Lekker om 'n SA'er se foto te mag gebruik. Fotobron. |
Dit was nou al 'n geruime ruk dat die luiperd die hele tyd in die omgewing was, so asof hy die wagter en sy trop skape so soorts van op ‘n versigtige afstand gevolg het. Sonder om hulle enige skade te berokken, natuurlik. Aanvanklik was die wagter maar lugtig en het die dierasie nie 'n enkele oomblik uit sy oog verloor nie. Met verloop van tyd egter, en dit terwyl die luiperd steeds geen kwaad gedoen het nie, het die hy hom nie meer as 'n bedreiging beskou nie; eerder 'n vorm van beskerming, iets wat die onheil afweer. Een dag kort hierna toe sy twak op is en die wagter nodig het om vir ‘n vinnige heen-en-weertjie deur te skiet na die kontantwinkel langs die plaaspad, laat hy sy skape in die geselskap van die luiperd wat hulle lankal gewys het dat hy hulle geen kwaad wil aandoen nie. Maar dit was ook toe nou net tot op die punt dat die wagter agter die eerste effense bultjie verdwyn, die geval gewees – vriend Luiperd spring te lelik onder die skape in en maai in ‘n oogwink bykans die laaste lammetjie in die trop af. Toe die skaapwagter pyp in die mond terugkeer, besef hy dat dit niks anders as sy verdiende loon is nie – vir wat het hy, nee, hoe kón hy, sy skape aan 'n luiperd toevertrou!
En so is dit ook met mense: los jy jou geld in 'n ander se hande, gaan die gierigaard jou besteel.
Plato en sy tydgenote het al die uitdrukking dat ‘n mens nie van ‘n wolf ‘n skaapwagter moet maak nie, geken. Toe ons Europese voorouers hier in Afrika kom, het hulle die uitdrukking saamgebring. Hoe bly moes hulle nie gewees het om hier by ons nie ‘n enkele wolf aan te tref nie! Hierdie blydskap moes ook maar van korte duur gewees het, elkeen moes gou-gou agterkom dat daar luiperds en rooikatte en allerhande ander dierasies is wat hier ter plaatse onder hul vee inklim en afmaai.