Wednesday, 8 May 2013

Die weduwee en die skaap

‘n Arm, ou weduwee het laterhand nog net ‘n enkele ooi van haar oorlede man se lieflike trop wolskape oorgehad. Kom skeertyd, en omdat sy die geldjie wil spaar, spring sy toe maar vroualleen self, sonder om van die skeerders se diens gebruik te maak, met die skêr onder sy ruie vag in. Met die dat sy jou alles van appelkooskonfyt en koesisters kan vertel, maar van skaapskeer niks onder die son weet nie, is sy so onbehendig met die skêr wat in geen jare ‘n slypsteen gesien het nie, dat sy die stomme dier tot in die lewe raak sny. Krullend van die pyn roep die skaap uit: “Hoekom maak jy my so seer? My bloed gaan nie vir jou meer wol oplewer nie, gaan dit? Trouens, jy gaan dit teen ‘n swakker prys van die hand moet sit. Is dit aan die anderkant my vleis wat jy wil hê, daar is behendige slagters wat my sonder soveel pyn en lyding van die lewe sal verlos. Maar is dit my kosbare vag waaragter jy aan is, iets wat ek natuurlik oorgenoeg rede het om ten sterkste te vermoed – onthou, daar is ook ewe goeie skeerders wat my mooi skoon sal skeer sonder om my te wond, bloed te laat of selfs net seer te maak. Sodoende word ek self op die koop toe ook gespaar om jou ander jaar weer van ‘n inkomstetjie te kan verseker.”

Die goedkoopste uitweg is nie altyd die beste uitweg nie.