Tuesday 16 July 2013

Die twee reisigers en die leeuwyfie langs die pad


‘n Man was saam met ‘n goeie vriend van hom te voet op reis deur die wildernis. Hy het veilig gevoel in die geselskap van sy reisgenoot omdat hy geweet het dat die twee van hulle, saam, enige gevaar wat oor hul pad kon kom, baas sal kan raak.Terwyl hulle nog so stap en dik stukke oor diep dinge gesels, staan ‘n leeuwyfie skielik, helder oordag, vlak voor hulle in die middel van die pad. Die vriend sny ‘n lyn na die naaste boom toe, gryp ‘n tak en sorg dat hy so gou moontlik bo kom, en bo bly. Die man bly op sy beurt stokstyf en skoon versteen van die skrik, in sy twee spore staan. Met die leeu reeds so naby aan hom dat hy haar asem kan ruik, slaan hy toe maar soos ‘n paal grondwaarts neer en maak of hy dood is. Die leeu kom, effe oorbluf deur dié ongewone gedrag, nog nader, steeds ywerig om haar tande en kloue in dié gerieflike prooi, wat homself so op ‘n skinkbord aanbied, te slaan. Met haar krom kloue draai sy die man om op sy rug. Hy is doodsbleek en yskoud – hy het inderdaad die laaste bietjie warmte wat daar in sy lyf was, skoon weggeskrik. Die leeu ruk en pluk en stamp en stoot aan die man, maar hy bly leweloos lê. Die enigste gevolgtrekking waartoe sy kan kom, is dat die man ‘n verrottende karkas is. Vir vrot ou aas sien sy wraggies nie kans nie - die hiënas kan dit maar kry, só desperaat of honger is sy nie. Ten spyte van so ‘n maklike porsie sagte vleiskos laat sy die man toe net so en stap rustig weg.  Stadig maar seker begin die man tekens van nuwe lewe toon, sy vriend kry homself so waar as wraggies ook losgeskeur van die boomstam waaraan hy ‘n rukkie gelede binne enkele oomblikke so stewig vasgegroei het. Met die skrik wat nog vlak in hulle sit, begin hulle gesels en kortvoorlank vra die een wat van effe so vol vrees die takke in is: “En watse gesprek het die dierasie met jou aangeknoop terwyl sy so al in jou gesig en om jou rittelende lyf was? Sy moes tog sekerlik nogal heelwat kwyt geraak het in die lang gesels wat sy daar op die grond met jou gehad het.” Die man antwoord toe:  “Sy het my inderdaad van belangrike advies voorsien, in dieselfde asem helaas ook van ‘n waardevolle opdrag wat ek nou maar een maal net nie kan vergeet nie: ‘moet tog nie haastig wees om jou vriendskap met daardie ander een daar bo in die boom te hervat nie, want netnou beland julle weer in die kloue van die een of ander wilder ongedierte nog as ek, en hoe dán gemaak as hy jou wéér ‘n keer net so op jou eie los?’”