Tuesday 26 April 2011

Die man en sy hond


Gereed om op sy reis te vertek sê die man vir sy hond: “Hoekom staan jy net daar met jou bek wyd oop en vol tande! Kry jouself gereed, jy gaan saam met my.” Stertswaaiend en terwyl sy van vriendelikheid oorloop sê die hond: “O, maar ek is lankal gereed om te gaan, dit is jy wat ons vertrek vertraag.”

Ek het 'n ruk gelede heerlik uitgebrei op hierdie fabel wat Babrius naastenby soos hier bo aangeteken het. Toe het my weergawe soos volg daar uitgesien:

Uiteindelik gestewel en gespoor, sy pyp klaar weer gestop en na ‘n heerlike tweede koppie boeretroos, kom Boer voor die agterdeur op sy getroue hond af waar dié homself, en ook al moeg gewag, behaaglik uitstrek. “Nou vir wat staan jy net daar en ginnegaap, ou dier?” vra die boer. “Kyk waar staan die son al, ons het werk om te doen, laat los jou slegtigheid en kom saam met my!” Al wat die hond doen is om sy stert net meer te waggel terwyl deur sy gedagtes flits: “O, nee, liewe heer en meester, beslis nie jy wat vir my wag nie – ek is al vroegdag reg en gereed en bly om te sien ek hoef nie nog langer op jou te wag nie.” Maar dan is dit mos maar soos dit is: die draalkous is maar al te geneig om enige vertraging voor die deur van ‘n ander te lê.

Dis dan ook op grond van hierdie weergawe wat ek onthou het dat ek op die illustrasie waarop ek besluit het, besluit het. Getrou aan Babrius sou iets anders meer gepas wees – 'n stert waggelend, oopbek, en so meer.


Vandag verkies ek eersgenoemde weergawe met miskien die volgende verandering in die hond se woorde:  “O, maar ek is vroegdag al gereed om te gaan, en nie jy wat vir my wag nie, maar ek op jou!”

Twee skrywers wat hulle ten doel gestel het, nie om die fabel oor te vertel nie, maar om Babrius se klassieke teks te vertaal, gebruik die Engelse woord “fawning”. Die naaste wat ek in Afrikaans daaraan kan kom is “kruiperig”; in konteks dalk eerder “onderdanig”. “Stertswaaiend en kruiperig antwoord die hond...”

Hondemense sal presies weet wat met die woord bedoel word, maar het jy nie self honde nie, en is jy nie lief vir die diere nie, kan die woord “kruiperig” egter miskien 'n verkeerde boodskap tuisbring.