurbring soos ons!"

Iemand wat hom nie sommer laat onderkry deur die een of ander klip in sy pad nie, kan hierdie fabel vertel aan 'n lui persoon wat hom laat onderkry deur die geringste klippertjie onder sy voet.

Wednesday 1 May 2013

Die perdevlieg en die leeu


fotobron
Die perdevlieg kom ewe vermakerig by leeu aangevlieg:  “Jy reken straks jy is sterker as ek, maar intussen staan ek nie ‘n enkele tree vir jou terug nie. Ek is niks, maar net mooi niks, bang vir jou nie. Waarin is jou kamstige krag kwansuis geleë? In naels wat katterig krap en tande wat byt! Dis die tipe goed wat 'n viswyf inspan, stry sy die dag met haar man! Ek is, om die waarheid te sê, nou dat ek mooi daaroor dink, selfs sterker as jy, en as jy nie te veel van ‘n papbroek is om in te stem, of sommer dadelik koue voete kry nie, kan ons twee nou, hiér, uitbaklei om my volslae oorhand te bewys.” Met dié gaan hy tot die aanval oor en piets vir leeu al om sy neus waar sy gesig nie met dik ruie hare bedek is nie. En hy piets en hy piets. En weer ‘n keer, en nog ‘n keer, piets. Al wat leeu kon doen was om homself en die sagte plekkies op sy snoet onbeholpe met sy kloue te probeer verweer. Al waarin hy helaas slaag, is om homself stukkend en aan flarde te krap. Op die ou einde moet hy die stryd trouens maar gewonne gee – perdevlieg het hom deeglik ore aangesit. Heel triomfantelik is perdevlieg toe ook daar weg – reguit, ongelukkig, in 'n reuse spinnerak, waarin sy gou verstrengel raak, in. En terwyl die spinnekop haar tot maaltyd vir homself neem, betreur sy die feit dat sý, wat leeu, die koning van alle diere die loef afgesteek het, deur so 'n nietige skepseltjie soos 'n spinnekop aan haar einde moet kom.