Friday 31 May 2013

Die dansende ape


Met die dat ape nie net sulke slim diere is nie, maar ook nabootsers van die mens en sy streke, gebeur dit toe dat hierdie geduldige man met sy uitsonderlike liefde vir die bos dit destyds regkry om ‘n spul van die diere te laat dans. En nie hóé nie – nes regte mense, kompleet met al te fraaie pakkies klere wat ‘n tante van die kontrei sommer gou vir die spannetjie aanmekaar slaan. Ook nie lank nie of elkeen se gevreetjie kry ‘n masker wat ewe kunstig versier is. Onder dawerende applous het dié geselskap ape gereeld oral waar daar groepe mense saamgetrek was, groot vermaak verskaf. Dis nou tot op die dag dat een van die toeskouers, platjie wat hy was, ‘n handvol neute uit sy baadjiesak kry en dít tussen die diere ingooi. Was dít nou vir jou ‘n konsternasie en ‘n half – die ape vergeet toe skoon van die danspassies, hulle vergeet glads om hulle soos mense te gedra! Die “aardige goedjies” wat gewoonlik “te kostelik vir woorde” is, word trouens van vooraf aan weer sommer net doodgewone ape. En ook nie net doodgewone ape nie, doodgewone wilde ape. Hulle begin verwoed teen mekaar meeding om kloue en kake op die neute, wat intussen aangegroei het en allerhande ander snoeperye ook insluit, te kan lê. Hulle skeur mekaar se klere en byt die een die ander se maskers en dinge aan flarde. So eindig die hele spektakel toe in ‘n nóg groter spektakel waaroor jare later steeds gesels is, en die mense vandag nog gereeld aan herinner word.