“Waarom laat ons toe dat daar altyd vrees, bewing en dood tussen ons staan,” vra die jakkalse vir die skape. “Alles ook eintlik daai bose honde se skuld. Dis húlle wat altyd keel opsit en begin blaf as ons nog net aankom. En het julle al gesien, dis altyd hulle wat ons eerste aanval – selfs nog voor ons ‘n enkele lam enige skade, wat nog te sê leed, aangedoen het. As julle tog nou net die honde van ons hakke en uit ons hare kan kry, weet ons et al ad hominem daar sal spoedig sub judice vredesooreenkomste en modus operandi samewerkingsverdrae tussen ons jakkalse en skape wees.” Die stomme simpel skape is sommer tjoef-tjaf deur sulke groot en gans onbekende woorde om die bos gelei, en hulle ontslaan die honde uit hul diens om die trop op te pas. En só, sonder enige waghonde om oor hulle te waak, het die jakkalse voortaan toegeslaan net waar en wanneer hulle wou, gemaak net wat hulle wou, en geneem net soveel hulle wou.