Die groot trop wildehonde se segspersoon en afgevaardigde tree toe met die plaas se honde in gesprek: “Waarom sal ons, wat reeds soveel in gemeen het, nie dan maar eensgesind soos die broers wat ons eintlik is, saamwoon nie. Ons verskil immers net wat een ding betref – ons is vry soos die wind; julle soos slawe aan die mens verkneg. En wat baat dit julle? Waarby bring dit julle uit? Halsbande en sweepslae. Julle word ingespan om hul skape op te pas. Terwyl hulle dan weglê aan die sagte lamsvleis, wat julle terloops so getrou bewaak het, is dit hoogstens die kale bene wat na julle kant toe gegooi word. As julle nou net by ons voorstel wil inkoop, dan gee julle die simpel skape prys, en ons geniet die onnosel goed sáám tot ons welgedaan, versadig en verkwik is.” Die wildehonde se aanbod het vir die plaashonde sommer baie aantreklik voorgekom en hulle het ingestem. Toe die honde egter by die groot trop wildehonde aansluit, is hulle natuurlik dadelik bespring en 'n een en elk summier verskeur.