Die leeu beleef oomblikke van verwoede waansin. ‘n Bokkie sien hom van waar sy op veilige afstand tussen die bome na hom kyk en sê: “O, aarde, die gort is nou propperlie gaar! Noudat Leeu so opgeklits is, sal niks hom keer nie – en hy was al klaar meer as waarvoor ons opgewasse was, en dit nog voor hy van sy trollie afgeklim het.”
(Ja-ja, die leeu lyk soos 'n kietsiekat, maar hierdie teks, al het Babrius dit oorspronklik opgeteken, is nooit in een van die groot Latynse vertalings of in een van die vrye Engelse uitgawes opgeneem nie - ek kon gevolglik geen illustrasie opspoor nie. Dit lyk darem, so bietjie, of Leeu sy naels teen die grond krap - asof hy kwaad kan wees.)
Hierdie fabel laat my lekker giggel, seker maar omdat enige werknemer wat aan 'n baas se nukke en grille uitgelewer is, daarmee kan identifiseer.
Partykeer is outjies bang om Maandag vergadering toe te gaan, want hulle weet wat Vrydag, of oor die naweek gebeur het om die baas om te krap.
Of so hoor ek maar sê hulle.
Ek getuig nie self nie.