fotobron |
Die visarend het
rivierlangs gevlieg om vis te vang. Dis egter met ‘n skilpad waarmee sy ‘n
rukkie later op die oewer worstel. Haar porsie vleiskos het homself netjies in
sy dop teruggetrek en al die sukkel en stoei ten spyt, is dit verniet of sy met
óf haar kake óf haar kloue daarby kan uitkom. Sy is op die punt om haar vangs eenkant te
gooi, toe ‘n kraai op haar afstap en sê: “Maar
dis mos koningskos daardie, Vriendin – jy kan dit onder geen omstandighede
sommer net so weggooi nie!” “Hierdie maaltyd is helaas so verpak,” kom dit van
die arend, “dat dit ‘n onbegonne taak is om daarby uit te kom, ek kry net mooi niks
daarteen uitgerig nie.” Die sluwe kraai wat natuurlik slaggereed en met ‘n
antwoord bewapen daar aangekom het, trek dadelik los met: “As jy sou beloof om die vangs met my te deel,
sal ek jou so gou soos nou wys hoe om lag-lag daarby uit te kom.” “Nou vertel
my dadelik,” antwoord die arend onmiddellik en opnuut begeester, “dan sit ons tweetjies
sommer saam vir die feesmaal aan.” Die uitgeslape skelm kom toe met ‘n
oplossing vorendag: “Wat jy moet doen, is om hoog in die lug in daarmee op te vlieg.
Laat los dan ons vangs ver bo ‘n spul
rotse – die harde dop sal met ‘n slag teen die rotse oopbreek, jy sal by die sagte
vleis kan uitkom en jou honger bevredig.” Die arend het natuurlik ingestem en
die skilpad getrou aan kraai se voorstel hoog bo ‘n spul rotse uit haar kloue
laat los. Die kraai, wat onder bly wag het, het die skilpad, die oomblik toe dié
homself teen die rotse te pletter spat, gegryp, opgevreet en so die arend lelik
uitoorlê.
Die storie agter die storie:
Op soortgelyke wyse kan sluwe skelms die niksvermoedendes om die bos lei
en met hul slinkse planne uitrig wat die stomme niksvermoedendes met harde werk
en brute krag nie eers reg kan kry nie.