‘n Storie van ‘n jakkals en ‘n kraai wat ons
aanspoor om nie enige iemand wat ons straks net wil bedrieg, te vertrou nie.
Die kraai het van iewers vir hom ‘n wiggie kaas opgepik gekry
en sit toe met sy buit af na ‘n tak in ‘n hoë boom. ‘n Jakkals kom toe op hom af en loop al om en om die boom
terwyl hy ‘n plan probeer beraam om die kraai daarin ‘n streep te trek. “En wat
op deeske aarde het ons hier,” kom dit toe van die jakkals. “O, skone kraai,”
deklameer hy, “die elegante estetika van jou gebeente is voorwaar voortreflik,
terwyl jou gelaat jou kwalifiseer vir koning van die geveerdes. Had jy tog maar
net ‘n stem om daarmee saam te gaan, was jy die voorste van al die
gevleueldes.” Jakkals het hierdie dinge natuurlik net kwyt geraak om kraai in
‘n lokval in te lei. En kraai trap nie net daarin nie, hy storm sommer in: hy trek los met die allervreeslikste kras
kreet... en daar val die kaas uit sy bek uit. Van die gespog met sy stem, is hy
toe sy buit kwyt. Jakkals het die kaas summier gegryp en voet in die wind
geslaan met die volgende afskeidswoorde: “O, jou stomme kraai, jy het ‘n
voorwaar ‘n stem, maar daarmee saam allermins nie enige breins wat daarteen op kan
weeg nie.”
Wie hom steur aan die
mening van sy vyande sal seerkry.