Soos hy deur die effense laagtetjie stap, kom hiëna uit die hoek van sy oog agter hoe lieflik geil die soetgras om hom staan. Maar omdat hiënas nie gras vreet nie, of dit nou in soetveld of in suurveld staan, neem hy eintlik maar bloot net daarvan kennis; niks meer nie. Nie veel verder as sommer net ‘n katspoegie van waar hy die groen agter hom laat nie, loop hy egter ‘n sebrahings raak. Hy lei die sebra na die soet kol toe en probeer die hings daarvan oortuig dat hy wat hiëna is nie die gras gevreet het nie, juis omdat dit eerder soos musiek in sy ore sal wees om te hoor hoe lekker sy sebravriend daarin wei. Die streepdonkie gee hom een lang uitgerekte kyk en sê: “Ja-nee, kyk, as julle hiënas nou maar net soetgras gevreet het, dan het jy wat hiëna se kind is, beslis nie jou ore nie, en dit boonop nog ten koste van jou tong en maag, daarop trakteer nie.”
En is dit nie jammer nie – as jy nou eers eenmaal 'n slegte naam of reputasie het, glo niemand jou nie, selfs al is jou intensies hóé edel en opreg.