Friday 10 May 2013

Die vegtende hane en die arend



Twee Hane gaan allervreeslik en verskriklik aan’t bloedige geveg om koning op die plaaswerf, én onder die henne, te kan kraai. Hulle klim met mening onder mekaar in; spore, kake, kloue, snawels en vlerke word ingespan. Elkander se lieflike kamme word nie eens ontsien nie en kom bloederig daarvan af. Maar na ‘n lang, verbete en verwoede stryd, dán op die grond in die stof, dán in die lug bokant die stof, slaag die een uiteindelik tóg stokflou daarin om as wenner uit die stryd te kan tree. As triomfantelik sou dit onder omstandighede beslis nie beskryf kon word nie, maar die oorwonne haan word wel so op ‘n manier van die werf af, en belangrikste – onder onder die henne uit, verdryf. Sy een vlerk slepend, sluip hy daar weg en gaan kruip eenkant in ‘n stil hoekie weg. Die oorwinnaar en nuwe haan onder die henne vlieg aan die ander kant weer met hernude krag op. Sy veelkleurige flappende vlerke dra hom tot op ‘n baie hoë muur daar naby en vanaf die hoogtes verkondig hy met ‘n luidkeelse gekraai aan al wat leef en beef en ore het om te hoor sy onweerlegbare heerskappy op die plaaswerf. Ongelukkig is dit ook nie net die wat ore het om te hoor, wat kennis neem nie, maar ook die wat skerp oë het om van ver te kan sien – met dié bont geskal kom ‘n arend toe mooitjies hoog bo die plaaswerf verby gevlieg, hy hoor en sien die gedoente, duik af, gryp die kapokkerige haantjie in sy kloue en is met hom daar weg. Die verslane haan het onmiddellik uit sy stil hoekie gekom, sy eertydse posisie ingeneem en onbestrede tot in aller lengte van dae op die plaaswerf én oor die henne geheers.