fotobron |
Nadat Leeu homself as die koning van die diereryk aangestel
het, wou hy vir homself naam maak as ‘n billike en regverdige heerser. Die gevolg is dat hy, vasberade om reg en
geregtigheid tot op die laaste letter te laat geskied, sy dieet aansienlik
aangepas het en sy lyf die van ‘n wafferse herbivoor begin hou het. Natuurlik
kon hy nie die roofdier wat deur sy are vloei, afsterf nie. Hy het toe bloot begin
om die een na die ander dier in te roep vir ‘n geheime ontmoeting met hul
kroon. By hom aangekom, blaas hy dan sy walglike stink asem in hul gesigte
sodat elk ‘n oordeel kan fel: stink die
koning se asem, of stink die koning se asem nie. Van daar af is dit
eenvoudig: sê jy die koning se asem
stink, word jy opgevreet; sê jy dit stink nié, lieg jy en word jy óók opgevreet.
Nadat hy op hierdie manier sommer gou met ‘n hele paar van sy onderdane
afgereken het, het hy hom tot Bobbejaan gewend om na die huidige gesteldheid
van sy halitose te verneem. Bobbejaan is ook nie onder ‘n kalkoen uitgebroei
nie en meld summier dat die kroon se bek die eksotiese geur van kosbare kaneel
adem, so asof sy palatum ‘n altaar vir die gode is. Na dié groot omhaal van
soete woorde voel Leeu toe natuurlik te sleg om iemand wat hom so vlei sommer net
so vir sommer bokveld toe te stuur. Hy kom gevolglik met ‘n nuwe strategie
vorendag: hy maak kwansuis of hy vreeslik siek is en die hele span koninklike
dokters word summier ontbied. Nadat hulle niks fout met sy hoogheid se
konstitusie kon vind nie, skryf hulle toe maar sawwe kossies vir die lastige
naarheid op hul heer en meester se maag voor. “Konings mag dan seker maar eet
wat hulle wil,” kom dit berekend van die leeu. “Ek het nog nooit my mond aan bobbejaan
vleis geslaan nie en sal dit graag wil proe.” Sy woorde was nog nie koud nie,
toe is dit klaar met kees, hy word net daar en dan om die lewe gebring om die
koning op die pad van ‘n spoedige herstel te plaas.”
Of jy nou jou
mond dig gesluit hou, en of jy jou bek rek – dis om het ewe, jou gat sal jy
sien, so seker as wat jy nou hierdie woorde lees of hoor.