‘n Donkie, ontevrede oor sy huidige eienaar, ‘n kweker van kruie, wat hom kwansuis te min gee om te eet, het hom tot een van die gode gewend met die versoek dat hy van eienaar moet verwissel. Die god waarsku hom dat hy dit sal berou, maar toe die donkie vassteek soos net ‘n donkie kan doen, willig hy in en sien toe dat die donkie in die hande van ‘n teelmaker beland. Dit het die donkie nie lank geneem om te besef hy werk hier nie net nog harder as wat voorheen die geval was nie, maar dra ook aansienlik swaarder vragte. Spoedig is hy weer in die geselskap van sy god en dring aan op toewysing aan ‘n ander baas. Die god maak dit duidelik dat hierdie die laaste versoek is wat hy kan toestaan, maar beskik dit dat die donkie weer ‘n nuwe eienaar kry, hierdie keer ‘n leerlooier. Die donkie besef dadelik dat hy hier nou nóg slegter daaraan toe is as voorheen. Gedagtig ook aan sy nuwe eienaar se beroep is dit vir hom duidelik: “Had ek tog maar net omgekom van die honger by die eerste, of my dood gewerk en gedra in die hande van die ander, was dit vir my beter so, as om aan die gebrek aan enige genade van my huidige eienaar oorgelewer te wees. Die man gaan my net in die lewe uitbuit nie, dit lyk my hy sal selfs nog na my dood van my dienste gebruik maak as hy my leer gaan looi om te verkoop.”
Die oerteks verloop min of meer dieselfde met tog enkele verskille:
Daar was hierdie
donkie wat aan 'n tuinier behoort het. Omdat sy eienaar hom baie hard laat werk
het, maar min gegee het om te eet, het die donkie gebid om van baas te
verwissel. Die gode slaan ag en die donkie beland toe in die hande van 'n pottebakker.
Hierdie nuwe situasie is vir die donkie ondraaglik – die vragte wat hy nou moet
karwei is selfs nog swaarder as vantevore. Die donkie smeek weer by die gode en
hulle bewimpel dit dat die donkie vervolgens aan 'n leerlooier uitgelewer word.
Toe die donkie eers sien waarmee dié man hom besig hou, roep hy uit: “O, dit sou
vir hy beter gewees het om slawearbeid, totaal en al ondervoed, vir my vorige
meesters te lewer! Hier het ek nou opgeëindig op 'n plek waar ek eendag nie eers 'n ordentlike
begrafnis gaan kry as ek sterf nie!”
Hierdie storie wil wys dat arbeiders hul voormalige werkgewers
mis, die oomblik as hulle hul nuwe base van nader en beter leer ken het.