Friday, 30 August 2013

Die paddas en die vegtende bulle



Dis die laagste van die laagstes wat die meeste daaronder lei as die grote en hogere kokkedore eers die dag onder mekaar inklim en lelik koppe stamp.

‘n Padda het van oor ‘n groot afstand, met slegs haar oë wat net-net bo die wateroppervlakte van die poel waarin sy bly, uitsteek, die verbete stryd tussen twee vegtende bulle dopgehou. “O, nee,” roep sy uit, “berge val op my, heuwels bedek my en aarde sluk my in – die onheil is op ons!” ‘n Ander padda wil toe weet waar op deeske aarde sy aan die kamstige onheil kom, inaggenome veral die feit dat die twee befoeterde bulle in ‘n leierskapstryd binne hul eie trop, en boonop baie ver van die paddas se poel af, gewikkel was. Die bykans geknakte padda verduidelik toe:  “Hoewel hulle dáár bly en ons hiér, en hoewel hulle beeste en ons paddas is, weet ek nou al voor my heilige siel dat die verloorder onder daardie twee uit die grasveld verdryf gaan word en hier by ons in die moeras sy wonde gaan kom lek. En wie is dit wat dán onder sy hoewe vertrap gaan word? En dís hoekom hulle bakleiery, op ‘n afstand daar ver, vir ons hier, ‘n saak van lewe en dood is."