Die boer het 'n sog, 'n bokooi en 'n skaapram op sy wa gelaai en met hulle afgesit dorp toe. Terwyl die donkie hulle trek, het die skaap en die bok gou hul lê gekry en rustig geraak. Hul chauffeur is egter gepla deur die sog wat letterlik soos 'n maer vark te kere gegaan het. Die donkie vra toe waarom op deeske aarde die sog nie kan stilbly soos die ander twee nie, maar die sog antwoord: “Die bokooi word aangery ter wille van haar melk, die skaap in belang van sy wol. En ek ry saam om net een rede wat vir my die verskil tussen lewe en dood is.”
Wat maar net weer eens bewys dat elke mens 'n goeie rede vir sy eie optrede het.
In die boek Die lewe van Esopus waarvan die oudste eksemplare waaroor ons vandag besit uit 100 nC dateer, vertel die Esopus in dié boek 'n ander rede waarom die skaap so stil is, die bok en die skaap is gewoond daaraan om deur die boer hanteer te word. Vandaar miskien die volgende weergawe van dieselfde fabel:
'n Speenvarkie is saam met ‘n Skaap en Bok in ‘n klipkraaltjie na aan die huis aangehou. Op ‘n mooi dag toe Boer die Varkie optel en van oraloor bevoel en bevat gaan die varkie, letterlik, soos ‘n maer vark te kere en sit die allervreeslikste keel op. “Wat is dit nou met jou?” wil Bok weet, “Boer hanteer my en Skaap gereeld.” “En ons gaan nie so te kere nie,” voeg Skaap by. “Maklik vir julle om te praat,” kom dit van die Varkie, “maar onthou, aan julle vat hy net ter wille van julle melk of wol, vat hy aan my, vat hy om te voel of hy my al kan slag.”
Alle illustrasies is deur Laura G Gibbs op Flickr toeganklik gemaak.