‘n Fabel wat die mense wat roem dat
hulle iets het, maar nie regtig daaroor beskik nie, aankla.
Daar was hierdie kraai wat vroeg in haar lewe reeds tot die slotsom gekom
het dat sy eintlik niks anders as net verbeeldingloos swart en eintlik sommer net doodeenvoudig skreeulelik is nie. Sy loop bekla toe in ‘n stadium haar lot by ‘n arend. Dié stel voor
dat sy vir haarself ‘n spul spoggerige vertoonvere by haar ander geveerde
vriende gaan afbedel. Die kraai het begeester daad by die arend se woord gevoeg
en so gou soos nou twee stertvere by die pou geleen gekry, iets uit ‘n ander vriendin
se kleurvolle vlerk, ook by duif en papegaai, ‘n donsie hier, ‘n borsveertjie
daar. En so aan en so voort, tot op die punt dat die kraai vir haarself sommer eksieperfeksie
en jollie seksie daaruit begin sien het. Vol van eiewaan het sy die ander voëls
een na die ander eers begin uitlag en toe glads links en regs onder hulle begin
uitskel. Hulle sit toe skoon opgeklits op hul beurt af na arend om aanklag teen
die grootpraterige kraai en haar ongepoetste gedrag in te bring. Arend se wyse
voorstel was dat elkeen sy vere maar terug moes neem om die kraai gestroop en
verneder te laat. Dis ook presies wat hulle toe gedoen het, en ook waarom die
kraai vandag nog kaal, verbeeldingloos vaal en eintlik sommer net gewoonweg lelik
is.