Heerlik lui aan die bak in die wintersonnetjie span
‘n skilpad sy stem skril en klaend in om ‘n swerm seevoëls naby hom op die
rotse te verwyt vir die feit dat nie een van hulle in al hierdie jare dat hulle
naaste bure is, nog ooit bereid was om hom te leer vlieg nie. ‘n Arend wat daar
bo in die lug rondgehang het op soek na iets om te gebeur, hoor die skilpad se
gekerm en kom vind uit wat skeel. “Nou maar wat sal jy my betaal,” wil Arend oomblikke
nadat hy die skilpad se treurmare uitgeluister het, weet, “as ék jou help om
die wonder van vrye vlug te ervaar?” Hy bied dan ook aan om Skilpad saam met
hom die bloue lug in op te neem en daar in die hoogtes met hom te sweef, maar
teen ‘n prys natuurlik. Skilpad, skoon opgerui oor die vergesigte wat hy in sy
geestesoog oproep, is ook nie links nie en beloof die arend, lekker wild en wyd, sommer
al die skatte van die see. “Nou maar in daardie geval dan, laat my toe, nie net om jou te laat voel hoe dit is om te vlieg nie, maar om jou te wys hoe om die kuns op jou eie te bemeester,” sê Arend en neem Skilpad, wat intussen van al die opwinding al
skoon aan die bewe gegaan het, versigtig in sy skerp kloue. Hy neem hom tot
amper in die wolke voor hy hom eensklaps net so laat laat los en met arendsoog
dophou om te sien presies waar die onnosel skilpad hom binne enkele tellings
teen die ruwe rotse morsdood te pletter gaan val. Wel wetend dat hy sopas die
volgende dis op Arend se spyskaart geword het, roep die skilpad uit: “Wat nou besig is om met my te gebeur, is niks
minder nie as my welverdiende loën . Wat
het ek, wat selfs op die grond sukkel om oor die weg te kom, nou met vere en
vlerke uit te waai, so asof ek iets in die lug verloor het en dit tussen die
wolke moes kom soek!"
As mens altyd dit waarvoor hy wens, moet kry, sal hy meer
dikwels as nié, juis daardeur ruïneer word.